Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johann Theron van Kraaifontein skryf: Na aanleiding van die brief “Om kerke te bou op ’n rasbasis is liefdeloos”, moet ’n mens dalk daarop wys dat dit nie slegs liefdeloos is nie – maar sonde. Die Wes-Kaapse Sinode het reeds by meer as een geleentheid besluit dat die Belydenis van Belhar Skriftuurlik is. Die belydenis sê nie net dat dit sonde is nie, maar die belydenis verwerp die leerstelling “wat ontken dat ’n weiering om een te word sonde is”.
Die verwarrende is dat die NG Kerk so ’n hoë premie op die missionale aard van die kerk plaas en selfs op die punt staan om ’n missionale kerkorde daar te stel. Hoe missionaal kan ’n mens wees as jy nie eens verenig kan lewe met jou eie “Sendingkerk” (tans VGK) nie? Die ontstellende is dat die kerkleiding die missionale aard van die kerk eerder sien in die barmhartigheidswerk of die ekumeniese gesprekke met ander kerke. Daar word egter nie dissipline toegepas om die valse leer teen te gaan nie. Die mooi verduideliking is dat ’n mens eers jou broeders wil oortuig. Sou ’n mens dan saam met jou broeders in sonde leef terwyl ’n mens hulle probeer oortuig van daardie sonde?
Sonder die eenheid met die VGK kan ons kerk nie missionaal wees nie. Die probleem met hierdie verwerpte leer (wat ontken dat die weiering om een te word sonde is) is dat die res van die kerk hierdie leer stilswyend aanvaar. Ons sê die kerk is oop, maar daar is steeds wit diefwering voor vele kerkdeure.
Jesus se laaste opdrag is: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt 28:19-20). Dit beteken missionale uitreik gevolg deur lidmaatskap. Die praktyk in ons kerk is eerder dat daar nie uitgegaan word na die nasies nie – daar word nasiebeheer by die deur toegepas! Dan word hierdie beheer heimlik goedgepraat deur Belhar nie te bely nie. Hierdie sondige leer veroorsaak dat die kerk gaan leegloop, want die loon van die sonde is …
Die probleem wat hiermee ontstaan is dat die Woord nie te positief oordeel oor sonde wat opsetlik gepleeg word nie. Eli weet sy kinders neem wederregtelik offers en verneder vrouens in God se tempel, maar hy bestraf hulle nie. Eli is genadiger as God oor sy kinders, maar waar is die genade vir die vrouens en die eer van God? God se oordeel oor Eli se seuns is God se genade oor die vrouens en die herstel van God se eer. God oordeel dat daar nie meer ’n offer gebring kan word as versoening vir Eli se familie nie (1 Sam 3:13-14). Ons lees weer hiervan in Hebreërs 10:26: “Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie”.
Na die aanvaarding van die Skriftuurlikheid van Belhar is ons nie net besig om te sondig as kerk nie, ons is besig om opsetlik voort te gaan met ’n sondige leer en/of om dit stilswyend, soos Eli, te aanvaar.

Ek was vir baie jare betrokke by baie gesprekke oor kerkeenheid(of watter woorde jy ookal wil gebruik). Wat my nog altyd gepla het, was dat die NG Kerk steeds as die inisieerder van die gesprekke optree. Dat die NG Kerk in bereid is om sy bevoorregte posisie prys te gee en as gemeente hulle luukshede te los en by die “ander” suster in te skakel nie. Ons is belangrik en ons nooi hulle uit om na ons nie kom. Sluit die deure van jou mooi kerk en stap as gemeente oor na die ander kerk en aanvaar hulle liturgie en geloofsbelydenis en word een met die ander suster. Of is dit teveel gevra.
Ons bou sopkombuise, ons betaal die ander kerk se leraar en ons is so trots en dankbaar want ons dink dis die regte ding om te doen.
Laaste opmerking: ek betwyfel die getalle van die lidmate. Hoe tel jy lidmate, terwyl daar eintlik geen geografies gemeentegrense bestaan nie?