Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Elders gesien: Dié Vrystaatse dominees gooi wal teen verdagmakery, beskuldigings


Sowat 46 leraars uit NG Kerk Vrystaat het met ’n 1300 woord-dokument wat as ’n “getuienis” beskryf word ’n soort teennarratief gepen uit frustrasie met spesifieke aspekte van die diskoers wat die afgelope paar jaar binne en oor die NG Kerk gevoer word. 

“Ons bely dat die NG Kerk steeds deel van die liggaam van Christus op aarde is,” lui een van die punte. “Daarom verwerp ons aanklagte soos dat die kerk ‘die plot verloor’ het en ‘baie lankal nie meer ʼn Christelike kerk / organisasie’ is nie,” lui dié skrywe uit die geledere van hierdie een van die NG Kerk se tien streeksinodes. 

Lees die volledige getuienis onderaan dié berig. 

Geborg

Intussen het die moderamen van NG Kerk Vrystaat Vrydag (12 Januarie) in ’n verklaring daarop gewys dat die getuienis die persoonlike siening van ’n aantal predikante in die NG Kerk Vrystaat is. Dit volg ná die skrywe deur die amptelike kommunikasiekanale van die NG Kerk Vrystaat uitgestuur is. “Daar (was) nie ’n besluit van die Interimkomitee of Moderamen was om (die skrywe) via enige kommunikasiekanale van die NG Kerk Vrystaat te versprei of op media- platforms van die NG Kerk Vrystaat te plaas nie. Dit is daarom ook nou van daardie groepe en platforms verwyder. Ons vra nietemin om verskoning vir enige ongerief of verwarring daardeur meegebring,” het ds Jan Lubbe, voorsitter van die moderamen, in die verklaring gesê.

Lubbe het voorts gesê: “Ons doen intussen opnuut ’n beroep op alle predikante en lidmate om in hierdie tye en veral ten opsigte van sake waaroor ons van mekaar mag verskil, te let op die wyse waarop ons met mekaar daaroor kommunikeer. Laat die voorbeeld van Christus en die apostels ons te alle tye in ons gedagtes, woorde en handelinge lei, in belang van ons kerkverband en roeping hier in die Vrystaat. Ons is Sýne”. 

  • Bronne: Dr Leon M Foot (samesteller van “’n Getuienis van Vrystaatse predikante (en andere)”), NGK Welkom-Suid. Asook NG Kerk Vrystaat: Kommunikasiekanaal.  
  • Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is. 
  • Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.

ʼn Getuienis van Vrystaatse predikante (en andere)

 

Ons, die ondergetekendes, is almal gelegitimeerde predikante in die NG Kerk Vrystaat. Ons is baie lief vir ons Here en sy kerk. Dit is daarom met groot hartseer dat ons die afgelope paar jaar gereeld in verklarings, briewe en ander dokumente, verdagmakery en beskuldigings teen ons en die kerk waarvan ons lidmate is, moes aanhoor.

 

Daarom getuig ons hiermee in die openbaar waar ons staan.

 

  • Ons bely die Woord van God as God se openbaring aan ons. Alles wat die mens vir sy/haar saligheid moet glo, word voldoende daarin geleer. In die Bybel vind ons God se wil vir ons lewe; ons strewe daarna om in elke aspek van ons bestaan hiervolgens te lewe. Om hierdie rede doen ons alles in ons vermoë om die teks so akkuraat as moontlik in die lig van die historiese en die literêre aard van die betrokke gedeelte te interpreteer.

Daarom verwerp ons die bewering dat daar net sekeres is wat “Skrifgetrou” is en “wat nie die waarheid van die Skrif ondermyn nie”; dat ons “die gesag van die Woord van God ondermyn” en ons standpunte “nie eers meer toets aan die Woord” nie. Ons verwerp alle beweringe van ʼn “geringskatting van Skrifgesag” en “eksegetiese inlegkunde” wat so maklik gemaak word. Dit is misleidend om te sê: “Ek glo onvoorwaardelik in die Woord van God” – so asof ander wat van ʼn bepaalde interpretasie verskil, dit nie ook doen nie.

 

  • Ons bely dat die leer van die Bybel soos dit in die artikels van die Christelike geloof (die Drie Formuliere van Eenheid en die Ekumeniese Geloofsbelydenisse) vervat is, die ware en volkome leer van die saligheid is, omdat dit ooreenstem met die Woord van God. Ons glo dit, leef dit en verkondig dit.

Daarom verwerp ons die aanklag dat ons “nie meer getrou is aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie.”

Geborg

 

  • Ons bely dat die Here Jesus Christus die enigste Verlosser en Saligmaker is. Ons het Hom aangeneem en ons het Hom lief; Hy is die Hoof van sy Kerk en ons volg Hom gehoorsaam. Ons is bewus van ons menslike swakhede en beperkings, maar deur die krag van die Heilige Gees stry ons daagliks daarteen. Dit is ons strewe om in ons eie tyd en omgewing sigbaar gestalte aan sy Koninkryk in ons lewens en in die groter samelewing te gee.

