Dertien jaar gelede het Rian van Heerden se koerantartikel “D.O.M.I.N.E.E.” my aan die skryf gekry om my beroep en roeping te verdedig met ’n repliek getiteld: “Hoekom ek ’n dominee bly!”
Vandag is dit Tim du Plessis se onlangse Rapport-artikel: ‘Hoor hier: Ek glo nie meer!’ waarin hy uitwei oor ’n aantal leraars wat die afgelope tyd hulle reis na ongeloof geboekstaaf het.
In ’n gesprek oor bogenoemde met my Facebook-vriend en Nederlandse digter Alfred Valstar, skryf hy: “Hier valt veel over te zeggen. Waarschijnlijk speelt zich in Zuid-Afrika nu af wat hier (in Europa) al zo ‘n vijftig jaar aan de hand is. Nu zie ik soms een kentering: ongelovigen kiezen soms juist weer voor het geloof, lente na winter, maar het is nog niet voorbij.”
Oor dekonstruksie
Een van die gonswoorde in die Westers-Christelike wêreld die afgelope tyd, is die woord “dekonstruksie”. Dit beskryf die fenomeen of verskynsel waar gelowiges hulle geloof dekonstrueer, uitmekaar haal, heroorweeg en heel dikwels oorboord gooi.
Die dilemma vir dominees is uniek: Jou persoonlike geloof en jou beroep is intens inmekaargeweef. Die beroep kan nie sonder die geloof eerlik beoefen word nie.
Ek glo dominee-wees is ’n roeping. ’n Beroep ook ja, maar primêr ’n roeping. Geroep deur God om ’n VDM – Verbi Divini Minister – bedienaar van die goddelike Woord te wees. Wanneer jy na jou studies toegelaat word om in die “bediening” te staan, onderneem jy met jou handtekening om te hou by dit wat jou kerk of denominasie bely en glo. Geloof, sê van die ou geskrifte is gelyk aan kennis en vertroue. As daardie vertroue in God nie meer bestaan nie, word ’n dominee eintlik ’n huursoldaat. Dan is die eerbare ding om te doen om uit te tree.
In ’n November 2021-artikel skryf die Amerikaanse prediker Joshua Ryan Butler oor die vier oorsake, volgens sy ervaring, van dekonstruksie by predikante asook gewone lidmate.
Eerstens verduidelik hy hoe pynlike ervarings in die kerk lei tot die bevraagtekening van geloof. Die wonde en letsels wat ’n ongesonde kerkkultuur, ’n manipulerende geestelike leier of boelie- en ander gedrag laat, kan nie misgekyk word nie. Ongelukkig is daar diegene wat as gevolg van bogenoemde seerkry dikwels die baba met die badwater uitgooi.
Butler lys verder die begeerte om “in” te wees by die tydsgees, wat kan lei tot kompromieë en ontnugtering.
Die bekende teoloog Henri Nouwen skryf in sy boek “In the Name of Jesus” oor die drie versoekinge in die lewe van Christenleiers: “The temptation to be relevant, spectacular and powerful.”
Hy skryf oor hoe sy eie wegbeweeg vanaf die prestige van ’n akademiese loopbaan by Harvard na die L’Arche-gemeenskap vir gestremdes hom bewus gemaak het van “… how much my own thinking about Christian leadership had been affected by the desire to be relevant, the desire for popularity, and the desire for power.”
Hierdie versoekinge staan 100% teenoor Jesus se opdrag van “voetewas” en leierskap as opoffering en diens. Dan word wat Stephan Joubert noem die drie goor G’s van wêreldse sukses naamlik geboue, geld en getalle vir jou belangriker as ware sukses uit God se oogpunt.
Heidi Newby-Rose se opmerking op sosiale media na aanleiding van die huidige polemiek oor dominees, verwoord iets van haar belewenis dat sommige geestelike leiers toegegee het aan die versoekinge wat Nouwen lys: “Die ekshibisionisme wat die heimlike rede was waarom party van hulle dominees geword het moet nou ’n ander uitlaatklep vind, en hoe gaan hulle nou geld verdien?” In die ou dae is die dominee, dokter en skoolhoof gereken en beloon met status, respek (maar ook met die houe van skindertonge). Deesdae ding bogenoemdes egter mee met dominee en dokter Google. Dr Roedolf Botha noem onlangs aan my dat hy die huidige ontboeseming van ongeloof by dominees byna as ’n modegier ervaar waarmee saam vyf minute van roem op sensasionele wyse opgeëis word.
Ek glo dat aftrede se verlies aan ’n gehoor of “captive audience” vir baie dominees (asook ander ‘publieke figure’) ’n identiteitskrisis kan word.
John W Osborne skryf in die Canadian Journal of Counselling and Psychotherapy oor die sielkundige effek wat die oorgang van ’n beroepslewe na aftrede kan meebring. Hy lys onder andere gedeeltelike indentiteitsverwarring en -ontwrigting, besluitnemingsverlamming, verminderde selfvertroue asook ’n na-aftrede innerlike leemte en gevoel van doelloosheid. Dit laat my dink aan Johannes die Doper wat al sy Goddelike opdragte as padgelykmaker vir Jesus noukeurig nagekom het en dan moedeloos vanuit die tronk ’n boodskap aan Jesus stuur met ’n paar twyfelvrae.
