Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Laaste woorde

Ons het al in hierdie ruimte verwys na die geval van die Bolandse kerkgebou waarvan die letters teen die muur losgekom het en toe deur swaartekrag van die “Christen Familiekerk” na die “Chris en Familiekerk” herdoop is … Daardie soort kleiner-maak en intrek na die bekende kring eerder as oopmaak en uitreik na die vreemde is natuurlik tweede natuur vir die meeste van ons – nie net vir Chris en sy gesinnetjie nie. In ons eie lewe en in groepverband, in die werkplek asook in die sfeer van maatskaplike take en aanbiddingsplekke.

Dit is hoekom “groupthink” gedy in organisasies en hoekom eggokamers op sosiale media manifesteer (met algoritmiese aanmoediging). Dit is ook hoekom dit by sommige plekke aanvoelbaar ongemaklik is om eenvoudig “anders” op te daag. Die geweld van uitsluiting lê in die fynskrif onder die woord “Welkom”.

Lees ook: ‘Wyk Zero’

Daar is baie dinge aan ’t gebeur binne en met die NG Kerk, maar een daarvan is ’n merkwaardige demografiese skuif binne die werkmag. Rigting: Aftrede! Die groep dominees wat destyds in die dominee-“boom” gaan teologie studeer het, maak nou klaar. In die volgende vyf jaar gaan daar 329 predikante wat aftree-ouderdom bereik die bediening verlaat, berig dr Andrew Kok van die kerkargief in Kerkbode oor die uitdaging rondom kennisbehoud.

Sowat 1 519 van die kerk se 2 781 gelegitimeerde predikante het emeritusstatus. Soos daardie ouer mense hulle ampte verlaat, wonder ’n mens wat hulle geleer het, tot watter insigte hulle oor hulleself, die NG Kerk, Suid-Afrika en hulle geloof gekom het. ’n Argiefprojek wat hoop om te “leer by verlaters” word nou beplan tesame met Kerkbode. ’n Mens vermoed daar is ryke stof in daardie verhale, soos hierdie dominees een na die ander uitbeweeg, na “buite”.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top