Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: In sy brief van 27 Julie “Kom ons lees die teks” probeer Neels Jackson steeds om lesers te oortuig dat Romeine 1 slegs die homoseksuele gedrag afkeur waar mense “binne ’n afgodskultus hulleself oorgee aan seksuele orgies met mense van dieselfde geslag”.
Dit staan natuurlik nêrens in die teks of konteks nie. Volgens hom is die sonde dus nie soos Paulus sê, hulle “skandelike drifte” (“siek begeertes” – DB), na teen-natuurlike seks nie, maar slegs die “orgies” en “afgodskultusse”. Om so ’n siening onbeantwoord te laat sal liefdeloos wees teenoor baie lidmate wat ernstig daarmee worstel. Ten diepste gaan die debat oor twee verskillende evangelies.
LEES OOK: ‘Liezel, ons sal jou nooit vergeet nie’ – familie onthou wyle ds Liezel de Jager
Paulus fokus nie regtig net op die homoseksuele praktyke wat hy noem nie. Hy fokus eintlik op sy positiewe getuienis in vers 16: “Ek skaam my nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood maar ook vir die Griek.” As ons die hele hoofstuk lees sien ons dat Paulus se boodskap in direkte kontras staan met ’n ander sekulêre evangelie wat sekere mense ook in Rome verkondig het. Daar was twee teenstrydige sienings van sonde wat neerkom op twee teenstrydige evangelies.
- Met die evangelie van Christus (OAV) openbaar Paulus kaalkop al die afskuwelike sondes van die Grieke, Romeine en Jode. Niemand se sonde word misgekyk of goedgepraat nie. Na die homoseksuele praktyke (v 24-28), noem hy nog meer as 23 sondes tot by gebrek aan medelye (v 31). Juis daarom skaam hy hom nie vir die evangelie nie, want daardeur red God mense deur geloof en bekering uit enige van hierdie sondes. Van homself erken hy later: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” (Rom 7:24-25). Die Heidelbergse Kategismus verduidelik ook hierdie kragtige evangelie met drie sleutelwoorde: sonde, verlossing en dankbaarheid. Ons mag nie een oorslaan nie. Paulus noem ’n lys van 23+ sondes van die heidene en Jode in Rome en sê sonder om te huiwer dat almal wat dit doen die dood verdien. Ware bevryding kom slegs deur gelowige berou en bekering.
- Ander evangelie: In die gemeente van Rome was daar mense wat ’n ander soort oplossing gepropageer het. Vers 32: “mense wat – al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien – dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” Dit is ’n ander evangelie. Baie maklik: praat die sonde goed, laat jou predikers dit self ook doen en maak dit so tot sosiaal aanvaarbare gedrag. Dit troos mense kunsmatig om sorgvry in hulle sonde te volhard want die gedrag word goedgepraat en het sosiaal aanvaarbaar geword.
Eers as almal ophou om self en ander te mislei deur ontkenning en sosialisering van sonde, sal ons saam met Paulus kan sê: Ek skaam my nie vir die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo (OAV) …