Daarom verwerp ons die valse voorstellings dat “ ʼn meerderheid predikante met hul gemeentes . . . nie-Gereformeerde, inklusiewe, wêreldsgesinde navolgers of goedkeurders van die leuens volgens die tydsgees geword het” en dat “Jesus Christus van Nasaret nie die Hoof van die Kerk is nie” of dat “menseregte of wêreldagendas die Kerk wil regeer.” Ons verwerp die aanklag dat ons ʼn “vals kerk” sou wees en “ten onregte die naam ‘kerk’” sou toe-eien.

 

  • Ons bely dat die NG Kerk steeds deel van die liggaam van Christus op aarde is. Ons besef dat ons as lidmate sondig is en daarom stry ons daarteen. Ons streef daarna om onder die leiding van die Heilige Gees die bes moontlike kerk te wees.

Daarom verwerp ons aanklagte soos dat die kerk “die plot verloor” het en “baie lankal nie meer ʼn Christelike kerk / organisasie” is nie. Ons verwerp die bewering dat ons “wêreldgelykvormig geword het”, in “totale afvalligheid” beland het en dat ons “huigelaars” is.

 

  • Ons bely dat elke nuwe tydperk nuwe vrae aan die kerk stel. Daarom soek ons in gehoorsaamheid aan die Woord na antwoorde op hierdie nuwe vrae. Soos die gelowiges in die eerste eeu moes worstel met die vraag oor die besnydenis, soos ons voorouers sowat twee eeue gelede geworstel het met die vraag oor slawerny en soos ons onlangse voorgangers geworstel het met die vrae oor apartheid en oor die vrou in die amp, so soek ons na Skrifgefundeerde antwoorde en besluite aangaande die huidige uitdagings op ons tafel.

Daarom verwerp ons alle aantygings dat ons “toelaat dat kultuur of tydsgees die Skrif namens ons interpreteer” en dat ons “fokus primêr op mense se humanistiese agendas en drome van sosiale geregtigheid” is, as oneerlik. Moeilike vrae het nie altyd maklike antwoorde nie. Daar is geen sprake van sonde wat ons “gerieflik goedkeur” nie.

 

  • Ons bely dat God sy kerk deur gelowige en betroubare mense lei wat deur God hiervoor geroep word. Hierdie mense word deur wettige kerkvergaderings verkies en aangestel om sorg te dra dat die ware godsdiens onderhou word; die ware leer oral versprei word; die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou word; en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. So verloop sake in die kerk behoorlik en ordelik. Die kerk het ook meerdere vergaderings waar hierdie selfde mense die kerk dien met hulle leierskap.

 

Daarom verwerp ons die beskuldiging dat “die leierskap van die Nederduits Gereformeerde Kerk waaronder die  AS, ASM, AK, ATR, ATLAS en meeste streeksinodes se leierskap meer gesag aan hulleself toeken as wat die sinodaal-presbiteriale kerkregeringstelsel toelaat en sodoende ʼn magsorgaan geword het wat nie die Nederduitse Gereformeerde kerk se gemeentes dien nie.” Ons verwerp ook die aantyging dat die leierskap “nie die eer van God ten doel het nie, maar die kerk weglei van haar oorspronklike doel as instrument tot God se heiligheid en draer van die waarheid.” Ook ontken ons dat die kerk “argaïese strukture” het wat “in kerklike wanorde verval het.”

 

  • Ons bely dat daar binne die NG Kerk meningsverskille oor bepaalde sake is en dat ons mekaar hierin moeilik vind. Uiteraard is besluite nie volmaak nie en sou sekere besluite dalk beter geformuleer kon word. Dalk oortuig die Heilige Gees ons later anders hieroor. Daar is ook sekere sake waaroor ons dit eens is dat dit aandag moet geniet en dit word ook sodanig hanteer. Ons het deeglik kennis geneem van ander se standpunte en ons het by verskeie geleenthede gesprek gevoer met gemeentes en lidmate wat van ons verskil. Hierdie gesprekke het ons nie oortuig dat die huidige standpunte van die kerk verkeerd is nie.

Daarom verwerp ons die valse voorstellings dat besware “oor jare heen geïgnoreer” is of dat die kerk “onwillig” was om daaroor te praat, dat daar nie daarvoor “ ʼn Bybelse oplossing gesoek” is nie. Dit is ook onwaar dat besware “blatant geïgnoreer” is. Ons verwerp ook die bewering dat die kerk “voortgaan om uit selftevredenheid in dwaling en sonde te volhard” asof ons nie saam met ander gelowiges worstel oor God se wil nie.

 

  • Ons bely dat die huidige situasie in die kerk vir ons ʼn saak van groot hartseer is. Die etikette wat aan mense gegee word, help ons nie om meer helderheid oor moeilike vrae te kry nie. Die valse voorstellings van en halwe waarhede oor die besluite van die kerk wat aan lidmate en kerkrade voorgehou word, bemoeilik ʼn eerlike gesprek. Hiermee domineer ʼn klein groepie die gesprek. Die tevrede en stille meerderheid laat nie van hulle hoor nie.

