In Oekraïne kom Kersfees vanjaar te midde van erge winterkoue, sirenes en lugaanvalle – maar daar is tog lig, altyd die Lig wat nie deur duisternis verdryf kan word nie, skryf Gert Pretorius.
Eentonig en deurdringend klaag die sirenes in die agtergrond. Hulle waarsku teen lugaanvalle. “Dag en nag,” sê Rob1, “enige tyd. Nooit is dit ’n vals alarm nie. Elke keer ruk dit deur jou.”
Op straat skril dit deur luidsprekers. Of selfone bring die bevel: Soek skuiling!
Mense en geboue is die teiken van vernietigende missiele en trosbomme, dikwels deur onopspoorbare hommeltuie gedra.

Terwyl die ontploffings deure in hul kosyn laat rammel en daar ’n massa rookwolke opstyg, haas mense hulle na ou bomskuilings uit die groot oorlog, of na ondergrondse parkeervlakke.
Oorlogstonele wys ’n bebaarde grysaard wat met sy kierie na ’n skuiling toe aansukkel; die baba in ’n jong pa se arms; ‘n ouer vrou wat haar bang hondjie saamdra. Verdwaasde kinders, strak gesigte.
Later sak die stof weer.
Maar oorlogstof is traag. Dit gaan lê nie sommer waar bitterheid wortelgeskiet het nie.
Oor vanjaar se Kersfees skud Rob net sy kop.
Die oorlog bring nuwe wendings. Daar word van kernwapens gepraat. In Oekraïne kan sulke woorde dolksteke wees. Baie onthou helder watter verskrikking die Chernobyl-kernramp in hul land was: die baie sterftes, langtermynsiektes, misvormde diere en voortgaande bestraling.
Groot dele is steeds onbewoonbaar. Geswartsak.
Tog het Rob ook goeie nuus: Die oorlog maak nuwe deure oop. Saam met ander Protestantse Christene neem hy kos, kanne water en daaglikse benodigdhede na mense in nood. Saam met die boodskap van God se liefde.
Kersfees in Krim
Ek loer by Dima Kruyovski in om oor Kersfees te vra. Hy het in die Krim-skiereiland in Suid-Oekraïne grootgeword. Hy was 25 net ná die Ystergordyn verbrokkel het, toe hy op dramatiese wyse tot bekering gekom het. Tans is hy ’n sendeling en werk vanuit Suid-Afrika. Hy het pas aan ’n groep Russiessprekendes opvolgskoling aangebied.
Toe hy jonk was, is Christene in die destydse Sowjetlande vervolg. Kersfees is in die geheim gevier. Vir ander Oekraïners was dit ’n jolige, week lange fees – van Nuwejaarsdag tot 7 Januarie, hul Kersdag volgens die Juliaanse kalender.
Ná die politieke ommeswaai kon Protestante openlik byeenkom en met ’n kitaar Kersliedere in ’n park sing. En, vir enigiemand wat vra, van die Baba in die krip vertel, die Een wat later ’n kruis gedra het.
Mense het na eredienste begin stroom om meer te hoor. Te voet, honderde van hulle, en van ver af. Algaande het Kersdag ’n geleentheid geword om op straat na mense uit te reik, te preek en te bid, geskenke te gee.
Ek vra hoe hy en sy vrou in Suid-Afrika Kersfees vier.
Nee, hy neem nie deel nie, sê Dima. Te gekommersialiseer, te veel fieterjasies.
Getrouheid in vervolging
Oor die Oekraïne van haar kleintyd praat Alla van der Colff met ’n laggie, en in goeie Afrikaans, van die boetes wat haar ouers moes betaal omdat hulle die kinders saamgeneem het kerk toe!
Dit was voor ds Willem van der Colff daar kom werk het om die evangelie na onbereiktes te neem en hulle twee getroud is. Alla was deel van ’n groot familie, haar pa ’n toegewyde pastor van sy gemeente. Sondagskool het agter geslote deure plaasgevind, maar is later wel toegelaat.
Tydens Kersfees het hulle mekaar geskenkies soos nartjies of sjokolade gegee. Want dit het nie gegaan oor geskenke vir soet kinders wat deur iemand anders gebring is nie; slegs oor Jesus wat gebore is.

