Dr Tertius Erasmus van NG Gemeente Bronkhorstspruit is op die eerste dag van die 20ste streeksinodesitting by Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie in Pretoria as voorsitter van Oostelike Sinode se Sinodale Diensraad verkies om die leisels by ds Dirkie van der Spuy oor te neem.
Ds Maartje van der Westhuizen, van NG Elarduspark, is deur die sowat 214 afgevaardiges as ondervoorsitter verkies by die saamtrek wat van 1 tot 3 Augustus plaasvind en waar die beleid rondom fondse die eerste dag oorheers het.
Die NG Kerk se tweede grootste streeksinode (gemeet in lidmaattal) werk oor die drie dae heen met die tema “Hier is ons, stuur ons”. Van der Spuy se termyn is van vier tot ses jaar gerek deur die Covid-19-pandemie wat die ritmes van sinodesittings omgekrap het. Hy het in sy opening gesê die vergadering se fokus is dat afgevaardigdes teruggaan na hulle gemeentes met “visie van nuwe momentum en groei … nuutheid ná Covid en genesing ná Covid”.


Geldnood, kwynende lidmaattal by gemeentes en ’n skeut “gemeente-onrus” tel onder die uitdagings wat die afgelope ses jaar vir Oostelike Sinode se Sinodale Diensraad ingehou het. Dit blyk uit die verslag van die Sinodale Diensraad. Die Diensraad het gedurende die Covid-pandemie die “brawe besluit” geneem om aan gemeentes wat dit versoek ’n 50% korting in sinodale bydraes toe te staan, het ds Francois Retief, uitvoerende amptenaar van die sinodale kantoor, verduidelik. Dit het gelei tot ’n tekort in die sinodale begroting wat uit reserwefondse aangevul moes word. Sowat ’n derde van die sinodale fondse vanaf gemeentes word gebruik om die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) – ’n kerklike vennoot – te befonds. “Ek hoef u seker nie te herinner wat die geweldige impak is wat die CMR en hulle maatskaplike werkers in hierdie afgelope pandemietyd gehad het nie,” het Retief gesê.
Lees hier: Samewerking spreek hier Woord én broodnood aan
Die sinode verteenwoordig 83 gemeentes – groot en klein. Enersyds het ’n gemeente met sowat agt lidmate vanjaar uiteindelik bes gegee en deure gesluit. Andersyds het kerksondermure (KSM) meer as 13 000 lidmate, het Retief verduidelik. Sommige gemeentes het drie, vier predikante en ander is sonder enige predikant. Hierdie spektrum van gemeentegroottes blyk deel te wees van die uitdaging vir ’n gesprek oor die bydraes wat gemeentes via ringe aan die streek- en Algemene Sinode moet maak. 
Lees ook: Die Amalia-geval en die lot van krimpende gemeentes in die NG Kerk
“Ek het simpatie, ons het fondse nodig vir sinodale werk,” het een dominee vanaf die vloer laat hoor tydens die middag se bespreking, “… maar weet u hoe voel dit vir ’n gemeente om nie meer ’n dominee te kan bekostig nie? Dit is gemeentes wat voos is van fondsinsamelings … Maar wat ek vandag hier hoor is ’n simpatieke hart,” het hy hervat tydens die gesprek oor die sinode se fondsebeleid en ’n nuwe model vir Bydraes vir Gesamentlike Bediening.
Ander gesprekspunte in die verslag sluit die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings in. By ’n “spesiale” sinodevergadering verlede November is ’n besluit geneem dat hierdie sinodale streek nié die band met die Algemene Sinode gaan los maak nie. ’n Spesiale taakspan sal tydens vandeesweek se sinodesitting ’n verslag voorhou.
- Hou Kerkbode dop vir verdere beriggewing hieroor.
