Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Dis ’n nuwe model wat bedink moet word, maar (die voorgestelde proses is die) beste waarmee die werkgroep na die vergadering kan kom,” het ds Francois Retief, uitvoerende amptenaar van die sinodale kantoor, tydens ’n bespreking aan afgevaardigdes soos hierdie gesê.

Oostelike Sinode: Plan vir nuwe streeksinode bedink

Oostelike Sinode het met ’n proses begin om ’n nuwe “model van kerkverband” te ontwerp – gemik daarop om lidmate te behou vir wie die Algemene Sinode (AS) se besluit oor selfdegeslagverhoudings “onaanvaarbaar” is.

Afgevaardigdes by die sitting van hierdie streeksinode, een van tien in die NG Kerk, het vandeesweek in Pretoria die bal aan die rol gesit om ’n nuwe streeksinode/kerk te bedink wat moontlik in 2024 formeel tot stand sal kom indien die AS by sy sitting in 2023 met ’n tweederdemeerderheid goedkeuring verleen.

Ds Johan Koen van Burgersfort (hier in die middel, met baard) het daarop gewys dat van die NG Kerk se ander streeksinodes ook soek na soortgelyke scenarios. Foto’s: Le Roux Schoeman

Lees ook: Fondsebeleid deurgetrap te midde van geldnood

Hierdie nuwe tuiste sal bestaan “in assosiasie met Oostelike Sinode”, volgens ’n vorderingsverslag. ’n Nuwe sinode sou bestaan uit leraars en lidmate by gemeentes in hierdie kerklike streek – van Pretoria tot by die Krugerwildtuin – wat “nie verder onder die sambreel van die NG Kerk se AS wil funksioneer nie maar tog nog in verband met Oostelike Sinode wil wees”.

“Dis ’n nuwe model wat bedink moet word, maar (die voorgestelde proses is die) beste waarmee die werkgroep na die vergadering kan kom,” het ds Francois Retief, uitvoerende amptenaar van die sinodale kantoor, laatmiddag op 2 Augustus tydens ’n bespreking gesê. “Hierdie is nie ’n haastige ding waar ’n mens net vingers klap en dan is als uitgepluis nie,” het Retief bygevoeg en die geskatte tydlyn, wat tot 2024 strek, uitgestip.

Die goedgekeurde proses behels onder meer “padberade” waartydens gesprek oor moontlikhede gevoer sal word met kerkrade en leraars asook ’n buitengewone sinodesitting (Feb 2023), ’n agendapunt by die Algemene Sinode Moderamen-ontmoeting in Maart 2023 met die oog op ’n formele aansoek by die Algemene Sinode-sitting in 2023.

Afgevaardigdes trek saam van 1-3 Augustus vir die 20ste streeksinodesitting van Oostelike Sinode. Afgeneem by Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie in Pretoria.

Kyk ook: Wie is jy en sê iets oor jou bediening

Dit kom sowat drie jaar na afgevaardigdes by die Algemene Sinode in 2019 ’n besluit aanvaar het wat ruimte bied vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Oostelike Sinode se vorderingsverslag lui: “(Die 2019-besluit) wat ruimte skep vir verskillende interpretasies van die Bybeltekste oor selfdegeslagverhoudinge is vir hierdie lidmate onaanvaarbaar.”

Ds Jim de Villiers van Witbank het gevra na die koste van die voorgestelde plan, met verwysing na padberade en nog ’n buitengewone streeksinode. De Villiers het ook gesê die ingesteldheid dat Oostelike Sinode ’n “tuiste” is vir gemeentes, maar dat hulle nie tuis voel onder die Algemene Sinode nie, herinner aan iemand wat sê: “Ons wil julle pêl wees, maar julle ander pêl wil ons niks van weet nie.” Hy wou ook weet wat sou gebeur indien die AS volgende jaar nie goedkeuring met ’n tweederdemeerderheid verleen nie.

Ds Johan Koen van Burgersfort het daarop gewys dat van die NG Kerk se ander streeksinodes ook soek na soortgelyke scenarios. “Hierdie is die eerste moontlike plan wat enige sinode nog op die tafel kon sit,” aldus Koen, “… wat moontlik ’n werkbare plan (kan wees) wat potensieel ’n model sou kon word vir ander sinodes.”

Prakties beteken dit uiteindelik dat die nuwe sinode sou werk soos gemeentes van die Afrikaanse Christelike Kerk in Nieu-Seeland, wat “in assosiasie staan” met die NG Kerk, met beroepbaarheid van leraars wat oor en weer erken word, volgens die verslag.

Twee aanbevelings is ten slotte via meerderheidstem aanvaar:

  • Die Sinode neem kennis van die verslag soos voorgehou.
  • Die Sinode gee goedkeuring vir die prosesvoorstel in 10.11 van die verslag (tydlyn 2022-2024).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top