Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Mikrofoonvrees loop hoog onder veral jongeres en vroue in Algemene Sinode se groot vergadersaal, wys peiling


Die Algemene Sinode vind plaas in ’n reuse-tentstruktuur wat ook bedags donker is met ’n opblaasmuur soos dié van ’n springkasteel, en enkele staanmikrofone tussen ’n klotsende see van dominees en kerkraadslede, wat om tafels sit en verrigtinge dophou via grootskerms wat in alle windrigtings verspreid is.

So, dit is dalk minder verbasend as wat dit behoort te wees dat nuwe data onthul dat ’n groot klomp mense hier nie sommer wil opstaan en voor almal praat nie.

Daar is egter ’n opvallende hoeveelheid afgevaardigdes spesifiek onder 40 jaar wat nie gemaklik voel om aan gesprek by ’n mikrofoon op die oop vloer deel te neem nie. En vroue is ook meer versigtig as mans, volgens peilingresultate wat Woensdagaand in Boksburg met die vergadering gedeel is voor die kerkleiers verdaag het vir die vierde dag van die vergadering wat tot Vrydag duur.

Geborg

LEES OOK: ChatGPT help kerk ‘luister’ in soeke na pad vorentoe te midde van verdeeldheid by Algemene Sinode

“Ek kan nie vir u sê wat die redes is nie, dit kan ons navorsing nie sê nie. Ek kan nie vir u sê wat u daaroor moet doen nie. Ek kan net vir u sê, dit is wat ons hoor en ons wil dit deel met die vergadering. Neem kennis hiervan,” het dr Cobus van Wyngaard van die Taakspan Navorsing gesê nadat hy twee PowerPoint-skyfies in die grootsaal gewys het.

Die data is deur die loop van die vorige dag ingesamel via sagteware wat groot konferensies meer interaktief maak deur maklike, intydse opnames via selfone.

Op die vraag of afgevaardigdes by die Algemene Sinode gemaklik voel om van agter die mikrofone voor die sowat 400 ander mense deel te neem, was dit veral die onder 40’s wat verskil het. Uit die respondente wat gesê het hulle stem beslis nie saam met die stelling nie, was verreweg die grootste segment jonger as 40. Die bo-60’s, daarenteen, rapporteer die grootste gemak met ’n mikrofoon en ’n gehoor voor hulle.

Wat gender betref, het die data-segment wat “beslis nie” met die stelling saamstem nie, meer as dubbeld soveel vroue as mans.

Dié spieël wat aan die vergadering opgehou is, kom te midde van ’n skuif in die breër NG Kerk oor afgelope jare: van debat na dialoog. “Gespreksgenote in ’n dialoog is daarop ingestel om na mekaar te luister. Egte dialoog maak verhoudinge sterker, laat groei begrip vir mekaar se menswees en verbeter insig oor ’n saak,” luidens ’n dokument deur die Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake (ATLAS) wat dié benadering uiteensit.

Daar is meer mans in die vergadering as vroue. Sowat 32% van afgevaardigde kerkraadslede is vroue, en sowat 17% van afgevaardigde leraars is vrouepredikante, is vroeër in Kerkbode geskryf).

Geborg

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.