Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

‘As ons waarlik kerk wil wees, moet ons by Jesus begin, moet ons weer teruggaan na die evangelie toe, en net daar bly,’ skryf ds Estian Mentz is wat hy hoor tydens ’n onlangse konferensie van Stephan Joubert oor die tema, ‘Kerk van die toekoms’. Foto’s: Verskaf

Stephan Joubert op Upington: Kerk van die toekoms ‘begin en eindig by Jesus’


Op pad na Upington vir ’n konferensie deur prof Stephan Joubert oor die tema, ‘Kerk van die toekoms’, aangebied by die Protea Hotel op Upington, bid ’n groep Noord-Kapenaars reeds dat die lugversorger werk, “want daai plek ken hitte, soos die ou mense sal sê,” skryf ds Estian Mentz. Lees verder.

Tussen die vlaktes, rante en kameeldoringbome deur ry ons in afwagting van wat hier gaan gebeur.

Ons is bly oor dié konferensie vanaf 6-7 Maart, aangebied deur die Ring van Kenhardt. Die Noord-Kaap is bekend vir sy oop vlaktes en lang reguit paaie, so ’n mens vergeet vinnig dat hier mense ook is. Mense wat ’n honger en dors het na geleenthede soos hierdie.

Geborg

Toe ons daar stop, wemel dit met byna 100 mense van regoor die Noord-Kaap wat ongeveer 20 gemeentes verteenwoordig. Daar is baie meer ouderlinge as dominees. Die lidmate van ons kerke hier in die Noord-Kaap is besig om hulle plek in te neem as die leiers van die gemeentes.

Dan skop die konferensie af. ’n Mens kom vinnig agter Joubert is geweldig passievol oor hierdie gesprek wat ons voer. Elke woord wat gesê word tref kliphard in ons ore.

Die kerk van die toekoms. Hoe lyk dit? Hoe klink dit? Wat is dit? Dit is die tipe vrae wat tydens teetyd gevra word. Ons almal droom groot oor hoe ons vir ons gemeentes tuis vorentoe kan neem met al die inligting wat ons hier kry.

Begin by Jesus

Die stories, verhale, Bybelaanhalings en nuwe wyshede vloei en ’n mens sukkel om aantekeninge te maak, want jy kan ook nie net neerskryf vir die hele twee dae nie. Wat ek hoor is die kerk van die toekoms lyk so: Alles begin by Jesus, en alles eindig by Jesus. As ons waarlik kerk wil wees, moet ons daar begin, moet ons weer teruggaan na die evangelie toe, en net daar bly. Net by Jesus.

Dit is iets wat ons as lidmate en dominees al baie gehoor het, en eintlik moeg is om te hoor. Maar Joubert vertel dit so dat ’n mens geen ander keuse het as om in verwondering te staan teenoor dit waarmee die Here eintlik besig is in sy kerk nie.

Al die sessies word gevul met teksverwysings (soms sommer in Grieks), verhale vanuit Joubert se lewe en die kern van alles, die evangelie wat die boodskap gee wat ons nodig het. Die sessies wat ons deurwerk wissel van “hoe lyk dinge tans” tot “hoe kan dit lyk” tot ons uiteindelik by die punt kom om te sê “hoe moet dit lyk” as ons praat oor die toekoms van die kerk.

Geborg

Deurlopend word die tema herhaal van “Eenvoud” en hoe ons as geloofsgemeenskappe net die basiese goed herhaaldelik moet doen. Kom net weer by die kern van die kerk, van die geloof uit en werk dan vanuit daardie hoek. Soos Joubert verduidelik, “die kerk van vandag en môre doen basiese dinge aanhoudend reg.” Hy baseer hierdie stelling op 1 Tessalonisense.

Ons leer iets van eenvoud, van die kern van kerkwees hier by die konferensie, en die klanke weerklink in en rondom die etenstafels as groepe mense bymekaar is om te bespreek, en te deel oor wat elkeen beleef.

Die aard van die konferensie maak dit baie lekker vir ons as groep, juis omdat dit so informeel is, en omdat Joubert so passievol is. Dit skep by ons wat bywoon ook ’n nuwe passie vir die eenvoud van die evangelie. In gesprekke met kollegas hoor ’n mens dit net weer en weer: “Ons maak dit te moeilik” of “Ons moet ophou met kleiner stryery en weer fokus op die kern.”

Die konferensie gee vir ons in die Noord-Kaap weer ’n bietjie hoop dat ons ook nog deel is van die groter Plan, dat ons ook nog belangrik is vir die groter Kerk, en dat ons moet teruggaan na ons gemeentes toe en nou iets met al hierdie kennis moet gaan doen. Daar is eintlik nie ’n ander keuse nie.

Wat volgende?

Ds Christo Jonck, die PSD van die Noord-Kaap, noem dat hierdie konferensie amper soos ’n inleiding is vir die Noord-Kaap se eie predikantekursus wat later die jaar aangebied word. Die Ring van Kenhardt het vir ons hierdie geleentheid gebied, en dit is vir seker iets waarop ons kan en moet voortbou om ons eie Noord-Kaapse gemeentes te bemagtig om gemeentes te wees wat die kern van die evangelie kan uitdra en uitleef. 

Die volgende konferensie sal deur die Sinodale Kommissie van Bedieningsondersteuning gereël word êrens in die komende jaar.

Geborg
  • Prof Stephan Joubert se aanbieding by Upington is opgeneem, en sal mettertyd beskikbaar gestel word.
  • Ds Estian Mentz is leraar by NG gemeente Kimberley-Harmonie.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.