Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prof Hoffie Hofmeyr van Pretoria skryf: Dr Frits Gaum is in sy KB-brief van 31 Julie 2023 reg dat ek wel bepaalde strepe trek tussen regsinnigheid en vrysinnigheid. Hy is egter nie reg dat ek dit rigied doen nie, want ek stel dit baie duidelik dat daar iets is soos meer regsinnig en iets soos meer vrysinnig. Dit is ook hyself wat sê dat hy volgens my tien teen een eerder ’n vrysinnige is. Dit wil sê hy voel dat die skoen van vrysinnigheid hom dalk beter pas.
Ek gaan nie op sy dikwels selfregverdigende en meestal irrelevante vrae (in sy brief) antwoord nie. Die vrae behoort egter op basis van die riglyne vir regsinnigheid en vrysinnigheid wat ek duidelik uitgespel het, beantwoord te word. Ek herhaal die riglyne ter wille van die rekord naamlik dat die Bybel as die Woord van God gebruik en gerespekteer moet word, dat die opstanding en ander kern- Bybelse en belydeniswaarhede vasstaan en nie as mites afgemaak mag word nie, en dat daar bepaalde ononderhandelbare en vasstaande waarhede is.
LEES OOK: ‘Drankverslawing is onlogies, onverstaanbaar, crazy’ sê nuwe boek
Ek wil nietemin kortliks op een of twee sake reageer. Ek is eerstens in my dinamiese en verantwoordelik gelowige oortuigings en beslis nie as ’n agtergeblewene, iemand wat duidelik onderskei tussen sake van die eerste en tweede belang, dws daar is kernsake en randsake. Terloops, ek is wel ’n bietjie verbaas dat hy my nie oor die dra van hoede uitvra of dit regsinnig of vrysinnig is nie! Dan net iets oor die Skriftuurlike fundering van apartheid: Gaum sal self weet dat ek reeds vroeg in my lewe vir hervorming gepleit het, en dat ek ’n baie noue pad saam met prof Ben Marais geloop het wat reeds in 1948 gesê het dat apartheid (soos ook slawerny) nie Skriftuurlik gefundeer kan word nie. Die NG Kerk het uiteindelik toe die pad van ’n volkskerk gekies met al die uitwasse daaraan verbonde. So is die huidige NG Kerk jammer genoeg tans besig om die pad van ’n nasiekerk te kies, en dit gaan uiteindelik in soortgelyke uitwasse opeindig.
Dr Gaum, neem kennis dat wat nou besig is om op verskillende vlakke te gebeur is dat enkele kerklike instellings soos gemeentes, ringe, streeksinodes en dalk ook die Algemene Sinode begin besef dat hulle hulleself in ’n spinneweb vasgedraai het. Dubbele standaarde en norme asook ’n ordeloosheid om maar alle vreemde standpunte te aanvaar, is aan die orde van die dag. Dit is juis waarom daar tans soveel onrus by sekere ander lidmate, gemeentes, ringe en streeksinodes bestaan. Skielik begin die waarheid nou seermaak en dit lyk vir my, vir wie integriteit en ’n lojaal-kritiese instelling steeds van die allergrootste belang is, dat die stoomroller-pad van geen (min) kommunikasie, heelwat leuens en ontkenning toe nie vir die leierskap gewerk het nie. Die NG Kerk en sy leierskap in sy huidige gewaad sal in die volgende paar weke voor die Algemene Sinode finaal moet kies waarheen hy wil beweeg: óf hy gaan deur gesprek, mediasie en reformasie terugkeer na ’n eietydse maar Skrifgetroue en meer regsinnige kerk, óf hy gaan hom soos by die Wes-Kaapse sinode in sy oorywerigheid vir humanistiese menseregte, skeefgetrekte sosiale en woke-geregtigheid en konteksgedrewenheid, soortgelyk aan Nederland op die vrysinnige doodloopstraat begin te pletter loop.