Willem voeg by dat hulle nie hul eie kinders van die Oekraïniese tradisies vervreem het nie, maar wel ’n Christelike inhoud daaraan gegee het.
In hul eie gemeente was Kersfees uit die staanspoor ’n geleentheid om te dien, om die evangelie met ander te deel. Kersliedere wat by huise in die dorp gesing word, is deel daarvan.
Een jaar, toe hul gemeentegroepie by ’n huis aangeklop het om te sing, was die vrou besig om geboorte te skenk. En daar was probleme. In plaas van sing, het hulle gebid. En ’n jaar later, toe hulle dit in die erge koue waag om weer daar te gaan sing, wag die gesin vir hulle – met ’n gedekte tafel, en die nuus dat die geboorte goed afgeloop het!
Daardie seuntjie het later by hul gemeente se jeugprogram ingeskakel, en die ouers is vandag lidmate daar.
Alla sê: “Ons werk is maar net om te vertel.”
Deur die oop deur
In Oekraïne word die Jesusdissipel Andreas erken as die apostel wat die evangelie na hul land gebring het2. Dis dieselfde Andreas wat sy broer Petrus na Jesus toe gebring het, wat ook vir Jesus kom sê het van die seuntjie se broodjies en vissies. Dalk ’n stille werker?
Die verhaal van ds Koos van der Merwe en sy vrou Lesley klink omtrent ook só. Hy was predikant in ’n klein gemeente op Keetmanshoop toe die Here se boodskap wat hulle Oekraïne toe sou stuur by hom afgelewer is. Binne maande was hulle in Kiev.
In die middel-negentigs van die vorige eeu was Oekraïne ’n poort na die Oosbloklande. Van oraloor het kerkleiers en ander, ook uit Suid-Afrika, verkenning gedoen en ’n sendingnetwerk opgebou. Opleiding in kerkplanting is gegee, en 70 nuwe gemeentes is gevestig. Meer nuwe vore is geploeg deurdat elke gemeente ‘n ondersteunende, gekoppelde gemeente in Suider-Afrika gekry het.
Koos het daardie 70 gemeentes deurlopend besoek, die leiers toegerus, pastorale werk gedoen, asook opleiding in kruiskulturele kerkplanting aangebied.
Kersfeeslig
Hy was ook ’n skakelpersoon vir Alida van Deventer toe sy die kans aangegryp het om in Lutsk by ’n internasionale kunstefees die Kersverhaal met marionette te vertel. Lank voordat sy bekend geword het as die kunstenaar wat Haas Das vir televisie gemaak het, het die getuienis van Richard Wurmbrand haar geïnspireer om self ook die evangelie na ‘n kommunistiese land te neem.
Alida leef met die oortuiging dat kuns ook geloof kan uitbeeld. Op die verhoog het marionette die Kersverhaal vertel. Wanneer die wyse manne vertrek, verlig slegs ’n enkele kers die krip. Dan neem sy dié kers in haar hand en herinner die gehoor aan die wêreld se behoefte aan lig.

En op daardie oomblik skakel haar man al die ligte in die gebou af – en sy steek die mense in die voorste ry se kerse aan, wat dit na die res aangee. Uit eie oortuiging staan almal op, kerse in die hand. En spontaan sing hulle: “Tycha nich, svyata nich …” Stille nag, heilige nag …
Dis ’n teken dat hulle aangegryp is, dat hulle verstaan het. Die ware lig het na die wêreld gekom. Al vlieg daar hommeltuie.
Oekraïniese Kerstradisies
“Die Kersfeestradisies hier lyk baie anders as in Suid-Afrika,” vertel Johan van der Colff, wat onlangs sy teologiese studie in Oekraïne voltooi het. Op 6 Januarie, ná donker, moet die ma en dogters in ’n gesin binnenshuis bly en 12 geregte vir die Kersete voorberei. Later, as die pa instap, groet hy almal en nooi hulle tafel toe.
Eers lees hy die Kersverhaal uit die Matteus-evangelie. Daarna word drie kerse aangesteek. Die eerste een gedenk almal wat nie meer by hulle is nie. Die tweede is ’n gebed dat God se lig moet skyn.

En voor die derde een aangesteek word, word ’n seun gestuur om seker te maak die voordeur is oop: ’n bewys dat hulle nie soos Betlehem se mense is wat nie vir Jesus se ouers plek gehad het nie.
Die derde kers word dan ook by ’n venster geplaas as teken van hul gasvryheid teenoor almal wat buite is.
Dan breek die pa die brood, hulle eet saam en gee geskenkies aan mekaar. Daarna gaan sing die klomp jonges Kersliedere. Uit dankbaarheid gee die dorpenaars geskenkies aan hulle.
Op Oukersaand word nie vleis geëet of wyn gedrink nie, maar op 7 Januarie wel.
Godsdiensoorlog
Die afgelope jare is berig dat Ortodokse gelowiges in Rusland bedreig voel deur “die Weste” (waarskynlik Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie). Ook ’n deel van die Oekraïniese identiteit is aan die Ortodokse Kerk gekoppel.
In Rusland verwag Ortodokse lidmate dat die owerheid hulle teen Westerse invloede moet beskerm. Die Russiese president, Vladimir Putin, omarm die Ortodokse Kerk as “die uitstaande kenmerk van die Russiese erfenis”. Hy beskou die staat as dié kerk se alleen-beskermer.
Uit Oekraïniese streke wat in 2022 deur Russiese magte herower is, kom mediaberigte van ’n godsdiensoorlog. Protestantse kerkgeboue word deur militante vir eie gebruik oorgeneem. Gedagtig aan die elfde-eeuse breuk toe die Katolieke Kerk van die Ortodokse Kerk weggebreek het, word Protestantse Christene nou weer die stokou skelnaam toegesnou: skeurmakers!
- Dié artikel verskyn in die Someruitgawe 2022/2023 van die gedrukte tydskrif LiG.
1 Skuilnaam, om sy onthalwe
2 www.encyclopediaofukraine. com: Saint Andrew
