Baie mense onthou baie dinge van die skrywer en vertaler, Marzanne Leroux-Van der Boon, maar veral van haar liefde vir Israel, skryf Dawid Yzelle.
In 2012 word ek en Marzanne vriende toe sy my nooi om ’n Kersfees in Jerusalem deur te bring – die plek waar sy vanaf 2001 tot en met die uitbreek van die Covid-19-pandemie jaarliks navorsing vir haar boeke gaan doen het.
Daar leer ken ek toe iemand wat as mens en skrywer haar geloof in God in haar werk en woorde uitleef. En dit was die begin van ’n vriendskap waarvoor ek altyd dankbaar sal wees.
’n Uitnodiging na Jerusalem
Dit was tydens ’n boekbekendstelling dat haar vertellings oor Israel my aangegryp het. Met haar skerp waarnemingsvermoë het sy my verwondering raakgesien en ná die tyd gevra of ek daarin sou belangstel om Israel te besoek.
Ek het gehuiwer, want vir ’n toerbus het ek nie kans gesien nie. Boonop was ek lugtig om myself as ’n “pelgrim na die Heilige Land” te bestempel.
Maar Marzanne se jaarlikse besoeke aan Jerusalem was nooit ’n toer nie, eerder ’n tuiskoms.
Sy sou, soos soveel kere tevore, in die Christchurch-gastehuis tuisgaan. Dis in die Ou Stad en enkele minute se stap van die Jaffa-poort. Van daar sou sy uitgaan en haar vele vriende ontmoet om sodoende inligting in te samel met die oog op ’n volgende boek.
In Jerusalem sou ek eerstehands beleef hoe lief Marzanne werklik vir haar Yeru-shalayim was. Saam sou ons die Ou én Nuwe Stad verken, inkopies doen en nuwe eetplekke op die proef stel.
Tydens daardie eerste besoek – dit was reeds Marzanne se agtiende – vier ek ook my eerste shabbat saam met ’n groepie vrywilligers wat in die Christchurch-gastehuis gewerk het. Daardie saam brood breek met mense van oor die wêreld heen, letterlik die challah wat geseën en gebreek word om ons te herinner aan God se voorsiening aan die woestyntrekkers, het selfs meer betekenis gekry toe Marzanne die Hebreeuse seëngebed uitgespreek het.
Wat dié shabbat veral ook besonders sou maak, was dat dit juis daardie jaar saamgeval het met die laaste twee dae van Hanukkah, die Fees van Ligte.
Dié agt dae lange fees gedenk die inwyding van die Tweede Tempel in die tweede eeu vC.
Vroeër vanjaar, met ons laaste kuier saam in Vredehoek in Kaapstad waar sy gewoon het, wou sy weet of ek kon onthou hoe pragtig goud die vlamme van die chanukkiyah, dis die Hanukkah-menora, die sandsteen van die Ou Stad gekleur het.
Hoe sou ek dit vergeet … Die menora met nege vlamme langs bykans elke deur en in elke venster. Ek sal ook haar verwondering daaroor onthou.
Marzanne het Jerusalem se lig met my gedeel, maar ook die donker wat juis die hoop in die Jode van Israel se hart helder laat brand.
In ons staptogte deur die stad se strate het sy my dikwels die plekke gewys waar terreuraanvalle vroeër plaasgevind het. In ’n restaurant vlak buite die Ou Stad, waar ons een oggend ontbyt geëet het, vertel sy dat dié plek op ’n keer die teiken van ’n bomaanval was. Maar met ons besoek is die prentjie van verwoesting vervang met jong gesinne wat om die tafels kuier.
Die tema van hoop en die besef dat die lewe voortgaan, sou gereeld in die lewe van die karakters Marc en Rivkah in haar romanreeks oor Israel deurskemer.
‘Haar hart was in Israel’
Vir omstrede onderwerpe het Marzanne nooit teruggedeins nie. Haar boek Klaprose teen die wind, met onder meer MIV/vigs en die politieke klimaat in die Suid-Afrika van die jare negentig as temas, spreek hiervan.
