Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Christo Lombaard skryf: Oor óú dominies en quiche

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

“Hoeveel vir dié quiche?” vra ek oor die tuisnywerheidtoonbank heen. Soos gewoonlik sit en tik die man op sy foon; prekies oor Bybelverse wat hy vir sy kinders oorsee WhatsApp, het hy my ’n keer vertel.

“Vyf-en-dertig rand”, antwoord hy.

“So goedkoop?” is ek skoon verbaas.

“Dan is jy jonk,” kyk hy eenoog van sy foonskerm af.

“Wel, op 56 …?” wil ek hom reghelp.

“Nee, dis nie jare nie.” Hy sit die selfoon neer. “Dis verwysing.”

Uit vorige kere weet ek, hier kom ’n staaltjie.

“Dit werk so,” begin die vertelling.

“As jonger mense hier inkom, en hulle weet wat goed deesdae in die winkels kos, dan dink hulle my quiches is goedkoop. Maar die ouer garde … Nie dat ek iets teen hulle wil sê nie. En ook nie almal nie. Dis net, party onthou nog hoeveel ’n quiche was, járe gelede. Dekades, dalk. By ’n kerkkermis of iets. Hulle kan dit nie help nie: hulle vergelyk my pryse met daardie tye s’n. Dan kom ek sleg af. Maar almal darem nie. Ander verstaan vandag se tye, en dán lyk ek weer goed.”

“Ek verstaan,” por ek hom aan.

“Dis soos kerk,” stel my gespreksgenoot my nie teleur nie. “As daar ’n jong dominee in die gemeente kom, maar die ouer een is nog daar. Dan is dit soos in ’n Koöperasiestorie of ’n Jan Spies-vertelling … Hoe’t hulle gesê? – ‘Óú Dominies’ en ‘Jong Dominee’. En daar’s ’n gesukkel, want die een klompie wil dinge nog hoor soos dit járe gelede altyd gestel is. Dekades, dalk. Maar die res weet die wêreld is nou anders, en ons moet ou dinge anders sê as ons wil hê mense moet hoor. Hulle verstaan net vandag se tye.”

Sodat vandag se teologie-studente sal verstaan

Non nova, sed nove, dink ek by myself. Maar ’n mens haal nie sommer Latyn in ’n tuisnywerheid aan nie. ‘Nie nuut nie, maar opnuut.’ ‘Ou waarhede, hedendaags gestel’.

“Dan is ek van Jong Dominee se mense, as ek dink jou quiche is lekker goedkoop?” hoop ek op duidelikheid.

“Solank jy dink dit smaak lekker!” – steeds ’n goeie verkoopsman …

“Dis by die Teologie-fakulteit waar ek klasgee, ook so,” waag ek dit. ’n Mens praat nie aldag kerk in ’n tuisnywerheid nie. Maar aangesien die toonbankman gereeld foonprekies stuur, is dié darem nie dweep nie.

“Jy bedoel …” wonder sy gesigsuitdrukking saam met sy stemtoon of iemand ook quiche daar verkoop.

“Nee, jou ‘Óú Dominies’-voorbeeld”. Ek verduidelik beter: “Daar is mense in die kerk wat dinge nog wil hoor op dieselfde manier as járe gelede. Maar ons fakulteit moet jong dominees oplei vir vandag. Vir môre. Nie vir, dalk, dekades gelede nie. Dieselfde evangelie, maar nuut verwoord.” (Ek hou my goed in met daardie lekker Latynse sêding: dis ook te gister vir nou.)

“Ek verstaan,” por hy my aan.

“Dan gebeur dit soms in die kerk …” stel ek my gespreksgenoot nie teleur nie. “Daar is mense wat dink die prys is te hoog: dinge moet wees soos in hulle jong dae. Dan skryf iemand ’n kwaai brief vir ’n koerant, en sê ons by die fakulteit glo nagenoeg niks meer nie.

Maar ons glo nog soos altyd alles. Ons sê dit net anders. Sodat vandag se teologie-studente sal verstaan. Binne húlle leefwêreld. Nie binne dekades gelede se konteks nie. Sodat hulle die Woord kan verkondig, óók vir die mense van vandag. En van môre. Nie net vir die mense van járe gelede nie.”

“Dit is wat ek ook sal … hmmm … kiesh”. Die goeie verkoopsman ken my woordspelhumor.

“Ek sien jy het nog heelwat oor, om van …” glimlag ek ewe veel vir sy kwinkslag as vir die twee ander wat deur my gedagtes maal, ongesegd. Hierdie gesprek had wysheid genoeg.

  • Prof Christo Lombaard is departmentshoof van Praktiese Teologie & Missiologie aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top