Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Daar bestaan by baie gelowiges ’n diepgewortelde oortuiging dat jy die Here eintlik net kan ontmoet wanneer dit rustig en stil is. Veral in spanningsvolle, druk tye soos wat ons deesdae dikwels beleef, smag baie mense na stilte en rus. Om ons asem terug te kry, om ons geestelike balans te herstel. Om God te ontmoet, skryf Coenie Burger.
Daar is goeie redes wat hiervoor aangevoer kan word. Etlike Bybelskrywers moedig ons aan om na die stilte te soek as ’n plek waar ons God kan ontmoet. By Horeb ontdek Elia dat die Here nie in die sterk wind of in die aardbewing of in die vuur is nie, maar in die sagte, stil suising.
Dink maar aan sovele psalms (byvoorbeeld Ps 62 en 63) waar die digter na stilte smag, en na die Here se rustige teenwoordigheid. Dink aan Maria, suster van die besige Marta, wat “die goeie deel uitgekies het” (vgl Luk 10:38-42) en aan Jesus se voete gaan sit het.
En alle Bybellesers weet dat Jesus self ook soms alleen wou wees en stilte opgesoek het.
Op ander plekke
Tog moet ons nie die idee kry dat ons die Here slegs in situasies kan ontmoet waar alles rustig en stil verloop nie; dit sou ’n groot vergissing wees. Die Here ontmoet ons ook in die besige alledaagsheid van die lewe – en vir seker in die rumoer en die deurmekaarspul wat ons sommige dae beleef!
Christus se evangelie is nie slegs vir rustige tye en bergtop-ervarings bedoel nie; dis ook ’n evangelie vir die elkedagse lewe. Ons hoor dit dalk die duidelikste in die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg: Wanneer die dissipels op die berg Jesus se transformasie sien en die voorreg het om sy heerlikheid te aanskou, wil hulle opsluit die res van hul lewe daar bly. Petrus sê: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia” (Luk 9:33). Waarop die Evangelieskrywer sê dat Petrus nie geweet het wat hy alles kwytraak nie …
Stil tye is nie altyd ’n doel op sigself nie. Ons het stil tye nodig omdat die Here ons daar ontmoet en verkwik met die oog op alles wat ons “onder die berg” – dit is in die alledaagse, gewone lewe – moet gaan doen. En as die Here ons daarheen stuur, kan ons maar weet Hy kom saam met ons.
Saam met ander mense
Die Here ontmoet ons ook wanneer ons in ander mense se geselskap is. In Matteus 18:20 sê Jesus dat waar twee of drie mense in sy Naam bymekaar is, Hy by hulle is.
Ons sien dikwels in die Bybel dat die Here met sy kinders praat deur die mense wat Hy na hulle toe stuur. Dink maar aan Samuel wat na Dawid gestuur is; Ananias wat Paulus die hande moes oplê en die apostel vir sy bediening moes voorberei; Filippus wat aan die Etiopiese hofdienaar die blye evangelie verkondig.
As ons die Here wil ontmoet, só het die befaamde Dietrich Bonhoeffer geskryf, het ons nie net ’n dag op ons eentjie nodig nie, maar ook ’n dag saam met ander. Die Here het ’n manier om deur broers en susters na ons te kom. En die woord van die Here, het Maarten Luther gesê, kom dikwels na ons deur die mond van ’n suster of ’n broer.
Daarom is die gemeentelike erediens so belangrik, asook die kleingroepe wat ons in baie gemeentes aantref. Daarom moet ons ook nie die familiebyeenkomste waar ons vrolik en feestelik bymekaar is, afskeep nie. Die Here kom ook na ons in die vreugde (en in die sleur) van sulke byeenkomste. Daar waar Oupa weer dieselfde ou storietjies vertel, waar twee familielede mekaar wéér in die hare vlieg, waar die klomp kleintjies jou kop van jou lyf af skreeu.
Ja, die Here is inderdaad ook in die harwar en gedruis van die gewone lewe.
