Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Die kerk is diep verontrus deur die moontlike uitwerking wat die ontwrigting van die EFF se beplande #Nationalshutdown op 20 Maart, skryf Gustav Claassen.
Die media is die afgelope tyd oorheers deur die sogenaamde #Nationalshutdown wat deur die Economic Freedom Fighters (EFF) beplan word vir 20 Maart. Dié landwye staking is deel van onder andere pogings om pres Cyril Ramaphosa uit sy pos te dwing. Alle sektore van die samelewing word deur die EFF uitgenooi om deel te vorm van hierdie staking.
Besighede, skole, universiteite, munisipaliteite en fabrieke is gewaarsku om op dié dag te sluit om nie die gevaar te loop om geplunder te word of aan geweld blootgestel te word nie. Paaie sal versper word en taxi’s, treine en vragmotors se bewegings sal beperk word.
Die motivering vir die staking is om teen beurtkrag te protesteer en ’n einde daaraan te maak. Die president moet gedwing word om verantwoording te doen vir al die “misdade wat hy op sy plaas Phala Phala gepleeg het”. Verder word daarop aangedring dat Eskom se raad asook senior bestuur onmiddelik. bedank.
Verdere eise is:
- Die bedanking van ministers Bheki Cele en Pravin Gordhan
- Verlaging in die brandstofpryse tot op die vlak van 2018
- Beëindiging van die inmenging van Westerse moondhede, soos Engeland en die VSA, in SA se energiebeleid.
Vanuit kerklike kant word die EFF se bekommernisse rondom beurtkrag gedeel. Die kerk deel verder die stadige pas waarmee probleme in die land oor ’n wye spektrum aangespreek word onder leiding van die huidige regering. Suid Afrika bevind homself reeds in ’n krisis. Daaglikse kragonderbrekings, swak dienslewering, werkloosheid, armoede, staatskaping wat nog steeds voortduur en korrupsie is die harde realiteite van ons daaglikse bestaan. Om al hierdie negatiewe faktore, ter wille van party politieke agendas, te ignoreer en selfs verder in die hand te werk is uiters gevoelloos.
LEES OOK: ASM: ‘Bid vir politieke leiers, beskermingsdienste, regbank, fluitjieblasers en slagoffers van misdaad, korrupsie en geweld’
Die kerk is diep verontrus deur die moontlike uitwerking wat die ontwrigting van ’n staking soos hierdie, op miljoene hardwerkende, eerlike en desperate Suid-Afrikaners kan hê. Dit is dieselfde burgers wat ly as gevolg van die gevolge van energie-onsekerheid, waterontwrigting, werkloosheid en voortslepende armoede.
Gesien in die lig van die huidige Nehawu-staking, kan nie logies beredeneer word hoe die Suid Afrikaanse samelewing enigsins kan baat vind ’n staking soos die een wat beplan word nie.
Nieteenstaande die erkenning van die reg van burgers om protes te gebruik en deur stakingsaksies hul griewe uit te spreek, word ander burgers op hul beurt van hul reg op vrye beweging reg op werk en lewensbestaan ontneem.
Dit is teen die agtergrond van die moontlike uiters negatiewe gevolge dat die NG Kerk saam met ander geloofsgemeenskappe ‘n beroep op die EFF doen om hul beplande ontwrigtende massa-aksie, te heroorweeg.
LEES OOK: Droogte: ‘Die Here weet wie jy is, waar jy boer en waardeur jy gaan’
In plaas daarvan om die land tot stilstand te bring, word ’n oproep gedoen dat ons sal bid en werk vir ’n beter bestel waar aktiewe burgers kan bydra tot hul families, gemeenskappe en land se welsyn. ’n Beroep word gedoen op alle Suid Afrikaners, ongeag hul politieke oortuiging, om hul rol konstruktief te speel in belang van ’n gesonde demokrasie, ‘n verantwoordelike burgery en ‘n florerende ekonomie.
In plaas daarvan om besighede te ontwrig, laat ons ons beywer om ruimte en geleenthede te skep vir duisende werkloses om hulle drome van ’n werk en inkomste te bewaarheid en dit moontlik te maak vir diegene sonder hoop om tot die welwese van die land by te dra.
In plaas daarvan om werkers op pad werk toe te intimideer en skade aan te rig , laat ons eerder ’n manier vind om die lot en omstandighede van werkers te bevorder deur beter publieke vervoer en ‘n verbeterde infrastruktuur moontlik te maak.
Kom ons verskaf leierskap uit alle segmente van ons samelewing, insluitend die opposisiepartye en arbeidsbewegings, om by te dra tot ‘n beter en meer welvarende samelewing. As kerke moet ons ons beywer om etiese leiers toe te rus om innoverend gemeenskappe te transformereer en sodoende euwels soos korrupsie teen te werk.
Laat vrede, geregtigheid en ‘n passie vir ons nasie die gees wees waarin ons almal saam te werk gaan om die lewe van elke landsburger te verbeter.
- Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.
