Re-membering community: Towards unconditional inclusion of LGBTQIA+ members deur Miranda N Pillay
Uitgewer: South African Council of Churches, Western Cape (SACCWC), 2022
Resensent: Charlene van der Walt
Hoewel gesprekke oor gender en seksualiteit hoofsaaklik te make het met liggame en beliggaamde ervarings, wentel gesprekke rakende hierdie sake in geloofsgemeenskappe dikwels af tot verskille aangaande Skrifinterpretasie. Gesprekke in geloofsgemeenskappe aangaande gender en seksualiteit begin selde by die beliggaamde ervarings van hulle wat self identifiseer as LGBTQIA+, maar raak eerder verstrengel in ’n heen en weer stryd tussen kampe wat die Bybel op verskillende maniere aanhaal en interpreteer.
Prof Miranda Pillay, wat self identifiseer as ’n cis-gender heteroseksuele vrou, poog as LGBTQIA+ bondgenoot en Bybelwetenskaplike met hierdie hulpbron om geloofsgemeenskappe te ontmoet in plekke waar gesprekke vasgehaak of doodgeloop het as gevolg van die interpretasie van sekere sleuteltekste.
Die hulpbron, wat kan dien as ’n handige gespreksgids vir geloofsgemeenskappe wat graag ’n ruimer gesprek wil begin rakende gender en seksualiteit, bied belangrike riglyne vir die inrig van spasies waar ’n verskeidenheid van perspektiewe tot hulle reg kan kom, asook grondige Bybelwetenskaplike omgang met ’n paar sleutel-Bybeltekste. Die hulpbron waarvoor die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in die Wes-Kaap die opdrag gegee het, het ten doel om geloofsgemeenskappe te bemagtig om die gesprek rakende seksualiteit en die Bybel op ’n sinvolle manier te begin.
Siende dat die gesprek dikwels by tekste soos Genesis 1 en 2, Levitikus 18 en Romeine 1 vashaak, is hierdie ’n belangrike en noodsaaklike hulpbron. Ek dink egter dit is belangrik dat die gesprek ook aanbeweeg van hierdie eerste rondte omgang met deurgetrapte tekste, sodat daar hulpbronne die lig kan sien wat gelowiges aanmoedig om hulle eie beliggaamde ervarings in gesprek te bring met die verhale van die Bybelse teks.
So, vir hulle wat ’n ruimer gespek wil begin rakende die Bybel en seksualiteit, neem op, lees en leef! Maar, laat dit nie die einde van die gesprek wees nie en laat ons met meer waagmoed ons lewe en liggaam bring na die Bybelinterpretasieproses.
- Re-membering community is gratis aanlyn beskikbaar.
- Nota: Geïnspireer deur Pillay se skrywe, het Van der Walt hierdie gedagtes oor Bybel en die gesprek oor seksualiteit neergeskryf.
- Prof Charlene van der Walt was tot onlangs die hoof van die Gender and Religion Unit by die School of Religion, Philosophy and Classics aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in Suid-Afrika en adjunkdirekteur van die Ujamaa Center for Biblical and Theological Community Development and Research, maar is tans die Kerk van Swede se globale koördineerder vir teologiese opleiding.
