Dán word debat eerder dialoog

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar het die afgelope tyd ge­sprekke oor kerklike sake op sosiale media plaasgevind wat gevaarligte laat aangaan. Gevare wat in die dokumentêr The social dilemma van Jeff Orlowski beskryf word. Dié dokumentêr waarsku onder andere dat die gevaar nog nooit in die geskiedenis so groot was soos dit tans is dat die aandag van individue en groepe so maklik met behulp van sosiale media gemanipuleer kan word nie.

LEES OOK: Pinkster: Dit is tyd vir ’n nuwe begin

Dit werk min of meer so. Ek voel ek het sterk oortuigings oor ’n saak. Ek neem enkele woorde of sinne van persone van wie ek vermoed dat ek verskil. Om my saak te versterk en meer aandag te kry, neem ek dié enkele woorde uit die gesprek en verbind dit aan ’n uiterste standpunt wat ek weet in diskrediet is by my gehoor. So steek ek ’n vuur van verdagmakery aan. Uit bogenoemde bou ek ’n narratief van, “hier-sien-julle-weer-hoe-die-klomp-dink”, maar dit is lankal nie meer hulle woorde nie, nou is dit die narratief wat ek geskep het, se woorde. Ek maak ’n plasing op sosiale media, steeds sonder dat ek met die persoon in gesprek was. In die verbygaan raap mense die plasing op en begin kommentaar lewer met nog minder inligting oor die onderwerp, ek lewer verdere kommentaar met nog meer verdoemende kommentaar. “Wat gaan hier aan!” word gevra, waar daar ’n rokie is, brand daar ’n vuurtjie, en so verhoog die agterdog binne ure. Nou begin die berg brand. Na ’n dag of so, raap ander media dit op en hang die sensasie van die gesprek aan die lamppale. Die berg brand af. Uiteindelik ontvang iemand ’n e-pos van iemand wat hom glad nie ken nie, maar verplig voel om hom in die naam van God die ewige verdoemenis te belowe. Ek is nie hier besig om in die eerste plek ander mense se foute uit te wys nie, dit is ook vir my ’n onaangename spieël om in te kyk.

Die missioloog Darrel Guder het hom soos volg hieroor uitgelaat. Die 21ste eeu sal getipeer word as ’n tyd waarin kompleksiteit toeneem en mense, ook Christene, al hoe meer en al hoe makliker van mekaar gaan verskil. Een van die grootste uitdagings van die kerk gaan wees om te leer om van mekaar te verskil op so ’n manier dat dit die evangelie van Christus waardig is. Paulus maan ons in Filippense 1:27(b) “… dat julle in volkome eensgesindheid stand­vastig saamstry vir die geloof in die evangelie …” Eensgesind beteken na­tuur­lik nie dat ons eenders dink nie, allermins. Om saam te stry, beteken hier ook nie dat ons saamstry teen ’n gemeenskaplike vyand nie, maar eerder dat ons saam in stryd is met mekaar, soos twee stoeiers wat kragte meet in die kryt. Elkeen het ’n ander greep op die waarheid. Ons meet die waarhede op teen mekaar nie om mekaar te wen nie, maar om so saam te stry “vir die geloof in die evangelie”.

Die gesindheid waarvan Paulus hier praat definieer hy as dieselfde gesindheid wat daar in Christus Jesus was (2:5). Gesindheid is die vertaling van die Griekse woord phroneo wat ook vertaal sou kon word met “manier van dink”. Hierdie phroneo van Christus (manier-van-dink) is duidelik nie om te verskil van mekaar deur verdagmakery nie. Dit is veel eerder om te midde van verskille saam te dink en na mekaar te luister en weer te luister totdat ons van mekaar leer, mekaar leer verstaan en waardeer.

Die meeste van ons is geskool in ’n ander vaardigheid. In gesprekke luister ek totdat ek die fout in jou argument raak hoor en dan gebruik ek dit om jou standpunt ongeldig te verklaar. Dit is so diep in ons kerkkultuur dat dit die verstekposisie is in die meeste gesprekke waar mense van mekaar verskil.

Otto Scharmer beskryf in sy bekende boek Theory U: Leading from the future as it emerges ’n manier van luister wat vir my veel nader kom aan eensgesindheid wat saamstry vir die evangelie. Gewoonlik, vertel hy, is mense geneig om hulleself teenoor ander te wil verdedig, of om die ander verkeerd te bewys. Dit is wat ons in debatvoering doen waarin ons mekaar probeer uitoorlê, of deesdae op sosiale media. Ons kan beter doen as ons na mekaar luister met die gesindheid om by mekaar te leer, dan word debat dialoog. Ons kan verder gaan, verduidelik Scharmer, en onsself inoefen om só te luister dat ons die persoon agter die woorde leer ken en waardeer. Hy noem dit empatiese luister. Maar, vertel hy, daar is nóg ’n moontlikheid, het hy agtergekom in sy navorsing. Wanneer mense met verskillende standpunte lank genoeg na mekaar luister, ontstaan daar wat hy noem generatiewe luister. Daar kom in die gesprek momente, waar ons bewus word van ’n nuwe toekoms wat onverwags deurbreek. Generatiewe luister is wanneer daar in gesprekke met ’n diversiteit en selfs konflikterende stemme momente kom wanneer ons verwysing nie meer die verlede is nie, maar die moontlikhede wat die toekoms bied. Die veld van waaruit ons luister is nie meer die probleme van die verlede nie, maar die moontlikhede van die toekoms.

LEES OOK: Video: Só het NG Kerk verander – Neels Jackson

Dit werk so. Ek word bewus daarvan dat ek van iemand verskil. Ek kontak die persoon en ons begin met mekaar te gesels met die gesindheid dat ons by mekaar kan leer. Ons begin ontspan by mekaar, verskil van mekaar, maar leer ook by mekaar. Help mekaar om ons standpunte te vertaal in ons eie verstaansraamwerke. Ons drink koffie, ons eet saam, maak weer afsprake, en dan onverwags terwyl ons eintlik oor iets anders praat, ontdek ons ’n nuwe moontlikheid selfs al verskil ons nog steeds van mekaar.

Andrew Murray was al ’n ou man en na aanleiding van een van sy boeke skryf ’n jong predikant ’n brief in die kerklike media. Dit is ’n goeie boek, skryf hy, maar ook dat hy nie met alles saamstem nie. Murray se volgelinge is verontwaardig dat so ’n jong man dit durf waag om van Murray te verskil. Murray self stuur egter ’n uitnodiging: ‘Kom gesels met my sodat ek met jou kan saamstem’. Ek dink ek wil dit meer begin doen.

  • Dr Frederick Marais is voorsitter van die Algemene Kuratorium.
Word 'n vriend van Kerkbode