Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Slypskool 2023: ’n Nuwe ratkas vir teologiese opleiding?


“Julle is opgelei as aktiviste en beskik nie oor nog ’n ander rat nie. Ons benodig nou ’n ander rat.” Só praat dr Frederick Marais, voorsitter van die Algemene Kuratorium, in ’n oop gesprek tydens Kerkbode se pas afgelope slypskool vir skrywers by eMseni in Benoni. Dié woorde van Marais fassineer my, want ek staan tegelykertyd aan die binne- sowel as buitekant van die gesprek se spervuur. Ek is self ook ’n dosent (in Bloemfontein), asook ’n lid van die Algemene Kuratorium se vergadering.

Gedagtig aan al die brandpunte oor teologiese opleiding wat dikwels smeul in die media en ander wandelgange, en meegaande gewag oor die bespreking van die verslag tydens Oktobermaand se Algemene Sinode, kan ek nie help om te wonder (en verder te gaan grou na) wat agter Marais se vlymskerp insig skuil nie. Sal ek die skoen, wat dalk pas(gemaak is vir my), probeer aantrek, of eerder help met die ratkas waarna gesoek word?

LEES OOK: Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem

Voor ek hierop ’n voorlopige antwoord bied, is dit belangrik om tog in gedagte te hou hoe die verslag wat gaan dien, juis begin deur te herinner aan die omvattende voorstelle ten opsigte van teologiese opleiding wat in 2019 aanvaar is. Teen dié tyd ken die meeste van ons nou al die deuntjie oor die vermeerdering van bane waarbinne die opleiding kan geskied, en sing ons die koortjie van missionale teologie wat dit op allerlei maniere omvat en dryf. Die verslag van die Algemene Kuratorium oor teologiese opleiding sou met goeie rede as ’n kortbegrip en aksieplan van missionale pedagogiek en ekklesiologie omskryf kon word. Hier het ons nou beslis ’n al duideliker prentjie van hoe die missionale Trinitatis sedert 2013 amptelik op die voorgrond van die NG Kerk se agenda (én kerkorde) na vore sou tree.

Verklaar dít Marais se skerp kommentaar hierbo? Bogenoemde loopgraaf bied ’n fondasie, en tog is daar nog veel meer skietgoed aan wat hy vir ons sê. Trouens, laat ek Marais nie buite konteks aanhaal nie, en ook noem dat hy in daardie selfde asem eintlik begin het met ’n verwysing na die ontslape profeet, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu se woorde in 2015 tydens die eerste fees must fall proteste, naamlik dat die studente eintlik hier besig is om ’n oop deur oop te skop. As ek Marais reg hoor, gaan dit nie net oor meer bane vir opleiding nie, maar veral om die groter “nuwe” ratkas van teologiese opleiding. Die vraag op hierdie punt is nie of ons uit rat uit wil klim nie (ons speelgoed gaan uitgooi), maar veel eerder die ratverwisseling kan maak (en saamspeel).

In plaas van die ooglopende fokus op alles wat verkeerd is in ons samelewing, en wat óns alles self-sien-kom-klaar daaraan moet doen, bied die jongste verslag ’n semi-outomatiese ratkas wat wys hoe daar inderwaarheid reeds Iemand is wat daardie deur vir ons oopgemaak het, en iets daadwerklik daaraan doen. In plaas van die tantrums (“stuck in reverse”), wees eerder gerat (en span die seile) vir die Trinitariese dans.


Martin Laubscher doseer praktiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, en is ’n lid van die Algemene Kuratorium.

Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top