Dis ’n eiesoortige ervaring, sê dié wat weet. Dit bly jou lewenslank by. En dis nie net die goeie vriende wat jy in ’n koor maak nie; daar is vele voordele waarvan jy dalk eers later bewus word, skryf Barend Vos.
Ná baie jare loop julle mekaar weer raak, dalk by ’n koorreünie, dalk sommer op straat. Onmiddellik is die vonk daar. Lag en gesels en hoe gaan dit en waar bly jy deesdae – en iewers, kort voor lank, die onvermydelike vraag: “Sing jy nog?”
Vriendskappe wat in ’n koor gesluit word – of dit nou ’n skoolkoor, universi-teitskoor of kerkkoor is – is dikwels van die blywendste belewenisse in sulke gelukkige mense se lewe. Hulle sal dinge sê soos: “Die koor het my lewe oneindig verryk. Ek koester ontelbare herinneringe, en vriendskappe vir ’n leeftyd.”
’n Dieper vlak
Wat is dit aan koorsang, straks meer as in enige ander sosiale of sportaktiwiteit, wat dit so uitsonderlik maak?
Prof Johan de Villiers, wat pas, ná 33 jaar, as dirigent van die befaamde Libertaskoor uitgetree het en ook agt jaar lank die Stellenbosch Universiteitskoor tot groot hoogtes gelei het, reken dat die uniekheid van koorsang ’n diepliggende verklaring het. In ’n onlangse onderhoud wat op LitNet gepubliseer is, sê hy: “Met die instudering van ’n koorstuk word die sanger se DNS deur die ritmes en melodieë van die musiek binnegedring, saam met die meegaande tekste.
“Om dit uiteindelik voor ’n gehoor te sing, is onvergelykbaar bevredigend, deels ook vanweë die dikwels oorrompelende wisselwerking tussen die koor en die toehoorders.
“Vir so baie van ons dra die voorreg om hierdie spesifieke soort musiek te maak daartoe by om die sin van ons lewe beduidend en blywend te verhoog. Daarom is koorsang sowel lekker as belangrik.”
Marli Krüger is ’n onderwyser by Hoërskool Parys en leier van ’n skoolkoor sowel as ’n volwasse koor. Sy sê: “Koorsing ken nie status, geleerdheid of pretensie nie. In die koor is almal ratte in ’n groot masjien wat seepglad moet loop. Hier leer die sangers dat ‘saam’ belangriker is as ‘ek’. Die geheelklank belangriker as die individuele mooi stem.
“Mense wat saam sing, ken mekaar op ’n dieper vlak, want as hulle saam ontroer is deur ’n mooi koorstuk, het hulle op ’n heel ander vlak gekliek. Koorsing sorg dikwels vir ’n geestelike ervaring, ’n reeks ‘wow!’-oomblikke.”
Erna Rademan van Vredefort is ’n ervare koorleier wat reeds die afgelope 43 jaar kore afrig, en sy praat van koorlede as mekaar se familielede, ten spyte van uiteenlopende agtergronde. “Koorsangers deel een liefde – om saam te sing. Die dokter, die faktotum, die onderwyser en die tuisteskepper is hier mekaar se gelyke. Hulle word onherroeplik lief vir mekaar, verbind aan mekaar. Uiteindelik word jou medekoorlede ’n wonderlike uitbreiding van jou familiekring.”
Die eiesoortige uitdagings by ’n kerkkoor
Die eerste uitdaging by die afrig van ’n kerkkoor lê in die aantal en die soort stemme wat tot jou beskikking is, sê Erna. “Maar, daarmee saam, geld die geloofsdimensie. Kortweg beteken dit dat indien iemand by die koor aanmeld om die Here te loof, ek nooit so ’n persoon sal wegwys nie. Al krys hy ook soos ’n kraai.
“Kerkkoorleiers moet die begeerte onderdruk om ’n uitnemende koor te hê en hulle eerder daarop toespits om ’n groep mense te bemagtig om hul geloof deur middel van koorsang uit te leef. So ’n leier gebruik dus die een of twee goeie stemme soveel moontlik in solo’s, wat dan deur die koor ondersteun word.”
Tong in die kies vertel Erna ook van ’n steil opdraand wat die koorleier soms diep beproef: “Kerkkoorleiers maak allerlei plannetjies, maar soms kom jy teen ’n galmende Basuin te staan wat jou, en die hele koor, eenvoudig baasraak. En dan is jou hande netjies afgekap – tensy jy die moed het om Basuin te vra om liefs nie meer te kom sing nie. Wat natuurlik weer ’n heel nuwe probleem skep indien Basuin so in die gesig gevat voel dat hy sommer uit die gemeente ook bedank.”
