Pierre du Plessis het destyds mode-ontwerp geswot, later vir ’n tyd lank in die advertensiebedryf gewerk en onder andere ’n alternatiewe geloofsgemeenskap genaamd 3rdPlace gehelp vestig in Pretoria. Hy was ook al meer as een keer ’n spreker by TEDx en hy is ’n skrywer … om net ’n paar goed te noem.
Sy jongste boek, Het ek my geloof verloor?, het pas verskyn. Dit is sy vierde boek. In 2017 het Pierre die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk in ’n amptelike taal van Suid-Afrika gewen vir Jesus ruik na mirre en stof, wat deur Lux Verbi uitgegee is.
Waarom die nuwe boek? vra ek. Dit is asof daar skielik ’n klomp boeke verskyn deur dominees wat sê hulle glo nie meer nie en selfs verskoning vra dat hulle mense mislei het.
Pierre se boek het egter ’n heel ander aanslag.
“Die afgelope paar jaar het ek gereeld met mense gesels wat vertel het dat hulle hulle geloof verloor het. Ons moet die mense se pyn hoor,” sê Pierre en vertel van sy eie worsteling met depressie en sy eie soeke na geloof. “Dit is nie ’n boek vol antwoorde nie, dit is eerder ’n tipe gids op ons geloofsreis, dit probeer wys dat daar ander maniere is om te dink oor geloof, God en godsdiens.”
In die laaste hoofstuk van Het ek my geloof verloor? vertel hy waarom hy steeds glo. Hy sê hy het onder andere ontdek dat die waarheid ’n persoon is.
Pierre is gebore op Fort Beaufort, maar het in Pretoria grootgeword. Hy en sy gesin woon vandag in Boston, Bellville. “Dis ’n ouerige woongebied vol jong gesinne, met lekker skole. Almal stap oral heen,” sê hy.
Pierre is die leraar by InVia Kaapstad, ’n geloofsgemeenskap wat nou saamwerk met NG Rondebosch om ’n sentrum vir kontemplatiewe spiritualiteit te vestig. Hy werk ook vir Coachbit, waar hy betrokke is by die ontwikkeling van hulle leerplan. “Ons doen life en studyskill coaching vir kinders en studente,” verduidelik hy.
Ek vra hom oor sy kinderjare. “Ek was maar altyd die anderster een op skool, het meer belanggestel in kuns en kuier as in rugby of akademie. Het amper nooit vir ’n toets geleer nie, en omtrent nooit boeke in my tas gehad nie,” sê hy en vertel dat sy ma ’n groot effek gehad het op sy geloofsgroei.
Ons gesels oor die ander mense wat ’n invloed gehad het op sy lewe. “My vrou speel ’n groot rol in my lewe. Sy herinner my aan my identiteit in Jesus. En sy raas met my wanneer ek oorreageer,” sê Pierre.
Hy vertel hoe hy destyds in 2003 na ’n lang worsteling uiteindelik by die kerk en die Here uitgekom het. Stephan Joubert is een van die mense wat baie moeite met hom gedoen het. “Hy was en is steeds ’n groot invloed in my lewe,” sê Pierre.
Stephan is ook die een wat hom later sou voorstel aan Leonard Sweet. “Hy is seker een van my gunsteling-mense in die wêreld. Ek het sy boeke verslind en sy denke en skryfwerk het ’n groot invloed op hoe ek kerk vandag verstaan,” sê Pierre oor Sweet.
Pierre was destyds by Unisa en studeer tans nagraads by Stellenbosch. “Ek sal graag eendag wil klasgee” sê hy. “Ek is maar nog altyd ’n bietjie van ’n denker en kwasi-filosofie-teologie pas my persoonlikheid soos ’n handskoen.”
Kreatiwiteit is een van Pierre se grootste gawes en hy het ontdek dat die kerk ’n wonderlike omgewing kan wees om hierdie gawe uit te leef.
Wat pla hom van die kerk vandag?
“Wanneer mense die woord met die Woord verwar.”
Watter rol behoort die kerk te speel in ’n land soos dié en ’n tyd soos hierdie?
“Die kerk moet ’n plek skep waar mense kan behoort,” sê Pierre.
Hy was destyds een van die stigters van 3rdPlace, ’n kreatiewe geloofsgemeenskap wat uniek was in die kerklandskap in Pretoria. Sy grootste motivering was ’n kunstenaar wat hy leer ken het. Die ou was eksentriek, diep geestelik en soekend, en Pierre het geweet hy sou nooit tuis kon voel in die tradisionele kerkomgewing nie.
Met die verskyning van sy nuwe boek is dit duidelik dat dit steeds Pierre se passie is.
Hy het ’n passie vir Jesus en die passie van Jesus. In sy eerste boek, Jesus ruik na mirre en stof, skryf hy: “Wie Jesus is, is sekerlik ’n belangrike vraag vir ons almal. Belangriker egter is ons antwoord. Wat doen ek met my lewe as gevolg van my kennis van wie Jesus is, van wie God is? Wat is my reaksie? Watter tipe mens is ek dan, of moet ek dan word? As ek na Jesus kyk, hoe lyk die lewe dan, hoe sien ek die wêreld?”
Die vrae waarmee mense worstel wat voel dat hulle hulle geloof verloor het, is vir Pierre belangrik, nie nét omdat hy omgee en self weet hoe dit voel nie, maar omdat hy vir Jesus volg – en jy kan nie jou lewe vir Jesus gee sonder om dit ook vir die wêreld te gee nie.
- Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-Jeuggemeenskappe.