Deur nuuswerkers te belet by ’n nuuswaardige deel van ’n weeklange byeenkoms loop ’n mens die gevaar om self die nuus te raak.
En iets te laat blyk van ’n mediaverstaan wat beriggewing oor verskille verwar met die rede vir die verskille.
Die bespreking oor ’n groot klomp leerstellige besware vanuit die kerkgeledere asook die verslag oor selfdegeslagverbintenisse is Dinsdag 17 Oktober deur die moderator van die NG Kerk gesluit vir die media.
“Daar was nie ’n voorstel of ordemosie nie. Daar was wel versoeke en vrae daaroor uit die vergadering en ons het by die moderatuur vinnig daaroor gepraat en gesê ons dink ter wille van die gesprek is dit die beste,” het ds Jan Lubbe aan Kerkbode gesê tydens ’n kort verdaging vir middagete voor die middagsessie om 14:00 hervat het.
Waar lê die nuuswaarde?
Die Algemene Sinode is ’n vergadering wat slegs elke paar jaar plaasvind en buiten die 400 mense hier is daar duisende lidmate wat op die media vertrou om hulle op die hoogte te hou van wat hier gebeur – nie net wat ten slotte besluit word nie. Die basiese mediaverstaan waarmee joernaliste rondloop, is dat ons hier is om die eerste, haastige weergawe van geskiedenis te skryf.
Balans van behoeftes?
’n Mens verstaan die behoefte aan psigiese veiligheid van afgevaardigdes. En in Lubbe se woorde aan Kerkbode hoor ’n mens dit dalk as hoofdoel met hierdie skuif. Hy sê (die doel was) “dat almal weet, ‘ek gaan nie nou, intyds aangehaal word nie, ek kan praat’. Om daai vrymoedigheid aan te moedig. Want daar is mense wat sê hulle is bang hulle word blootgestel. Daar is mense wat bang is dat as ek A, B of C sê, ek myself blootstel vir allerhande prosesse. Daar is ’n sensitwiteit daaroor,” aldus Lubbe.
Lubbe het oor die jare ook onder groot druk in sy persoon en as streeksmoderator ’n hoogs toeganklike en mediagunstige benadering ook ten opsigte van Kerkbode openbaar. En dit is waar dat die geldige behoefte aan psigiese veiligiheid in konflik kan staan met ’n breë nuusagenda van “volle toegang tot alles”. Maar dit is ’n spanning wat bestuur eerder as kunsmatig uitgewis moet word.