Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ds Koos Verster (1942 – 2022)


Jacobus Johannes Verster is op 14 Februarie 1942 gebore in Johannesburg. Sy vader was Thomas Gabriel Verster, ’n kaartjie-inspekteur by die Spoorweë. Sy moeder is Johanna Wilhelmina Margaretha Coetzee, ’n kleremaakster. Koos begin in 1949 met sy skoolopleiding in 1949 aan die Laerskool Hugenoot in Johannesburg. Hy word in 1955 leerling aan die Hoërskool DF Malan in Johannesburg, waar hy in 1959 matrikuleer. In sy tienerjare stel hy belang in kuns, drama en musiek. Koos werk van 1961 tot 1968 by die Buitestedelike Gesondheidsraad, in 1969 by Ou Mutual en in 1970 by Southern Life. Hy trou op 3 Maart 1963 met Dolphina Johanna Jordaan en uit die huwelik is drie dogters gebore, met name Hanlie en Anja en Jordina. ’n Gelukkige gesin wat met oorgawe mekaar liefhet.

Die roeping word so sterk dat hy in 1971 student word aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy in 1973 die BA-graad verwerf. Hierna is hy student aan die Kweekskool op Stellenbosch, waar hy die BTh verwerf en later ook die MTh in Teologie. Aan die einde van 1977 word hy gelegitimeer en word op 21 Januarie 1978 leraar van die NG Kerk se Smithstraatgemeente in die hart van Durban. Na ’n paar jaar loop sy pad na die NG Gemeente Standerton op die walle van die Vaalrivier, waar hy op 8 Augustus 1981 ontvang en bevestig word. In sy dienstyd is hy lid van sinodale kommissies vir Leer- en Aktuele Sake. Hy het met liefde en oorgawe op gemeentevlak sy meestersgraad se tema “Die opbou van die gemeente” uitgelewe.

Hier werk hy tot hy op 28 Februarie 2002 sy emeritaat aanvaar. Hy lei aan chroniese brongitis. Ds Koos Verster sterf op 6 Desember 2022 en sy lewe word in herinnering geroep tydens ’n herinneringsdiens.

Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.