Dit is met groot hartseer dat ons verneem het dat ds Awie Erxleben (68) Donderdagoggend, 4 Augustus aan ’n hartaanval oorlede is.
Albrecht Willem Erxleben, beter bekend as Awie, is in 1980 gelegitimeer en in 1982 georden as leraar toe hy begin werk het as weermagkapelaan, gekoppel aan die gemeentes Meyerspark, Middelburg (Transvaal), Walvisbaai-Meersig en Montclair. In 1996 aanvaar hy ’n beroep na NG Gemeente Umhlanga waar hy dien as leraar tot met sy emeritaat in 2019.
Ds. Awie was nie alleen ’n geliefde leraar nie, maar ook ’n sportman om mee rekening te hou. Hy het die Comrades-ultramaraton alreeds 19 keer voltooi, en was fiks en gereed en hy het uitgesien na sy 20ste Comrades oor drie weke. Hy het ’n staaltjie vertel uit sy vroeë weermagdae, toe die Boesmans hom uitgedaag het vir ’n wedloop in die woestyn. Hy het stof in hulle oë gehardloop, en daarmee ál hulle respek verdien. Boonop het dit vir hom deure oopgemaak om die evangelie aan hulle uit te dra!
Ds Awie was ook ’n briljante teoloog, en sy Bybelskool is op meesterlike wyse aangebied. Elkeen wat dit bygewoon het, het met nuwe oë na die Bybel gekyk.
Prof Barry Tolmay skryf só oor Awie: “Dis só hartseer! Hy was ’n fantastiese sportman, fiks en sterk. Hy het goeie kennis van die Woord gehad en dit op ’n meesterlike wyse gedeel. Hy het goeie werk in NG Gemeente Umhlanga asook as kapelaan in die weermag gedoen.”
Sy vrou, Elfrede Erxleben vertel dat hy Maandag nog 20 km gehardloop het en Woensdag 30 km fiets gery het.
Awie het ook gereeld dagstukkies geskryf en die wêreld ingestuur. Sy laaste dagstukkie (sien onder) het uit Klaagliedere gekom. Die tema was so gepas: ‘Ek is stukkend … Maar daar is hoop!’
Ds Theo Human skryf: “Ons is saam geskok oor sy ontydige afsterwe. Hy was ’n Godsman wat die Here kragtig in die destydse weermag, die gemeente in Umhlanga vir wie hy baie lief was en die ring gedien het. Sy wyse leiding van die samekomste in ons wandel in die Woord as verteenwoordigers van gemeentes, sal my altyd bybly. Telkens die regte Woord op die regte tyd. Ons bid vir Elfrede, hulle kinders, familie, gemeente en ring.”
- Louis Nel is die kommunikasiebeampte vir die Sinode van KwaZulu-Natal.
Ek is stukkend … Maar daar is hoop!
Die boek Klaagliedere bestaan uit gedigte in die vorm van liedere. Die boek handel oor die verskriklike dinge wat die volk deurgemaak het toe Jerusalem beleër is, verwoes is en ’n groot deel van die bevolking in ballingskap weggevoer is. Die skrywers en sangers van die liedere was getuies van die treurige toestand waarin die stad met sy verwoeste mure en die puinhoop van die tempel verkeer het.
Luister hoe word hulle swaarkry verwoord in sommige van die liedere: (1:1) “Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was! Sy het soos ’n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies. Sy wat heerskappy gevoer het oor ander moet nou dwangarbeid doen. Onbedaarlik huil sy die hele nag, die trane loop oor haar wange. (1:3-4) Juda se mense is weggevoer, hulle kry swaar, hulle is slawe … Die paaie na Sion toe treur omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte is verlate, haar priesters sug, haar jong vroue is bedroef, sy het dit bitter. (1:15-16) In ’n parskuip het die Here vir Juda fyngetrap. Dit is daarom dat ek so huil, dat die trane uit my oë stroom … (2:11) My oë is gedaan van die huil, dit brand in my, my moed is gebreek, want my volk is platgeslaan; kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad …”
Klaagliedere praat nie net oor lyding nie, maar wil ook vir ons sê dat God betrokke is by ons lyding, dat ons oor ons swaarkry mag en moet praat, en dat daar hoop is te midde van die diepste lyding.
So lees ons in 3:21-24 “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom … (3:31) Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot.”
Die gedagte aan die Here se trou, medelye en betroubaarheid het hoop gebring waar geen hoop meer was nie. Die liedere leer dat twyfel deel van ons geloofsreis is. Josuttis sê: “Ook twyfel is ’n daad van geloof: om oor die afwesigheid van God te treur. Om te kla dat ons nie God se teenwoordigheid beleef nie.”
As Christene kyk ons deur die bril van die NT na lyding en swaarkry. Christus het gekom en totaal onverdiend gely. Hy het ons lyding op Hom geneem. Die lydende Jesus maak ons lyding draaglik en maak dit vir ons moontlik dat ons kan hoop te midde van swaarkry.
Mag jy in jou nood en swaarkry God se teenwoordigheid intens beleef.
Ds Awie Erxleben
(Hierdie was die laaste oordenking uit ds Awie se pen wat in die NG Kerk KwaZulu-Natal se sinodale nuusbrief Posduif verskyn het. Louis Nel)