Dis dalk daarom dat ons vriendskap my soms verbaas het. Ek sou altyd die vrede probeer bewaar – terwyl Marzanne, met ’n sagte deurdringendheid, so nooit as te nimmer vir konflik sou terugdeins nie, en altyd sou vasstaan in dit waarin sy glo.
Ons kon ure lank oor die politiek, geloof en die stand van ons onderstebo wêreld gesels. En vir Marzanne was die antwoord op al ons probleme altyd die God van Israel.
Trudy Blok van Brackenfell, ’n jarelange vriendin, onthou haar só: “Marzanne het nie geskroom om haar mening te lug oor Israel se plek in die wêreld nie. Sy was uiters gevoelig oor Israel. Haar hart was in Israel, en sy was nie skaam daaroor nie.”
Trudy sê sy is ook daarvan oortuig dat Marzanne se agtergrond as onderwyser haar gehelp het om ander mense met sensitiwiteit oor Israel en die Joodse leefwyse in te lig.
Trudy was saam met Marzanne toe sy Israel die eerste keer in 2001 besoek het. Sy vertel: “Marzanne het gesê: ‘Ek wil so graag Israel toe gaan.’ En ek het vir haar gesê sy moet my man vra of ek met haar kan saamgaan, en ék sou daarvoor bid!”
In Israel het Trudy die behoefte uitgespreek om in die Jordaanrivier gedoop te word. Die oggend van Trudy se doop-geleentheid bêre Marzanne, wat toe reeds gedoop is, om die een of ander rede haar paspoort in ’n verseëlbare plastieksakkie, min wetende dat sy self dié dag gedoop sou word.
Vir Marzanne was dit ’n wonderlike bewys van God se voorsiening tot in die fynste besonderhede: Hy het immers geweet dat sy daardie dag self weer gedoop sou word, al het sy dit glad nie so beplan nie.
Dit was ook dié doop waaruit Marzanne se roman-reeks oor Israel gespruit het, vertel Trudy.
Jesus, die Jood
Bernice van der Merwe van Constantia, ’n vriendin wat ook gereeld saam met Marzanne na Israel gereis het, sê die Hurvah-plein in Jerusalem se Ou Stad was een van Marzanne se gunstelingplekke.
Hul laaste besoek was in 2017. Bernice vertel: “Bedags het ons daar op die plein gesit. Sy wou altyd die mammas en kindertjies sien.”
Marzanne wou die Jerusalemse mense fyn dophou om haar karakters lewensgetrou uit te beeld, vertel Bernice. “En sy wou elke aand uitgaan! Sy het oor eindelose energie beskik, en sy was toe reeds 76.”
Bernice se eerste ontmoeting met Marzanne was in 2007 tydens ’n toer na Israel. Marzanne het as een van die gidse opgetree en die groep saans oor Jesus se Joodsheid toegespreek. “Ek het aan Marzanne se lippe gehang. Sy het iets in my laat wakker word.
“Die grootste geskenk wat ek ooit ontvang het, was dat die Here vir Marzanne in my lewe gebruik het om as ’t ware Jesus se Joodsheid te ontdek. Om te besef hoe Hy die Jode uitgekies het.”
Ek is dit eens met Bernice. Ek onthou hoe ek, vroeg in ons vriendskap, dit moeilik kon verklaar hoe Marzanne, wat in ’n Christen-huis grootgeword het, so aangetrokke tot die Joodse geloof kon wees. Haar verduideliking was eenvoudig en logies: “Om Jesus te verstaan, moet jy sy Joodsheid verstaan.”
Hierdie konteks maak vir my ál meer sin.
Ek gaan my vriendin mis. Dankie vir Israel, Marzanne, en dankie dat jy jou geloof met my gedeel het.
- Marzanne Leroux-Van der Boon is op 17 Augustus 2022 oorlede.
- Dié artikel verskyn in die Someruitgawe 2022/2023 van die gedrukte tydskrif LiG.
