Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gert van Rooyen van Roodepoort skryf: Ek sukkel met vergifnis. Ek weet dat Jesus se kruiswoorde “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie” ’n simboliese opdrag is van hoe ons met andere moet omgaan. Maar Here, ek sukkel daarmee. My sukkel kom nie van vergifnis as mense my (of enige iemand) te na kom op geestelike, kulturele, finansiële of watter vlak ookal nie, maar op ’n vlak waar mense fisiek wreedaardig optree.
Ter verduideliking lees ek so ’n paar weke gelede van ’n ouerige vrou wie se man wreedaardig in hulle oprit vermoor is. Waar sy op die mees wreedaardige wyse aangerand word en waar die aanvallers dreig om hulle kleinseun in die oond te druk.
LEES OOK | Brief: Moenie mediasie met arbitrasie verwar
Ná hulle skuldigbevinding sê die vrou sy het die aanvallers vergewe, want hulle weet nie wat hulle gedoen het nie. Soos: Wat sou Jesus doen (WSJD)?
Here, dit is hoe U wil hê ons moet optree teenoor andere, en dit is goed, maar, Vader, ek sukkel met vergifnis. Ek sukkel om soos daardie vrou te wees.
Ek en my gesin en familie was al slagoffers van misdaad, maar toe ek net voor die bogenoemde geval verneem dat my vrou se niggie aangerand is en ernstige trauma beleef, verloor ek dit.
Wat besiel sulke mense om weerloses so wreed aan te val of te vermoor? Ek twyfel nie dat sulke optredes van ’n bose mag kom nie. Daar is geen ander verduideliking daarvoor nie, of is daar? Soek hulle vergelding? Is hulle werkloos en honger? Of het hulle maar net die duiwel in hulle?
Here, ek kry nie antwoorde nie. Ek sukkel met vergifnis. Nou moet ek vra: Here vergewe my, want ek kan nie vergewe nie. Is dit regverdig om dit van U te vra?
