Gereelde luisteraars na RSG se “Sterre en planete” ken Willie Koorts as iemand wat gemaklik en kundig oor die buitenste ruimte kan gesels. Jy kan hom ook op ’n Sondag by die klankstelsel van sy tuisgemeente sien, die NG Moederkerk Wellington, waar hy dié liefdesdiens verrig, skryf Engela Duvenage.
Willie Koorts onthou nog die aand toe die hemelruim hom die eerste keer werklik aangegryp het, in die laat 1980’s by die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) se sterrewag, 18 km buite Sutherland, Suid-Afrika se nie-amptelike sterrekyk-hoofstad.
Dit was gedurende die eerste drie jaar van sy nou reeds 35 jaar-loopbaan as hoofnavorsingstegnikus van die SAAO se ingenieurspan. In daardie stadium het Willie en sy vrou Rieks by die sterrewag gewoon.
Soos dit meestal die geval is, het die tegniese span hul take in die loop van die dag voltooi, terwyl die sterrekundiges – uit die aard van hul werk en die toerusting wat hulle gebruik – eers ná donker die verskillende ligteleskope begin gebruik het.
Daardie spesiale nag is Willie ingeroep om ’n teleskoop te help herstel. Ná die herstelwerk raak Willie en die sterrekundige-aan-diens aan ’t gesels, en dié nooi hom om na Saturnus deur sy teleskoop te loer. Danksy die talle ringe om hierdie planeet is dit maklik uitkenbaar.

Willie vertel: “Dit het gevoel asof ek letterlik daaraan kon vat. Jy sien hom so driedimensioneel, danksy Sutherland se mooi stabiele atmosfeer.”
’n Loopbaan
Kort daarna het ’n ander sterrekundige, wyle Drummond Laing, aan Willie sy eerste teleskoop gegee. “Dié ding was in ’n vreeslike toestand, en ek het dit toe reggemaak. Dis ook seker hoe my liefde om teleskope te bou, begin het. Ek is deesdae ook ’n ATM, ’n ‘amateur telescope maker’, en ek hou van satelliete jag.
“Ek was destyds besig met diploma-studies in datametrie, en het twee sterrekunde-modules by die kursus gevoeg, sommer vir die lekkerte. Dit het my ’n goeie grondslag gegee vir, byvoorbeeld, hoe teleskope gemik word, die koördinaatstelsels wat gebruik word, en sterretyd. En die geskiedenis van sterrekunde, van Copernicus se dae af.”
Willie het in 1975 aan Hoërskool Touwsrivier, nie te ver van Sutherland af nie, gematrikuleer. Naas die diploma het hy ook kwalifikasies aan die destydse Kaapse Technikon verwerf.
Ná drie jaar op Sutherland het die SAAO-hoofkwartier in Observatory in Kaapstad Willie se werkplek geword. Daar help hy om nuwe toerusting soos kontrolestelsels en instrumentasie vir teleskope te ontwikkel. Hy is ’n kenner van kriogeniese kameras waarmee verafgeleë voorwerpe in die sterrehemel gefotografeer kan word.
Willie het destyds elke dag met die trein tussen Kaapstad en Wellington gependel. Dié treinritte het hom waardevolle studietyd gebied, en hy het boek ná boek uit die SAAO-biblioteek deurgelees. In die proses het hy homself omtrent alles oor sy spesialisgebied, vakuumstelsels in kameras en optiese teleskope, geleer.
Deur die jare was Willie veral betrokke by die eerste vier ongerobotiseerde teleskope, insluitend die grote, die Southern African Large Telescope (SALT). Hy het gehelp om SALT se hoëresolusie- SALTICAM wetenskapkamera te bou. Dit wys ook waarheen SALT mik, elke keer voor die sterrekundiges met hul ondersoek na ’n spesifieke stukkie van die hemelruim begin.
Hy reis steeds gereeld na die Karoo om te help met nuwe uitbreidings, of as een van Sutherland se 24 teleskope aandag benodig.
’n Wonderwerk?
Die sogenaamde “Betlehem-ster” waarvan die Evangelieskrywer Matteus melding maak, is ook ’n onderwerp waaroor Willie reeds wyd gelees het. Hy sê: “Te oordeel na hoeveel boeke en artikels steeds daaroor verskyn, bly dit ’n verskynsel waaroor mense baie wonder.”
Daar bestaan egter nog geen onomwonde verduideliking wat die voorkoms daarvan, binne die gegewe van die geskiedenis en die destydse sigbare hemelruim, kan verklaar nie.
“Dalk was daardie verskynsel tóg niks anders as ’n wonderwerk nie,” sê Willie. Hy sê dat hoe meer hy leer oor begrippe soos die oerknal en hoe meer hy uitvind oor die gebrek aan lewe op ander planete en in ander sonnestelsels, hoe groter is sy verwondering oor God se skeppingsvermoë.
