Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Neels Jackson van Centurion skryf: In sy brief “Gay debat: Tyd om eerlik te wees” (Kerkbode 19 Julie 2023) reken Theo Danzfuss ek pleeg inlegkunde as ek sê die tekste wat seksuele verkeer tussen mense van dieselfde geslag veroordeel, en dan spesifiek Romeine 1, gaan oor seksuele verkeer binne die konteks van afgodsdiens.
Kom ons lees die gedeelte (Romeine 1:18-31) saam.
LEES OOK: Die Gay-debat deur die jare op Kerkbode
Paulus begin in vers 18 om te praat van “die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk”.
In die volgende vier verse argumenteer Paulus dat die kennis van God binne hierdie mense se bereik was, maar dat hulle gekies het om God nie te dien nie, en dat hulle daarom dwaas is.
Vers 23 is duidelik: “In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange.”
LEES OOK: Frederick Marais: Dán word debat eerder dialoog
Die mense oor wie Paulus praat, is besig met afgodsdiens, en dit is hulle wat volgens vers 24 deur God aan hulle drange en aan sedelike onreinheid oorgegee word. Vers 25 herhaal die gedagte van afgodsdiens: “Hulle dien die skepsel in plaas van die Skepper”.
In vers 26 en 27 vind ’n mens dan die beskrywing van die sedelike onreinheid.
Met die konteks van afgodsdiens wat so deur die teks self beklemtoon word (dit word weer in vers 28 gedoen) lyk dit vir my duidelik dat dit hier gaan oor heteroseksuele mense wat hulle binne ’n afgodskultus oorgee aan seksuele orgies met mense van dieselfde geslag.
Seksuele praktyke en selfs orgies was immers destyds bekende verskynsels in afgodstempels.
LEES OOK: Konstruktiewe joernalistiek: Om harder te luister
Dít lyk vir my na ’n veel aanneemliker interpretasie van die teks as om dit van toepassing te maak op jong mense wat in Christelike huise grootword, wat in ons kerke gekatkiseer is en gedoop is, wat God liefhet en Hom in ons gemeentes dien, maar wat ook ’n soort seksualiteit in hulle voel ontwaak wat hulle aangetrokke laat voel tot mense van dieselfde geslag en wat dan gay verhoudings aanknoop.
Ds Danzfuss kan my verwysing na 1 Korintiërs 11 en die debat oor hoede afmaak as “die ou deuntjie”, maar hy antwoord nie op die argument dat ons die konteks van die teks ernstig moet opneem as ons die teks reg wil verstaan nie.
In Romeine 1 word die konteks van afgodsdiens herhaaldelik deur die teks self gegee. Dit is nie inlegkunde nie.