Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dr Kobus Victor (1942 – 2023)


Jacobus Adriaan Victor is op 4 Januarie 1942 gebore op Merweville. Sy vader is Jacobus Petrus Snyman Victor, ’n senior tegnikus van Landbou-tegniese dienste. Sy moeder is Maria Christina Koekemoer, ’n huisvrou en koster in die NG Kerk Hofmeyr en Middelburg (Kaap). Kobus begin sy skoolloopbaan in 1949 aan die Laerskool Hofmeyr en matrikuleer in 1960 aan die Hoërskool Hofmeyr. Hy is hoofseun en speel in die eerstespan rugby en krieket.

Kobus voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1961 na Stellenbosch waar hy die BA-graad verwerf. In 1964 word hy student aan die Kweekskool in die Eikestad, speel gholf en neem wyd deel aan die studentelewe, waar hy die BTh in 1966 behaal in die eeufeesjaar van die Universiteit Stellenbosch. Hy word aan die einde van 1967 as proponent gelegitimeer. Hy was twee keer getroud, die eerste keer in 1967 met Johanna Cornelia Louw en die tweede keer met Cecile Appel.

Proponent Kobus Victor is iemand met groot talent, ook as dit by kinders en jongmense kom. Maar die Here roep hom na die NG Gemeente Port Nolloth waar hy op 16 Maart 1968 met handoplegging ontvang en bevestig word. Na vier jaar in die mistige en droë omgewing van Namakwaland, waar hy ’n eie unieke stempel afdruk, kom ’n roepstem na die NG Gemeente Fraserburg in die Groot-Karoo. Hier word hy vroeg in Januarie 1972 bevestig waar hy diep spore onder die skaapboere se kinders trap om naby die Here te kom. Hy doktoreer in 1987 in jeugbediening, ’n skitterende stuk werk.

Op 1 Mei 1974 word ds Kobus Victor die PSD in die sinodale kantoor in Wes-Kaap, ’n pos waarin hy baie doen om jongmense te bedien. Die kerklike masjienkamer van die NG Kerk in Wellington sien hom raak en hy word hoof van die Departement Ontwikkeling van Bybelkor en op 1 November 1986 van Bybel-Media. Dr Kobus is ook stadsraadslid en onderburgemeester van Wellington.

Na sy egskeiding bedank hy in 2001 as leraar van die NG Kerk, maar verdwyn nie uit die kerklike lewe nie omdat sy kennis en liefde vir die jeug deel van sy menswees bly. Hy skryf oor prioriteite in die kerk: “Om mense te leer hoe om vandag Christen te wees, ook hoe om buite die kerk betrokke te wees en jou Christenskap te demonstreer”. Dr Kobus Victor sterf op 12 Julie 2023 en ’n diens word op 21 Julie 2023 gehou deur dr Ben du Toit, voorheen kerkleier in Wes-Kaapland en ook my persoonlike vriend.

Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.