Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Schalk van der Merwe, Langebaan skryf: Die brief ‘Daar is nie ’n enkele teks (in die Bybel) wat gay verhoudinge van liefde en trou veroordeel nie’ verwys. Ek wil hierdie antwoord rig aan my broer Neels Jackson, en ek doen dit met die grootste liefde en uit die diepte van my hart. Ek hoop jy sien dit ook so. Ek wens ons kon eerder langs die see gesit en gesels het.
As gevolg van beperkte woorde kan ek ongelukkig nie jou brief volledig antwoord nie, daarom spreek ek slegs kerngedagtes aan.
Ek wil begin deur met jou saam te stem dat daar nie ’n enkele teks in die Bybel is wat “gay verhoudinge van liefde en trou veroordeel nie”. Die rede daarvoor is omdat dit ’n Bybelsvreemde term is. Hierdie is ’n post-moderne liberale gedagte wat nie tuis hoort in die Bybelse konteks van homoseksualiteit nie, aangesien die Bybel dit bloot as sonde en “’n gruwel” beskou. Die Bybel sien liefdevolle verhoudings (eros-liefde) slegs binne die huwelik van ’n man en ’n vrou.
Onthou, elke teks in die Bybel wat handel oor die huwelik is eintlik ’n teks wat homoseksualiteit verbied, daarom is jou aanname van slegs “’n handjie vol” tekste nie korrek nie.
Jou argument dat die NT-tekste eerder na heidense praktyke verwys kom eintlik van ’n skrywer Matthew Vines af wat verwys na praktyk wat pederastie genoem word. Alhoewel daar sulke praktyke was kan dit beslis nie aangeneem word dat Paulus spesifiek hierna verwys nie, daar is geen bewys in die Skrif daarvoor nie.
Vanuit die tweede deel van jou brief waar jy dit stel “solank ander net nie daardeur benadeel word nie” na aanleiding van Romeine 13: “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet,” wil ek sê dat dit in die eerste plek oor God gaan. Om nie ander te benadeel nie, beteken ek kan baie ander sondes doen.
Die blote aanname dat homoseksualiteit niemand benadeel nie is ook verkeerd, want dit benadeel die persone wat dit beoefen deurdat dit hulle God se ewige heerlikheid ontneem. Is die feit dat mense in sonde leef nie tot hulle nadeel nie? Wees heilig, soos Ek heilig is beteken ’n lewe as offer tot eer van die Here.
Ons moet onderskei dat die liefde waarna Paulus verwys in Romeine 13 “agapé” of wedersydse menslike liefde is. Eros is soos in ’n verhouding tussen ’n man en ’n vrou. Ja, agapé doen die naaste geen kwaad nie, maar dit geld nie eros nie. Eros-liefde kan ook aanleiding gee tot baie sondes soos egbreuk, ens. Die Bybel waarsku gelowiges teen sonde van die vlees.
Die feit dat ons taal nie onderskeid maak tussen die verskillende liefdesvorme, soos in Grieks nie, moet nie deur ons uitgebuit en verdraai word om ons eie motiewe te motiveer nie.
Bybelse agapé-liefde kan nooit voorgestel word as “homoseksuele liefde” nie.
Die grootste vorm van liefdeloosheid is om mense wat op die verkeerde pad is nie reg te help nie (Jak 5:19).
God is soewerein. Hy maak die reëls van die lewe, ons dink baie keer dit is onregverdig, maar in sy soewereine raadsplan weet Hy die beste vir ons.
Ek bid jou seën toe op jou lewenspad.