Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Stories oor diep geloofsvrae in die lewe van jonges


Toe als groen was deur An-Mari Do Carmo

Uitgewer: LUCA, 2022

Resensent: Rethie van Niekerk

 

Ek begin Toe als groen was uit plig lees, sonder om veel te verwag. Dit sal immers goed wees as Kerkbode kort voor Kersfees ’n jeugroman of twee resenseer.

Voor ek my kry het die verhaal van Marné, die 18-jarige meisie wat uit ’n sekte in KZN ontsnap, my ingetrek en meegesleur. Hierdie boek, gebaseer op ware gebeure, verdien wyd erkenning. Dit is hoog op my lysie vir enige moontlike pryskategorie waarvoor dit in aanmerking mag kom.

Die manier waarop eerlike, diep geloofsvrae soomloos verweef word met die lewe van tieners – musiek, grimering, mooi klere en jong liefde – sonder om vir een oomblik dweperig of prekerig te wees, is briljant. Die vrae oor reg en verkeerd word nooit oppervlakkig of wetties afgemaak nie. Die harde realiteite van kinders se lewe, sou dalk ’n waarskuwing aan die begin van die boek kon regverdig.

Tieners behoort hierdie lekkerlees-jeugroman te geniet. Volwassenes wat ook soms nog letsels dra van ’n oordrewe wettiese opvoeding, sal waarskynlik self by die karakters se reis kan leer. Die saak van die klakkelose ondersteuning van ’n sendingstasie – en die ignoreer van sagter, magtelose stemme – verdien dat ons nog lank stilstaan.

Hierdie een beveel ek met vrymoedigheid en passie aan.

Beskikbaar by LAPA.

 


Jy handle dit net deur Eleanor Lombard

Uitgewer: LUCA, 2022

Resensent: Rethie van Niekerk

Jy handle dit net is die verhaal van Drikus (’n tienerseun wat niks hou van verloor nie) en sy vriendskap met ’n straatkind, Donovan. Deur die twee se vriendskap word Drikus gevorm.

Donovan se lewe word met deernis, respek en eerlikheid uitgebeeld. Hy bly egter ’n ondersteunende karakter in Drikus se verhaal.

Jy handle dit net is nie ’n fantasie nie. Die gebroke realiteite van die lewe laat jou binneste met ’n hol kol. Tog lees die storie lekker. Jong tieners sal hulle kan inleef daarin. Ouers sal moet – soos met alles wat hulle kinders kyk, luister en lees – gereed wees om gesprek te voer.

Beskikbaar by LAPA.

 


Hoeveel tande het ’n engel? deur Jan Vermeulen

Uitgewer: LUCA, 2022

Resensent: Rethie van Niekerk

Hoeveel tande het ’n engel? is die verhaal van die veertienjarige Alex en sy vriendskap met Agapé-Ann. Albei die tieners het beenkanker. Terwyl Alex worstel met pyn en verlies, leer hy van geloof, engele en liefde.

Hierdie is ’n swaar boek. Die spiritualiteit is dié van vere en ramshorings. Tog het ek gehou van die manier waarop die Bybel gebruik word, die eerlikheid oor pyn en verlies, en die humor. ’n Boeiende lees.

Beskikbaar by LAPA.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.