Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Van links: Ermelo-Oos Gemeente het hulle kerksaal omskep in ’n plek waar die dorp se haweloses kan aanklop vir meer as ’n bord kos, naamlik ’n kans om weer ’n lewe te kan bou. Heel regs oorhandig ds André Vermeulen hulle saal se sleutels aan Sonja van Niekerk, projekbestuurder van die Lighuis van Hoop. Foto’s: verskaf

Samewerking spreek hier Woord- én broodnood aan

Haweloses op Ermelo in Mpumalanga het sedert 1 September ’n ‘herberg’ dank­sy samewerking tussen die NG gemeente Ermelo-Oos en plaaslike rolspelers. En die soge­naamde Lighuis vir Hoop is ’n “antwoord op baie gebede”, het Sonja van Niekerk, die projekbestuurder, aan HELÉNE MEISSENHEIMER vertel.


Die nood op hulle dorp is groot en sigbaar groeiend. Al meer mense kom vra daagliks vir kos by hulle kerkkantoor, sê Van Niekerk wat reeds groot verantwoordelikhede op haar skouers dra met nóg drie dorpe en twee kinderhuise onder haar toesig as maatskaplike werk-supervisor in diens van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR).

Die grendeltyd verlede jaar met die pandemie het die behoeftes van mense wat op straat lewe nog meer duidelik na vore laat kom. ’n Verwaarloosde sportgebou van die stadsraad kon vir ses maande gedurende die krisistyd ingerig word as ’n tydelike skuilplek vir hawe­loses, maar ’n beter fasiliteit was nodig vir ’n meer volhoubare oplossing.

LEES OOK: Koronavirus bring ook groot besluite vir dié wat haweloses bedien

Verskeie gebedsgroepe op die dorp het vir ’n ‘plek’ gebid. In hierdie tyd kry sy ’n oproep van ds André Vermeulen van Ermelo-Oos-gemeente wat sê dat hy vir haar “iets wil wys” by hulle kerk. Dit is toe ’n aanbod dat ’n gedeelte van hulle kerksaal, wat al vir jare nie gebruik word nie, ingerig kan word in ’n ‘drop in centre’ waar haweloses om hulp kan aanklop.

“Daar is oomblikke wat ek as maatskaplike werker beleef het dat ek ‘op heilige grond’ staan … hierdie was só ’n oomblik … die aanbod van die ‘plek’ aan CMR om ‘iets’ vir die gemeenskap te doen,” sê die maatskaplike werker vir wie hierdie kerksaal soos die herberg is waarheen die Samaritaan die gewonde man geneem het in Jesus se gelykenis.

Die kerkgeboue van Ermelo-Oos is in die sakekern geleë – midde-in die omliggende verval met as bure “huise van prostitusie en dwelmhandel” wat in die laaste ses jaar daar opgeskiet het. Soos Vermeulen dit stel, as kerk het hulle besef hulle gaan ’n besluit moet neem – om aan te hou veg daarteen of dit te sien as ’n geleentheid om gebroke mense met hoop te bedien.

“Ons is baie opgewonde om te sien hoe die Here die Woord- en broodnood deur middel van die Lighuis van Hoop gaan aanspreek. Ons glo dit is deel van ons gemeente se roeping om ook ’n verskil te maak in ons gemeenskap op ’n tasbare manier,” sê die leraar van die gemeente.

LEES OOK: Brief uit Pretoria: Is ons harteloss teenoor haweloses?

Met die ‘ja-woord’ in die sak het vrywilligers uit die gemeente in Julie aan die werk gespring. ’n Gedeelte van die kerksaal is afgeskort, storte is ingesit en ’n doelmatige waskamer en kombuis is aangebou. Ook is ’n afdak uitgebou wat kan dien as aktiwiteitsvertrek waar etes bedien kan word, sessies oor lewensvaardighede aangebied en maatskaplike werkdienste gelewer kan word. Daar is ook ’n stoorkamer en kantoor ingerig.

Intussen het Van Niekerk ook gewoe­ker om vennootskappe te sluit met die plaaslike munisipaliteit, besighede, die polisie en verskeie staatsdepartemente.

Op 1 September, al was die afron­ding van die bouwerk nog nie 100% voltooi nie, kon die eerste mense by die sentrum aanklop vir ’n maaltyd en maatskaplike hulp om weer op hulle voete te kan kom hetsy deur inskakeling by rehabilitasie of werk by ’n gemeenskapsontwikkelingsprojek.

Die amptelike opening word beplan vir 15 Oktober. Die hoop is dat die sentrum later ’n oornagskuiling ook kan bied.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top