Pinkster: Dit is tyd vir ’n nuwe begin

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die wyse waarop Pinkster in die NG Kerk gevier word is een van die kerk se unieke en uitstaande kenmerke. Geen ander Afrikaanse kerk hou pinksterdienste of pinksterbidure nie. Hierdie gebruik dateer uit 1861 toe die eerste pinksterbidure onder leiding van ds GWA van der Lingen in die Paarl plaasgevind het. Op soek na herlewing in die gemeente, is daar besluit dat gemeentelede vanaf Hemelvaart tot met Pinkstersondag aktief om herlewing sou bid. Die gevolg was ’n herlewing wat vanaf 1862 gaandeweg na al die ander gemeentes van die NG Kerk oorge­spoel het. Deur die geskiedenis het hierdie gebruik van pinksterbidure tot nuwe lewe in honderde gemeentes en in die lewe van duisende lidmate gelei.

LEES OOK: Oor onthou en vergewe … Dana Snyman gesels met Reggie Boesak

Ongelukkig het dit oor die afgelope dekades verwater. Verskeie “goeie” redes word hiervoor aangevoer: “Twaalf dae van Hemelvaart tot Pinkster is te lank vir die besige mense van ons tyd”, “Dit is te gevaarlik om in die aand diens­te by te woon” en “Mense se behoeftes het verander” is van die redes wat aangevoer word. In baie gemeentes het Pinkster in vertoningsdienste ont­aard waar beroemde en bekende predikers vir drie of vier aande die skares moet lok, in so ’n mate dat dienste selfs op ander tye gereël word sodat dié predikers geakkommodeer kan word. Daarvoor word plakkate teen pale opgesit en grootskaalse bemarking gedoen.

Die rol van Pinkster het ook in die kerkverband in meerdere vergaderings van die agenda verdwyn. Tydens die sinode van 1986 is daar nog verwys na ’n oproep in Die Kerkbode van 9 April 1986 onder die opskrif “Pinksteroproep vir die noorderwind van God se Gees”. In hierdie oproep is gemeentes versoek om groot erns te maak met Pinkster om sodoende terug te keer na die Here “in die ernstige en moeilike tye waarin ons leef”. In 1990 het die Algemene Sinode ’n laaste keer oor Pinkster gepraat nadat ’n versoek van die Sinode van Noord-Kaap vir teologiese besinning verwys is. Toe is daar vir die afgelope 30 jaar stilte!

LEES OOK: NG Kerk: ‘Kleiner, verder van mag … gesonder’

Miskien dwing die tyd waarin ons leef en die gevolge daarvan in die lewe van gemeentes en lidmate van die NG Kerk ons om terug te gaan na die begin van pinksterbidure. Dit is dalk nodig dat ons vir ’n oomblik die strydbyle in die kerk begrawe en vir 12 dae lank in verootmoediging in gebed voor die lewende Here sal buig. In 1861 was dit ’n nuwe begin! 160 jaar later is dit meer as ooit tyd vir nog ’n nuwe begin.

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode