Dit is die tweede dag van die Algemene Sinode Moderamen-vergadering by die Emseni-konferensiesentrum in Benoni. Op ’n reënerige oggend begin ons verrigtinge deur ruim tyd af te staan vir die Woord. Ons word gekonfronteer deur ses vrae onder leiding van prof Marius Nel, wat Nuwe Testament doseer aan die Universiteit Stellenbosch. Ons het vanuit verskillende lense na verskillende tekste gekyk en vergelykings en verskille getrek tussen verskillende tekste.
Daarna het ons in ’n lang gesprek onder leiding van ds Jan Lubbe (moderator) op die NG Kerk se geskiedenis ingegaan. Ons het teruggegaan na 1824, en eintlik nog voor dit. Want hierdie ASM vind 200 jaar na die eerste algemene kerkvergadering in Suid-Afrika plaas.
Inligting, datums en name is deurgegee en daar is rondom die tafels weer gesprek gevoer oor ons roeping, wie ons is, waarheen ons gaan en hoe ons daar wil uitkom.
Dr Frederick Marais “tel die lyne weer op” na teetyd met die inleiding oor wat ons roeping is. Hy sê: “in die kern van wie ons is, is ons roeping.”
Die vraag rondom hoe, en waarheen ons op pad is, asook die groot hoekom-vraag van die ASM se pad vorentoe is nou ter tafel.
Ons werk weer met Eksodus 33. Dit was die fokusteks tydens die Algemene Sinodesitting in 2023. Ons deel weer in die rykdom van die teks deur dit aan die tafels saam te lees, dit op ons eie weer te lees en dan oor drie vrae na te dink vanuit die agtergrond van die teks.
Die drie vrae fokus op wat ons hoor in Eksodus 33, hoe dit ons help met ’n verstaan van die NG Kerk se roepingsverklaring van 2024 deur gebruik te maak van ’n paar van die vorige roepingsverklarings van die NG Kerk. Die laaste vraag handel oor konteks. As groep is ons verbind aan mekaar deur die eenheid van ons belydenis, maar die voordeel van ons kerkgroep is dat ons hier bymekaar is vanuit verskillende kontekste. Dit is waar die waarde van ’n meerdere vergadering lê, om meer stemme, ander stemme te kan hoor oor spesifieke vrae en gedagtes. Ons is almal hier, soos die roepingsverklarings deurlopend lui, om God se naam groot te maak.
Ons gesprek slaan die rigting in van gesprek vanuit ons elkeen se eie konteks. Dr Frederick Marais help ons om te gesels deur die vraag te stel: “Wie is die mense na wie God ons toe stuur?”
Wat is ons konteks? Waar is ons konteks? Hoe werk ons in ons konteks?
Die vraag help die vergadering om vorentoe te kyk, en na die sake in ons samelewing te kan kyk vanuit ons verskillende kontekste. Nie net na die interne kwessies in die kerk nie, maar eerder op ’n manier verby dit te kyk en te kyk na waar ons kerk in die wêreld kan en moet wees.
Rondom die tafels vloei die gesprekke lekker, ons worstel met konteks, wat ons uiteindelik moet bring na ons roeping toe. Deur die eeue van die NG Kerk het dit duidelik geword dat die kerk deurlopend hiermee worstel. Hoe, waar en hoekom ons kerk in die wêreld moet wees. Hoe ons gestuur word, en waar ons nou moet wees.
Na bykans twee ure se gesprekvoering, worstel en wonder moes elke tafel ons eie roepingsverklaring uitskryf wat begin met die woorde: “God roep ons om
Die ASM van 2024 gaan hieruit ’n bepaalde roepingsverklaring opstel en uitstuur na die verskillende sinodes, ringe, gemeentes en die samelewing toe.
Ds Estian Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie. Hy skryf ook graag stories oor die mense van die Noord-Kaap. Sy e-posadres is: estian@ngkharmonie.co.za
- Meer oor die ASM: Die ASM se samestelling word deur die Kerkorde bepaal as die dagbestuur en dan vyf verteenwoordigers uit elk van die samestellende sinodes van die AS (meestal die sinodale kommissies); dit beteken ’n verteenwoordigende vergadering uit die hele NG Kerk, met ongeveer 50 stemgeregtigde lede. Die ASM word dan aangevul met ’n aantal adviserende lede bestaande uit amptenare, ex officio-lede, en voorsitters van taakspanne en direksies verbonde aan die AS (of hulle verteenwoordigers).