Die baie voordele
Koorleiers, wat sonder uitsondering self in ’n koor gesing het, sal eerstehands vertel hoe koorsang ’n wye verskeidenheid voordele vir die koorsanger inhou.
“Jy leer selfdissipline aan, en groepdissipline. Jy leer samehorigheid, hoe dit is om saam te lag, saam te huil en saam te vier. Jy leer ken dus die vreugde van verbondenheid, van ‘om te behoort’. Tussen daardie mense voel jy geborge, veilig.”
Só sê Ewie van der Merwe, ’n ervare leier van laerskoolkore. Hy voeg by: “Jong koorsangers ontwikkel selfvertroue, en meer. Daar vind trouens ’n holistiese ontwikkeling by die kinders plaas – emosioneel, intellektueel, sosiaal en psigies. Dit dra by tot hul taalontwikkeling, en hulle verloor die vrees om voor mense op te tree.”
Marli vertel: “Ek het talle kere gesien hoe ’n doodskaam outjie wat in graad 8 begin om in die koor te sing, ’n paar jaar later met groot selfvertroue op die verhoog stap om te gaan sing. En my ’n jaar of wat ná skool baie opgewonde laat weet hy of sy sing nou in die universiteitskoor.”
Johan sê: “Om die Godgegewe gawe van musiek aktief saam met ander mense te beoefen, hef jou menswees op tot iets waarvoor enige koorsanger oneindig dankbaar kan wees.”
‘Elke keer soos ’n wonderwerk’
Daar is wel ook ’n hele aantal onmiddellike voordele. “Ek hoor gereeld by my koorlede wat ek self ervaar: Ongeag hoe moeg en afgemat ek by ’n kooroefening aankom, ná twee ure se klipharde werk het ek soveel energie dat ek ’n koek kan bak!” lag Erna.
Sy voeg by: “Koorlede getuig daarvan dat hul swaarmoedigheid, hul hoofpyn, of watter emosionele las hulle ook al afrem, tydens ’n kooroefening op die een of ander geheimsinnige wyse verdamp. Kanker- en depressielyers, en vroue wat ’n lewensmaat verloor het, vind genesing in die veilige kring om die musiek waarmee ons besig is. In die daadwerklike betrokkenheid daarby, daar waar jou hele menswees moet saamwerk: absolute fokus, dit wil sê jou brein; jou postuur; jou asemhaling; jou stembande wat klanke voortbring wat jy soms self nie kan glo nie.
“Dan die totale bewustheid en fyn ingesteldheid op almal om jou … Dis ’n wegkyk van jouself, om seker te maak dat jy deel is van die groter, beeldskone geheel van harmonie en melodie.
“Dis niks minder nie as ’n hemelse gawe dat gebroke mense só kan klink.”
Marli vertel van haar belewenis: “Dis vir my wonderlik dat die volgende áltyd waar is van ’n kooroefening: Die kinders kom pas ná ’n lang skooldag moeg, honger en hangskouers by die kooroefening aan. Dan sien ek hoe hulle letterlik voor my oë begin beter voel hoe langer hulle sing.
“’n Uur later stap hulle laggend, vrolik, positief en sing-sing daar uit. Dis elke keer soos ’n wonderwerk. Ek dink dat om in ’n koor te sing die beste antidepressant denkbaar is.”
Johan, ook ’n wiskundeprofessor, sê: “Gedurende my hele beroepsloopbaan bedryf ek die parallelle rigtings van wiskunde en musiek. Van my mees bevredigende wiskundige navorsingsresultate het ek gekry ná die een of ander blootstelling aan ’n uitnemende koorervaring. Sonder twyfel geld dieselfde ook vir vele ander.”
Wees gerus!
As jy dus twee of meer luidrugtige mense teëkom wat dalk hard lag en gesels, en straks sommer net daar lostrek en begin sing, en jy lei af hulle het in die een of ander koor saamgesing, kan jy maar doodluiters voortgaan met wat jy besig is om te doen.
Jy hoef nie bang te wees nie. Ons ken mos dié ou Nederlandse spreekwoord: “Vrees niet waar weerklinkt het lied. Slechte mensen zingen niet.”
- Dié artikel verskyn in die Someruitgawe 2022/2023 van die gedrukte tydskrif LiG.