Terug by Butler se dekonstruksieredes lys hy die begeerte by gelowiges om sonde te regverdig of “ontsondig”. Dink maar aan Paulus se tweede brief aan jong dominee Timoteus (hoofstuk 4 vers 10) waarin hy skryf: “Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat …”
Om te worstel
Die rede vir dekonstruksie wat egter die meeste resoneer by my is dié van oppervlakkige of swak lering en teologie (Theos = God, Logos = woord. Dus woorde oor God.)
In die sanggroep Prophet se satiriese “Popoliedjie” lewer hulle onder andere kritiek teen predikers met ’n oppervlakkige teologie:
“Al die kindertjies van Jesus is nie popo’s nie. Ek sit hier onder en ek wonder of jy weet, profeet.”
Te dikwels is die kerk die plek vir goedkoop antwoorde wat nie die worsteling van mense ernstig opneem nie. Die vrae van ons tyd moet soos deur die eeue van die kerkgeskiedenis diepgrondig aangespreek word met deernis en met intellektuele integriteit. Gelowige intellektuele reuse het hulle geloof behou, nie deur die lewensvrae te ontwyk nie, maar deur eerlik daardeur te worstel soos Jakob van ouds met die engel van Genesis 32. Sy worsteling het gelei tot sy naamsverandering na Israel, wat beteken “om te worstel met God”. Dink maar aan CS Lewis se worstelinge op papier in The problem of pain en A grief observed wat so treffend verfilm is in Richard Attenborough se Shadowlands.
‘n Dominee mag soms deur die trane in alle eerlikheid sê: “Ek weet nie. Ek verstaan nie.”
In Markus 9 is daar ’n aangrypende gesprek tussen Jesus en ’n pa wat Hom vra om sy seun te genees. Toe Jesus vir die man sê: “Vir die een wat glo, kan alles,” antwoord hy onmiddelik as volg: “Ek glo! Help my in my ongeloof.”
Die mees bekende Bybelvers oor geloof is sekerlik Hebreërs 11 vers 1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
In ’n “wys-my-die-bewyse”-wêreld is twyfel ’n wesenskenmerk van die menslike bestaan. Die opweeg van verskillende en verskeie bronne van kennis is elkeen se tameletjie.
Ook die dissipel Tomas het bewyse van Jesus se opstanding gesoek totdat hy uiteindelik volgens Johannes 20 uitgeroep het: “My Here en my God!” Dit nadat hy gesê het: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Jesus se woorde aan hom eggo steeds vandag ook vir ons in ’n tyd van dekonstruksie:
“Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
Steeds soekend
Ek identifiseer volledig met U2 se 1987 “geloofsbelydenis” wanneer hulle sing: “I still haven’t found what I’m looking for.” In die lied bely Bono “I believe in the Kingdom Come, then all the colours will bleed into one. You broke the bonds and you loosed the chains, carried the cross and my shame, you know I believe it.” Maar dan weerklink die refrein: “But I still haven’t found what I’m looking for.” Ek glo Jesus is die antwoord met ’n hoofletter “A”, maar daar is baie kleinletterantwoorde wat my steeds ontwyk.
Soos Israel se naam dit uitspel, is die worsteling met God en die lewe ’n gegewe vir alle mense. Daarom dat ek glo dat God almal – sondaars, soekers, skynheiliges – uitnooi om saam met sy kerk op reis te gaan. Die kerk behoort ’n plek te wees waar Sondaars en Soekers Anoniem kan vergader.
As iemand my sou vra waarom ek glo sou my antwoord wees: Ek glo en vertrou die getuienis oor God en Jesus gelewer deur Matteus, Markus, Lukas, Johannes en Paulus. Ek bewonder die ooggetuies wat op grond van hulle geloof (kennis en vertroue) bereid was om hulle lewe op te offer ter wille van die belydenis dat Jesus en nie die keiser nie, die Here, die opgestane Christus is. Ek glo die Goeie Nuus van Jesus is veel belangriker as enige dominee se verhaal van geloof of ongeloof. Indien die maagdelike geboorte en die letterlike, fisiese opstanding van Jesus vir jou te ongelooflik is, dan is jou god vir my te klein, te mensgemaak, te vasgevang in menslike kategorieë. God, die gans andere volgens die Switserse teoloog Karl Barth, is groter as ons begrip en verstand.
Reis saam
My raad aan my jonger self sal wees: Klim uit die kollig en draai die spreilig om, om op die Vader-Seun-Gees te skyn. Moenie weekliks preek vir die gemeente nie, nee, preek allereers vir jouself. Dit is wat my dominee-oupa Frikkie Kelber (1910-1990) elke Saterdagaand op sy knieë in sy studeerkamer gedoen het.
Lied 518 in die Liedboek van die kerk begin met die woorde:
“Voel dit soms of die Here te vér is? Twyfel jy soms aan God se bestaan?”
Tydens hierdie byeenkoms van Sondaars & Soekers Anoniem antwoord ek die lied se vraag eerlik: “Ja! Maar ek glo ook dat die Here met my saamloop. Here, help my in my ongeloof.”
Dankie aan elke kollega en gelowige wat sonder fanfare en die kollig getrou die Goeie Nuus van Jesus leef en deel. Mag ook hulle wat nie glo nie, ons liefde beleef en ons verskilmakende dade van liefde in die samelewing raaksien. Kom ons reis saam op die geloofspad.
- Francois Mulder is sedert 1995 predikant en is vanaf 2007 leraar in Blancogemeente, George.
