Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dr Arnau van Wyngaard het as teologiestudent God gevra om hom, as dit sy wil sou wees, ’n bediening onder die amaZulu te gun. Die emaSwati en die amaZulu is verwante bevolkingsgroepe, en so is sy gebed dan ook beantwoord. Foto's: Verskaf tensy anders vermeld

Elders gesien: Dr Arnau van Wyngaard wil MIV/Vigssorgsentrum in Swaziland se storie neerpen na aftrede


Dr Arnau van Wyngaard het op 29 Februarie geëmeriteer ná ’n sendingbediening van 39 jaar in die Swaziland Reformed Church (SRC) in die Shiselweni-distrik. Met sy aftrede kom die NG Kerk se 80 jaar van formele sendingbetrokkenheid by Eswatini dan ook tot ’n einde, skryf Fanie Vermaak*.

Voortaan sal die twee kerke, die NG Kerk en die SRC “nie meer in ’n ‘moeder-dogter’ verhouding met mekaar verkeer nie, maar sal hulle as twee gelyke susters op ekumeniese vlak met mekaar kontak behou – ’n droom van baie jare wat derhalwe bewaarheid word,” het Arnau dit later verduidelik.

Verteenwoordigers van verskeie kerkliggame het Sondag, 25 Februarie afskeidsboodskappe oorgedra tydens ’n snikhete oggenddiens in ’n groot tent opgeslaan langs die kerk by Matsanjeni (naby die Lavumisa/SA grenspos) . Verteenwoordig was die SRC Shiselwenia, die SRC Sinode, die NG Kerk Oostelike Sinode (ds Francois Retief), en die Swazilandse Sendingkommissie (dr Johan Botha). Prof Cobus van Wyngaard het ’n roerende groeteboodskap namens die Van Wyngaard-gesin gebring.

Kerkgebou te Matsanjeni met die gemeente se visie: Om die hande en voete van Christus te word in die gemeenskap.
Ds Francois Retief, uitvoerende beampte van die Oostelike Sinode van die NG Kerk, het die Akte van Emeritaat oorhandig aan dr Arnau van Wyngaard. Foto: Fanie Vermaak

Arnau (of ‘Luququdvu‘ soos sy Swazi gemeentevriende hom genoem het en wat geleerde beteken) het in Durban grootgeword en sy skoolloopbaan in 1975 aan die Hoërskool Port Natal afgesluit. Aanvanklik het hy beoog om hom as ’n geoktrooieerde rekenmeester te bekwaam, maar in 1974 ervaar hy dat die Here hom roep vir die bediening. Hy begin In 1976 met teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria.

’n Sendinguitreik na Mahlabatini (KZN) in 1981 sou blyk ’n sleutelmoment te wees in sy studentejare. Hy het God gevra om hom, as dit sy wil sou wees, na afloop van sy teologiese studies ’n bediening onder die amaZulu te gun. In 1984 ontvang hy ’n beroep van die SRC Shiselweni-gemeente waar hy in Januarie 1985 op 26 as leraar bevestig word. Die emaSwati en die amaZulu is verwante bevolkingsgroepe, en so word sy gebed dan ook beantwoord.

Arnau se administratiewe vermoëns en vaardighede het die gemeente en die SRC goed gedien toe hy in 1987 tot skriba van die Ring van Swaziland verkies is, en ook toe hy tydens die stigting van die Swazilandse Sinode in 1989 verkies is tot Algemene Sekretaris van die SRC –  ’n pos wat hy tot in 2023 beklee het.

Gedurende sy bediening in die SRC Shiselweni, het verskeie nuwe preekpunte tot stand gekom. Nuwe kerke is gebou by Makhosini, Matsanjeni en Qomintaba en die ouer geboue by Dwaleni, Hlushwana en Big Bend is opgeknap. Hierdie preekpunte is vandag bakens van hoop in hul onderskeie gemeenskappe en het elk ’n geestelike versorger aan wie die leisels oorgegee is.

Shiselweni Home-Based Care se hoofgebou op Dwaleni.
’n Rolstoelbediening is ook begin om rolstoele op Dwaleni te bou wat gratis gegee word vir mense wat die nodig het.

Arnau het in 1990s betrokke geraak by die behandeling van MIV en VIGS in Shiselweni. So is die Shiselweni Home-Based Care (SHBC) in 2006 gestig wat lede van verskillende gemeenskappe oplei in die tuisversorging van mense met VIGS. Sedertdien is 2 200 mense in 52 gemeenskappe in die suide van Eswatini as tuisversorgers opgelei. 

’n Unieke metode is ontwikkel om ’n individuele versorgingsplan vir elke kliënt uit te werk met inagneming van elkeen se persoonlike omstandighede en vlak van versorging wat benodig is. Die sukses hiervan wys in die drastiese afname in die sterftesyfer onder SHBC kliënte vergeleke met die nasionale VIGS sterftesyfer. Ook het verskeie navorsers die werk bespreek as ’n model vir tuisversorgingsprogramme in artikels vir internasionaal geakkrediteerde akaemiese joernale.

Verskeie voedingsprojekte is ook geloods. Op een stadium het soveel as 750 kinders daagliks ‘n gekookte maaltyd ontvang.

Drie sentra vir voorskoolse kinderontwikkeling is verder te Dwaleni, Hlushwana en Big Bend begin. Die Dwaleni Early Childhood Development sentrum het goedkeuring van die Eswatini Departement van Opvoeding om studente te ontvang wat praktiese ervaring in voorskoolse onderrig benodig.

’n Rolstoelbediening is ook begin om rolstoele op Dwaleni te bou wat gratis gegee word vir mense wat die nodig het.

Arnau het lank die droom gekoester dat ’n Bybelskool vir kerkleiers en gemeentelde in Eswatini op die been gebring sou word. Met sy afskeid van Eswatini, het hy gesê hy is daarom besonder dankbaar vir die vennootskap met Veritas College International, met 66 studente wat tans besig is met formele teologiese studies.

Nou dat hy afgetree is wil hy graag die merkwaardige verhaal van SHBC neerpen. Hy en sy vrou, Johanna sien ook uit na meer tyd vir hulle gemeenskaplike liefde om voëls te kyk, en Arnau wil hom ook verder toespits op sy liefde vir wildfotografie. 

Fanie Vermaak is ’n afgetrede landdros wat nou stories skryf vir Excelsior News, die gemeenskapskoerant op Piet Retief. Hierdie berig is ’n aangepaste vertaling van die oorspronklike wat in Engels daarin verskyn het.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.