Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jan Lubbe: Ook hierdie jaar is Anno Domini … die jaar van ons Heer

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Sit ’n mens op die kerkstoep en kyk die paadjie af na die hek, lê die jaar 2024 voor jou uitgestrek. Hoe sal dit wees? vra Jan Lubbe.

 

Dit gaan in ons land (en ook in Namibië, soos verlede jaar in Zimbabwe) ’n jaar van twee helftes wees: Vóór en ná die algemene verkiesing, moontlik in Mei. Nou word verwagtinge gekoester, voorspellings gewaag, markte senuagtig, burgerlike groepe vasbeslote: Hier móet verandering kom! Daar ís sulke wendinge in die groter en kleiner geskiedenis van lande en volkere, kerke en mense.

Ons hoop en bid sekerlik ook vir ’n vóór en ná datum vanjaar in Gasa en in die Oekraïne: Vóór en ná die oorlog. ’n Jaar van twee helftes; alles aan flarde en verlore, en dan tóg ’n sprankie hoop en die eerste wankelende treë weer in die oopte, vry. Hoe leef ons verder met sulke verlies, met onskuld verlore? Soms is ’n hele jaar só ’n breuklyn – die vorige skrikkeljaar was een: 2020. Vóór en ná Covid. Wie onthou nog hoe dit vóór daardie 26 Maart was, Dag Een van Inperking? Vliegtuie op die grond, die N1 stil, ’n vrou in Kaapstad die eerste sterfgeval (Madelein van Wyk), ons almal agter maskers en toe deure, onseker. Daardie eerste Sondag sonder ’n mens in ons kerk!

Miskien is dít die grootste verskil tussen vóór en ná 2020: Ons verlies aan sekerheid; aan wat óns gedink het “normaal” beteken; aan sekerheid oor wat ons kan beheer. Sedertdien het die gerugte van vals nuus en sameswerings net bly aanrol. Vanjaar – 2024 – sal dit ook weer in Amerika ’n rol speel, vóór en ná 5 November, húlle verkiesingsdatum.

Geborg

LEES OOK: Dié Vrystaatse dominees gooi wal teen verdagmakery, beskuldigings

In ons eie lewe ken ons sulke vóór en ná datums. Die families van meer as ’n 100 000 mense wat tussen 2020 en 2022 hier aan Covid gesterf het, sal nog presies vir jou kan sê: “Die dag toe die ambulans gekom het en ek nie weer my man, my vrou, ons oupa, my kind gesien het nie.” Ons sien hulle steeds in die gemeente sit; die een wat agtergebly het, wat treur, wat met die baie vrae sit, die onafheid, die groot verlange. Dáárdie dag, dáárdie jaar, toe my lewe onherroeplik verander het. Ons weet van. Verskillende datums, verskillende redes. Só sal dit ook in 2024 wees, twee helftes: Vóór die vloed, ná die droogte. Vóór die brand; ná die diagnose. Vóór ons troue, ná my egskeiding. Jare gelede het ABBA ’n liedjie gesing: “The day before you came.” Iewers het Henri Nouwen geskryf: “We never know when the pain arrives that’ll stay forever.” Vóór en ná. Wat wag vanjaar?

LEES OOK: Groeiende verdeeldheid oor Suid-Afrika se besluit om Israel te verkla by die Internasionale Geregshof

Die jaar 2024 gaan twee ánder helftes hê, en miskien is dít eintlik wat vir ons as gelowiges die werklikheid behoort te konstitueer; ons belewenis te vorm; ons ingesteldheid te bepaal; ons verwagtinge te rig; ons herinneringe in te kleur. Vóór 29 en ná 31 Maart. Nóu reeds, maar al meer intens deur die sewe weke vooraf, dan dáárdie Vrydag, die stille drumpel van Saterdag, dié Sondag van alle Sondae ooit, vóór en ná die jaar 33 (of was dit die jaar 27?). Dít was en is die eintlike kantelpunt der eeue, millennia: Jesus wat sterf, Jesus wat lééf, die jaar toe Gód die geskiedenis omgedraai het, die blinde noodlot oorwin is. Hoop gebore. En jaar na jaar behoort die Paasgebeure vir ons die dieptepunt te wees; die ingaan in ons eie broosheid en verganklikheid en verlorenheid en donkerte in, én die uitkom na ’n nuwe lewe toe, na Lig, mét Christus, verkwik. Vóór en ná. Laat ons hieraan vashou wanneer ons die onbekende 2024 betree, te midde van alle wendinge en ons vrese: Daar sál tot op die jongste dag, ’n Paasfees wees, ook vanjaar, en dít is die eintlike werklikheid en raamwerk van ons bestaan.

LEES OOK: Ekumeniese afvaardiging uit SA sal dié Kersfees met ‘pastorale besoek’ aan Betlehem en Jerusalem pleit vir ‘einde aan volksmoord in Gasa’

Maar daar is nóg iets. En hoe ouer ons word, hoe meer besef ons saam met Luther oor die vóór en ná van menswees: Dit is eintlik “simul”, gelyktydig, áltyd teenwoordig, immer déél van wie ons is – ons is geregverdig én gebroke. Wat troos jou dán oor 2024? Ons herken hierdie woord, nie waar? Dié antwoord: “My enigste troos in lewe en sterwe is dat ek na liggaam en siel nie aan myself (of my omstandighede) behoort nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus.” ’n Entjie verderaan brei die Heidelbergse Kategismus uit met súlke vóór en ná werklikhede: “Lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede, en alles, nie per toeval” – nee, ek behoort aan Hóm, my lewe lê in ’n Vaderhand. En die Skrifwoord waarheen die Kategismus ons hier beduie? Romeine 8. Paulus oor verganklikheid en lyding en sugte en troos en die sekerheid dat niks – géén vóór òf ná – ons kan skei van die liefde van ons Heer. My lewe, en hierdie jaar, lê in sý hand. Eintlik is dít belangriker as enige twee helftes wat 2024 mag bring: Dat ook hierdie jaar Anno Domini is. Die jaar van ons Heer. Sýne. Skryf dít op jou kerkalmanak.

Ds Jan Lubbe is leraar by NG Kerk Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Geborg

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Jan Lubbe: Ook hierdie jaar is Anno Domini … die jaar van ons Heer”

  1. Wat ‘n hoopvolle stuk in bedreigende tye! Dankie Jan! Ek glo ook dat daar nog ‘n vóór en ná is: Voor en na die 2023 Algemene Sinode. Mag daar ook onverwags hoop kom uit daardie kantelpunt.

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.