Veelsydig
Dié pa van ’n seun en tweelingdogters verduidelik sy skynbaar onblusbare leergierigheid só: “Ek wou my hele lewe lank weet wat om my aangaan.” En wat hy nie weet nie, probeer hy uitvind.
In sy vroeë loopbaan by die seinafdeling van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, het hy alles oor treine geleer. Toe hy in ’n voermaatskappy se diens tree, het hy geleer hoe om die beste veevoer te maak, al was dit nie deel van sy posbeskrywing nie. En toe hy by ’n chemiese maatskappy naby Wellington begin werk, het hy geleer hoe ’n mens plofstof kan maak.
Deesdae sien jy hom dalk speel met die geskenk wat hy met sy 60ste verjaardag gekry het – ’n hommeltuig waarop ’n kamera gemonteer is.
Willie Koorts is voorwaar ’n veelsydige mens. Gereelde luisteraars na RSG se “Sterre en planete” weet dat hy ’n kundige is wat gemaklik oor die buitenste ruimte kan gesels. Hy het sy debuut by die program reeds in die vroeë 2000’s gemaak en neem sedert 2009 elke week daaraan deel.
Hy is betrokke by die Monthly Notes of the Astronomical Society of Southern Africa, en skryf rubrieke vir die reistydskrifte Weg en Go!.
Jy kan hom ook op ’n Sondag by die klankstelsel van sy tuisgemeente sien, die NG Moederkerk Wellington, waar hy dié liefdesdiens verrig.
Fassinerend
Volgens Willie is sy belangstelling om mense oor die sterreruim te leer reeds in sy beginjare by die SAAO op Sutherland geprikkel. “Daar was destyds geen besoekerstelsel nie. Ons tegniese mense was die enigste personeellede wat in die dag wakker was, en as daar besoekers kom, moes ons maar met hulle gesels en hulle rondwys. Uit hul vrae het ek gou agtergekom waarin hulle belangstel.”
Nadat die SAAO met ’n meer amptelike uitreikprogram begin het, het Willie heelwat van die toerleiers wat sedertdien by die sterrewag of Sutherland-planetarium diens gedoen het, help oplei.
Hy is tans beskermheer van die Orion Observasiegroep (OOG) van Bolandse amateur-sterrekundiges wat lede van die publiek op donkernag-pieknieks, of by skool- en kerkkampe en Voortrekkersaamtrekke help om meer oor die hemelruim te verstaan.
“Sterrekunde bly vir baie mense ’n fassinerende onderwerp,” sê Willie. “Dikwels sal diesulkes vir my sê hulle luister baie graag na ‘Sterre en planete’, maar dat hulle ‘nie die helfte verstaan nie’.
“Ek dink hulle onderskat hulleself. Amateurs kan vir seker ook sterrekunde beoefen. Al neem jy slegs foto’s, of bekyk die sterre met die blote oog.”
Waar begin ’n mens?
“Om sterre te kyk, is nie soos visvang waarvoor ’n mens ’n katrol en stok en ander toerusting nodig het voordat jy kan begin nie. Jy kan dit met jou blote oog doen, deur doodgewoon sterkaarte uit te druk,” vertel Willie.
Hy stel voor dat belangstellendes eerder ’n goeie verkyker as ’n goedkoop teleskoop gebruik. “’n Swakkerige teleskoop is werklik die beste manier om iemand heeltemal van sterrekyk af te skrik.”
Willie stel ook die volgende voor wanneer jy na die sterre wil kyk:
- Bly minstens ’n halfuur lank weg van gloeilamp-lig sodat jou oë aan die stikdonkerte gewoond raak.
- Gebruik rooi lig as jy in die donker na, byvoorbeeld, jou sterrekaart wil kyk. Dit beïnvloed nie jou oë se donker-aanpassing nie.
- Praat eers met ander entoesiaste voordat jy sommer ’n teleskoop aanskaf. Vra vrae en toets hul teleskope. Probeer in elk geval om ’n tweedehandse een in die hande te kry.
- Bly deel van die sterrekyk-gemeenskap.
Die Melkweg gooi ook skaduwees
“In die winter is die Melkweg op sy helderste. Wag totdat dit in die ooste sak of in die weste opkom. Probeer om minstens ’n halfuur lank nie naby huis- of straatligte te wees nie. Gaan staan dan naby ’n muur en kyk of jy jou skaduwee saam met jou kan sien beweeg danksy die sterre se skynsel. Dis slegs moontlik op donker plekke, byvoorbeeld in die Karoo, en dan tydens donkermaan.”
- Volg Willie Koorts se blog hier: www.saao.ac.za Of loer na sy YouTube-kanaal, SterremanWillie
- Dié artikel verskyn in die Someruitgawe 2022/2023 van die gedrukte tydskrif LiG.