Maar dis nie slegs deur vriende, familie en bekendes wat die Here ons ontmoet nie; van die duidelikste beloftes in die Bybel handel daaroor dat die Here op ’n baie spesiale wyse na ons kom wanneer ons vreemdelinge met gasvryheid ontvang.
Ons hoor dit in soveel woorde in Hebreërs 13:2: “Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.” Ons onthou ook Jesus se veelseggende opmerking wanneer Hy in Matteus 25:40 suggereer dat as ons liefde aan behoeftiges bewys, ons dit aan Hom doen.
In die besige, ‘bose’ stad
Die waarheid is dat te veel stilte ook vir ons sleg kan wees. ’n Knaende smagting na stilte en rustigheid kan as ’t ware ’n rooi lig wees wat ons waarsku dat alles nie pluis is in ons lewe nie.
Dit kan soms selfs die teken wees van ’n “wegvlug”-geloof. Lesslie Newbigin, ’n bekende Britse teoloog wat in die vorige eeu geleef het, sê dat hierdie wegvlug-geloof dikwels in die kerk geregverdig word deur die prentjie van Lot en sy vrou wat uit die bose Sodom en Gomorra vlug.
Daar is ook ander tekste in die Bybel wat met die eerste hoor daarvan klink asof die stad as boos beskou moet word en dat ons daaruit moet vlug. In die evangeliese wêreld is hierdie mentaliteit verder gevoed en versterk deur John Bunyan se lewendige, beeldryke verhaal van die pelgrim wat deurentyd van die bose moet vlug.
Eintlik praat die Bybel ’n ander taal oor die stad: God het die stad en sy mense lief. Hy ween oor Jerusalem – al kruisig die inwoners sy Seun. Hy is bereid om Sodom en Gomorra te vergewe – as daar ’n kans is dat die inwoners hulle sal bekeer.
Die verhaal van die Bybel begin by ’n tuin, en eindig in die stad, die nuwe Jerusalem …
Newbigin verwys na nog ’n storie van iemand wat uit die stad gevlug het – Jona. Die Here stuur hom na die stad, maar omdat hy vir die inwoners kwaad is, klim hy op ’n boot en vlug na Tarsus.
Dan volg die aangrypende verhaal wat ons almal so goed ken: Die Here laat Jona nie maar begaan nie, maar agtervolg Hom, ontmoet Hom in ’n vis se maag. En stuur hom terug na die stad Nineve.
Ja, die Here het die stede ook lief. Hy het die ganse wêreld met al sy stede lief. In Matteus 28:18-20 lees ons dat Hy sy dissipels die wêreld in stuur om die evangelie te verkondig en uit te leef, en Hy belowe om op hierdie pad elke oomblik by hulle te wees: “En kyk, ek is met julle … tot aan die voleinding.”
Leer by Jesus
Paulus verduidelik dit dalk die beste in Filippense 2:5-11. Toe dinge op aarde totaal skeefgeloop het en ons God se plan as ’t ware op sy kop gekeer het, sê Paulus, was Jesus gewillig om in hierdie aardse chaos neer te daal om ons en ons aardse bestaan te red. Hy het sy “gemaklike” bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy ten alle koste moes vasklou nie; Hy was bereid om dit prys te gee, te verlaat – sodat ons in Hom en deur Hom God kon ontmoet, hier op aarde.
Dan voeg Paulus by: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees …”
Ons hét stil tye nodig. Ons moet soms ons asem terugkry, kans kry om te herstel, om gesond te word.
Maar gewoonlik word ons in die stilte en rustigheid vir ’n nuwe taak en roeping voorberei: om die Here te volg na al die Nineves met hul kwaad en goddeloosheid, ook hul pyn en smagting na iets beters.
Maarten Luther het iewers geskryf dat die Here hom twee keer geroep het: Die eerste keer moes hy sy gewone aardse lewe groet en in die stilte van ’n klooster gaan leef. Maar ná ’n paar jaar, sê hy, het die Here hom teruggeroep, in die wêreld in.
Salige stilte én rustelose stad. Verbysterende vrede én woelige wêreld.
Die Here weet ons het al twee nodig.
- Dié artikel verskyn in die Someruitgawe 2022/2023 van die gedrukte tydskrif LiG.
