Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Wynand Breytenbach. Foto: Verskaf.

Met Wynand Breytenbach is daar nie ’n vervelige oomblik nie

Wynand Breytenbach is predikant met opdrag jeug en uitreik, sy Facebookblad sê: “Storyteller at Durbanville Gemeente”. Sy eie storie is vol intriges, verwondering en nuwe ontdekkings, allermins ’n vervelige verhaal.

“Ek onthou daai Maandagoggend in Groenvallei goed. Ek het wakkergeskrik en eers gedink ek is laat vir skool. My ma het met rooi oë gesê ek gaan by die huis bly, iemand in ons familie is dood. Ek hardloop toe na my ouma toe, want sy is natuurlik die oudste en ou mense gaan mos eerste dood, maar toe kyk sy my ook met sulke rooi oë aan,” vertel Wynand. Hy was agt jaar oud toe sy pa skielik oorlede is in ’n motorongeluk.

Dit was verreweg die grootste draaipunt in sy lewe, maar daar was ook ander.

Hy vertel hoe ’n onbekende kerktannie op ’n dag, toe dit finansieel erg swaar gegaan het, by hulle deur kom aanklop het met ’n koevert in haar hand. Binne in die koevert was genoeg geld vir die maand se huur. “Sy het ook twee Pick n Pay-sakke by haar gehad met onder andere Weetbix en onderarmsmeer in. Ek kon regtig nie glo dat ’n “geestelike God” sou wou omsien na my materialistiese behoeftes nie! Ek het daai dag geweet wie ek wil wees,” sê hy toe ek hom vra wanneer hy die idee begin kry het om ’n dominee te word.

Wynand sê hy het daardie dag besluit dat hy vir die res van sy lewe vir mense wou doen wat daai kerktannie vir hulle gesin gedoen het.
En dit is presies wat gebeur het. “Ek onthou die dag so goed toe ék vir die eerste keer aan iemand se deur klop met ’n koevert vol cash en twee Pick n Pay-sakke in my hand en ’n klein seuntjie die deur oopmaak!”
’n Klomp mense het ’n rol gespeel in Wynand se lewe. Daar is sy ma, die matriekseun wat hom die eerste keer kerk toe genooi het, anonieme mense in die gemeente wat hom geborg het om teologie te gaan swot en ’n hele paar dominees om net ’n paar te noem.

PODSENDING: Luister HIER na “Moeilikheid is ons besigheid!” met Jaco Strydom

Hy vertel van ’n uitreik wat ’n draaipunt in sy lewe was: “Dit was my eerste uitreik na Mosambiek in my derde jaar. Ek was al op baie ‘uitreike’ op skool voor dit, maar eintlik net agter meisies aan, maar hierdie keer was dit ’n massiewe ontmoeting met mense wat vir God volg met waagmoed. Daar in Chimoio se bos het ek sendelinge ontmoet wat nie vir God êrens heen wou neem nie, maar vir God daar ontmoet het tussen die mense.”

Behalwe vir gemeentewerk is hy ook betrokke by die plaaslike hoërskool en die kinderhuis langs die kerk, een van die dinge waarvoor hy ’n groot passie het.

“Die projek waarby ek tans betrokke is wat my nou die meeste opgewonde maak is die ontwikkeling van ’n tegniese skool in Fisantekraal. Dit gaan mal wees. Ons bou die skool in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement wat gaan fokus op landbou-, akademiese en tegniese opleiding,” sê hy.

Wynand is duidelik ’n besige man en ’n mens wonder of daar ooit ’n vervelige oomblik saam met hom is. Behalwe vir al die ander dinge, is hy byvoorbeeld ook besig met sy PhD by Radboud-Universiteit in Nederland en Stellenbosch.

Wat gee hom energie?

“Om te kyk hoe die Springbokke speel, te travel, kids saam op ’n reis te neem na die Transkei en om saam met mense te kuier,” sê hy.

Wynand is ook mal oor musiek, hy speel self kitaar en skryf ook graag gedigte.

’n Paar jaar gelede is hy deur ’n egskeiding, ons gesels oor die lewenslesse wat ’n mens in die donker leer. “Ek dink die egskeiding het my meer geleer van myself as enigiemand anders. Ek het geleer dit is moeiliker om ’n Christen te wees in sulke tye as wat dit lyk! Maar indien jy dit wel regkry, dit regkry ten minste nou en dan, soos een op te tree, werk dit. Jesus was nie ’n verkoopsagent met ’n agenda nie. Sy way of life werk regtig. Al lyk dit nie heeltemal soos wat ek dit sou wou hê nie,” sê hy.

Hoe lyk sy toekomsdrome?

“Dude. Ek wil net my studies klaarmaak sodat ek ’n dominee kan wees. Ek love my werk. Ek love die kerk en ek love Afrika. Ek het die diepste behoefte om onder iemand se vlerk in te klim. My droom is dat ek myself vir iets kan gee, dis hoekom hierdie skool so massive is vir my. Dit voel vir my soos iets waarvoor ek myself kan gee.”

Wynand is baie lief vir die kerk, veral die mense van Durbanville waar hy dominee is. Maar daar is ook dinge, veral in die groter kerkomgewing, wat hom soms frustreer. Soos wanneer kerkmense godsdienstige reëls verkies bo mense. Jesus het sy lewe gegee vir mense, nie ’n godsdiensinstelling nie.

“En dit pla my dat té veel Christene in hierdie land nie hoopvol is en iets probeer doen aan die nood nie,” sê hy. “Mense sal eerder geld gee as hulle hande, eerder bid as om te loop en kontak te maak met ’n persoon op die straat.”

Hy glo die kerk werk op haar heel beste wanneer sy luister na die mense in die breër samelewing. “Ek dink ons geskenk is die fasilitering van ontmoetings tussen mense oor grense heen. Ons kry dit soms reg en soms nie. Die kerk kan ’n brug wees waarop mense na mekaar toe loop,” sê Wynand.

Dit lyk of al meer dominees na vore kom wat sê hulle het hulle geloof verloor, waarom volg jy steeds vir Jesus? vra ek.

“Ek het nie ’n keuse nie, dude! Dit voel so ’n bietjie asof Jesus my agtervolg. Hy los my net nie uit nie. Dis baie dae horrible om te dink ek moet mense liefhê van wie ek niks hou nie, maar dis bevrydend om te weet dat iemand my lief het al hou hy nie altyd van wat ek doen nie.”

Ds Jaco Strydom is betrokke by die Echo-Jeugbedieninge en die NG Gemeente Villieria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top