Die NG Gemeente Skuilkrans in samewerking met Dames Visieplus se tradisie om Vrouedag saam met vroue van Mamelodi, Eersterust en ander dele van Pretoria te vier het vanjaar mondig geword. Isabel Ballot was daar en vertel wat gebeur het.
Hierdie jaar het 130 vroue op 20 Augustus onder die tema ‘Vriendskap’ by die kerksaal van die Skuilkrans-gemeente so saamgekom.
Ds Yolandé Giliomee het die oggend geopen met ’n boodskap uit Eksodus 17. Die bekende storie waar Aäron en Hur saam Moses se arms omhoog gehou het terwyl die Israeliete in ’n oorlogsgeveg was. En God het toe die oorwinning gegee.
Sy het gesê ons moet diegene wat die Here op ons pad plaas ondersteun. Daarna het sy gevra dat ons met mekaar ons stories deel.
Die hoofspreker was Chris Sealie, skoolhoof by Nicolaas Smit in Hercules en stigterslid van ’n onafhanklike hulporganisasie Kairos ‘Verander lewens’. Vyf jong vroue het getuig hoe hulle deur hierdie organisasie bygestaan is tydens moeilike omstandighede.
Hulle stories het Fran Vorster, ’n lektor by Reamogeleng, ’n skool vir volwasse geletterdheid in Silverton diep geraak. “Vandag se bevoorregte kinders het nie ’n benul wat swaarkry, hulp en deurdruk beteken nie,” het sy gesê.
Toe is die bekende musikant Nothembi Mkwebane aan die beurt met haar danspassies, sang en fluitdeuntjies. Sy was bekend as die ‘Koningin van Ndebelemusiek’ tussen 1984 en 2001 en het vele musiektoekennings al ontvang. Meer onlangs het sy saam met Coenie de Villiers en ander Suid-Afrikaners in Dubai opgetree.
Die oggend is afgesluit deur Nkosi Sikelel iAfrika met oorgawe saam te sing voor heerlik rondom eet- en drinkgoed verder gekuier is.
Oor hulle Vrouedag se mondigwording sê Bessie Keun, projekkoördineerder: “Ons bied Vrouedag nou al 21 jaar aan. Dit gaan oor vriendskappe wat oor kultuurgrense heen gesluit word. Ons glo lewens verander wanneer dit gebeur.”
- Isabel Ballot is ’n onderwyser by Reamogeleng, skool vir volwasse geletterdheid, wat graag skryf en tans besig is met haar eerste boek.