Daarom vra ons diegene wat van die kerk verskil om dit in liefde te doen, om ons geloofwaardigheid te aanvaar, nes ons die geloofwaardigheid aanvaar van dié wat van ons verskil. Ons is almal ewe lief vir die Here en vir sy kerk. Kom ons laat ruimte vir verskille oor randsake. Die Bybel laat ruimte vir hulle wat vleis eet en vir hulle wat dit nie doen nie; vir hulle wat ʼn bepaalde dag op ʼn besondere wyse hou en vir ander wat dit nie doen nie. Kom ons hou op om mekaar as ʼn “valse kerk” uit te maak net omdat ons van mekaar verskil. Kom ons bid eerder vir die kerk en vir mekaar: “Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”

 

Onderteken deur die volgende leraars:

Geborg

 

Andre Barlow

Domonic Basson

Lunette Basson

Gerhard Botha

Dries Cronje

Jan de Man

Nico Dicks

Geborg

Hannes du Plessis

Leon M Foot (samesteller)

Cobus Hamman

Rikus Hattingh

Stoffel Helmuth

Gretha Heymans

Charles James

Ian Jonker

Danie Kleinhans

Friedrich Kotze

Johan Kruger

Gideon Lamprecht

De la Harpe le Roux

Gerhard Meyer

Charles Mitchell

Nico Mostert

Laurie Naude

Christo Nel

Hannetjie Nel

Lood Oliver

Roelf  Pienaar

Jors Reynders

Kobus Schoeman

Deon Serfontein

Fanie Spamer

Riaan Stander

Juppi Steurer

Attie Steyn

Barnard Steyn

Waldemar Stumpfe

Fanie Snyman

Horace van Coller

Suzanne van der Merwe

Gideon van der Watt

Pieter van Jaarsveld

Andre van Staden

Danie van Tonder

Rikus van Zyl

Christo Weideman

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

7 thoughts on “Elders gesien: Dié Vrystaatse dominees gooi wal teen verdagmakery, beskuldigings”

  1. Baie dankie aan Leon en die ander 45 predikante wat die moed van hul oortuiging gehad het om hierdie verklaring te maak. Daarin word dinge genoem wat lankal gesê moes word. Ek ondersteun heelhartig hierdie verklaring.

  2. Bernhard Ficker

    Hoeveel van Hierdie 45 dominees is op pensioen en hoeveel is aktief? Hoeveel dominees is daar altesaam in die Vrystaat, sodat perspektief gekry kan word? Dit Lyk asof Hierdie verklaring opgestel is om as teenvoeter te dien teen die Koinonia Sinode van dolerende NGK gemeentes wat die ondersteuning van al hoe meer Vrystaatse kerke geniet.

  3. Die 45 dominees van my geliefde Vrystaat meld dat hulle nou moeg is daarvoor dat die mense sê dat die rokie wel ‘n vuur is: Punt 8 van die verklaring se verwysing na randsake en dat ons nie liefde daaroor moet verloor nie, trek die aandag. Ek neem aan dat die een se randsaak die ander se gebedsaak is en dat dit verwys na vrae of die duiwel en sonde steeds bestaan, of Jesus letterlik opgestaan het of miskien eerder net ‘n profeet is, of steel en moord vir die een soos om vleis te eet is en of liefde vir die wêreld of wêreldse liefde miskien van mekaar verskil. Die versuim om behoudende groeperinge binne die kerk te ontmoet of te erken kan seker al genoeg bewys wees dat dit nou om rook-beheer gaan en nie oor die vuur wat die rokies veroorsaak nie.

  4. Die volgende 3 opmerkings en “Daar is geen sprake van sonde wat ons gerieflik goedkeur nie”, “Dalk oortuig die Heilige Gees ons later anders hieroor” en “Kom ons laat ruimte vir verskille oor randsake,” is volgens my juis waar die kruks van die saak lê.
    ‘n Eenvoudige definisie van “randsake” is sekerlik sake wat nie ‘n beduidende direkte of indirekte invloed op die samelewing, gemeenskap en/of familie het nie. Sodom en Gomorra is nie verwoes omdat vrouens hoede of nie hoede, kerk toe gedra het nie. Alle sake moet aan die Woord van God, wat die absolute Waarheid is, gemeet word. Die Heilige Gees sal nie een groep oortuig van een “waarheid” en ‘n ander groep oortuig van ‘n ander “waarheid” nie, en dan later weer andersom oortuig nie. As daar dan “later anders oortuig word”, beteken dit dat die Heilige Gees inisieël verkeerdelik oortuig het maar nou aangepas het by die “nuwe tye” en nou anders oortuig? Iemand is verkeerd en moet tot inkeer kom.

  5. Die verkeerde indruk word ongelukkig geskep dat net 45/46 predikante in die Vrystaat sinode saamstem met die verklaring. Ek glo daar is meer as dubbel soveel wat wel saamstem. Dit is goed dat die kant van die saak ook gestel word. Die sg. dolerendes is ‘n baie klein minderheid, maar ons lees meesal net wat hulle te sê het. Dit kom vir my neer op die stert wat die hond probeer rondswaai.

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.