Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Alf Olivier van Pretoria skryf: Neels Jackson reken in sy skrywe ‘Daar is nie ’n enkele teks (in die Bybel) wat gay verhoudinge van liefde en trou veroordeel nie’. So lees hy die Bybel met ’n skewe bril om sy eie siening daarin te probeer staaf.
Veral Jackson se opvatting oor 1 Korintiërs 6:9-10 moet heroorweeg word: In hierdie teks gaan dit juis oor wie die ewigheid sal beërwe. Diegene wat aanhou sondig (insluitende diegene wat aanhou om homoseksualiteit te beoefen) sal nie die ewigheid beërwe nie. Paulus vra dan tereg – of ons dan sal aanhou sondig – en of ons sal bekeer van die sonde? Hy stel dit so (in Efesiërs 4:22-24): “22 Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. 23 Julle gees en gedagtes moet nuut word; 24 lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”
LEES OOK: ‘Daar is nie ’n enkele teks (in die Bybel) wat gay verhoudinge van liefde en trou veroordeel nie’
In 1 Timoteus 1:8-11 verwys Paulus na goddeloses en sondaars – waaronder hy ook die homoseksuele insluit. Volgens Jackson se siening dat hierdie teks met afgodediens te doen het en Paulus hulle praktyke afkeur, moet die vraag gevra word hoekom hy dan hierdie praktyke as Christen wil goedpraat?
“Ruim huis” is tog ’n drogrede
Die liefdesgebod van Romeine 13 waarna Jackson verwys begin met ’n verwysing na verskeie sondes en die konteks is duidelik dat die Bybelse liefde nie die goedkeuring van sonde is nie. Volgens geykte Skrifinterpretasie is alle seksuele omgang buite die huwelik tussen man en vrou sonde. Dit sluit in voorhuwelikse seks, buite-egtelike verhoudings en alle selfdegeslagverhoudings.
Liefde vir die medemens is nie die goedpraat van hulle sonde nie (en goedkeuring van gay verhoudinge nie) – nee, inteendeel – naasteliefde is die liefdevolle vermaning om terug te keer na God se wil vir jou lewe.
Waar Jackson dit wel raakvat is dat promiskuïteit verkeerd is. Die Bybel vereis van ons om ons seksualiteit in ’n liefdevolle, heteroseksuele verband (die huwelik) uit te leef. Nêrens in die Bybel word ’n homoseksuele verhouding goedgekeur nie.
LEES OOK: Oor liggame gepraat: Wie se stories en stemme word (nie) gehoor?
Miskien wil Neels homself vergewis oor hoekom die Anglikane tydens hulle Gafcon in Kigali, Rwanda in April 2023 oorwegend die liberale siening oor selfdegeslagverhoudinge (SGV) verwerp het ten gunste van die Bybelse siening oor die huwelik. Verder kan hy ook baat vind deur na te vors hoekom alreeds meer as 6 000 Metodiste gemeentes afgestig het van die liberale Verenigde Metodiste Kerk (UMC) wat LGBTQ+ verhoudings goedkeur.
Hierdie is tog ook een van die sentrale verskille tussen die Algemene Sinode en die Koinonia Sinode: naamlik die Skrifinterpretasie oor SGV en die gepaardgaande “Ruim huis”-benadering wat voorstel dat elke kerkraad self kan besluit om SGV goed te keur, of nie. Die “Ruim huis” is tog ’n drogrede: Dit is nie ’n opsie vir gemeentes wat daarteen is nie, omrede hulle nie tug kan toepas oor lidmate of amptenare wat in ander gemeentes toegelaat is om ’n SGV te voltrek nie, en daarna na hulle oorgeplaas is nie.