Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

"Ek droom dat die kerk nog meer, saam met ander kerklike tradisies , op reis sal wees om hulle eenheid in Christus te vier en uit te leef.” - Dr Gustav Claassen.

Gustav Claassen, die ‘onwaarskynlike predikant’, groet by huldeblyk


Dit is Woensdagaand, in die middel van die eerste Algemene Sinode Moderamen-vergadering van 2024 en ook die eerste een na die Algemene Sinode van 2023. Dit is nou dalk ’n klomp eerstes, maar vir een van ons is dit ’n laaste: dr Gustav Claassen, die uittredende algemene sekretaris van die NG Kerk van Suider-Afrika, maak met hierdie ASM in sy pos klaar.

Claassen het die pos vir nege jaar beklee en die kerk op ’n magdom plekke verteenwoordig. Hy was deel van die NG Kerk se terugkoms na die Wêreldraad van Kerke en soveel der duisende ander dinge. ’n Groot figuur in al die vorme van die woord! Hy noem homself die onwaarskynlike predikant, met die staaltjie daarby dat sy skoolhoof waarskynlik in sy graf sou omdraai as hy hoor dié ou het dominee geword … Maar tog het hy, en het die Here hom op ’n besondere manier gebruik op al die verskillende plekke waar hy werksaam was. Nie net by die Algemene Sinode nie, maar as gemeenteleraar, voorsitter van streeksinodes en as deel van die kerk se leierskap.

Dr Gustav Claassen en sy vrou Hanneke. Foto’s: Le Roux Schoeman

Hy het diep spore getrap en sy imposante figuur sal gemis word by ons toekomstige vergaderings. By ’n klein afskeidsgeleentheid vir hom op Woensdag 28 Februarie, brand die braaivleisvure teen skemeraand. Ons het skaapvleis uit die Noord-Kaap gebring, die span het gesorg vir baie mooi gedekte tafels en al die ongelooflike bykosse. Ons kuier as verteenwoordigers van ons kerk heerlik saam, sit saam en eet saam. Om op ’n manier vir “Gus” te groet, hulde te bring aan hom vir sy groot werk. ’n Groep mense wat op ’n manier treur, want dit is ’n leemte, maar ook vir hom en sy vrou Hanneke die beste wil toewens vir aftrede, vir ruskans. Ons weet hy gaan nie verdwyn nie, sy kennis en manier van doen gaan ons nog baie help.

Geborg
Dr Dewyk Ungerer, aktuarius van die AS, neem afskeid van Claassen tydens ’n huldegeleentheid vir Claassen by vandeesweek se ontmoeting van die Algemene Sinode Moderamen.
Ds Nelis Janse van Rensburg (links, sittend), het Claassen geloof vir sy leierskap.

Daar is sprekers. Ds Nelis Janse van Rensburg, die vorige moderator van die Algemene Sinode, praat. Hy het baie te sê, hy en Claassen kom al ’n lang pad – al baie berge uitgeklim – as leiers in die NG Kerk. Moes al laat aande gesprekke voer, dinge debatteer om die volgende oggend te kon sinmaak van dinge. Hulle was al die wêreld vol saam in die NG Kerk se diens, en ’n mens kry die gevoel hier lê meer as kollegaskap, hier lê ’n vriendskap wat oor jare gevorm is.

Janse van Rensburg deel met ons in sy toespraak ’n paar gedagtes oor wat ’n mens nodig het om in die pos van algemene sekretaris te kom staan. “Jy moet hard kan werk, sterk kan staan, mense saam met jou kan vat, lief kan hê …” die lys gaan nog aan, en elke keer as hy een eienskap noem, knik iemand hulle kop, stem iemand êrens in die gehoor saam, want dit is hoe hulle vir Gus ken. Elke eienskap wat opgenoem word, herinner iemand aan die groot man wat ons moet groet by die geleentheid.

Ds Jan Lubbe, Janse van Rensburg se opvolger as moderator, praat ook. Sy woorde tref mooi in die kol. Hy noem Gus ’n geskenk van die Here wat in ons tyd aan die woord gekom het. Iemand wat met gesag en gravitas kon praat, maar nooit domineer of afgeskrik het nie.

Claassen praat self. Al wat hy vertel, is die voorreg om die kerk te kon dien, maar ook dat hy nou wil en lekker gaan rus.

En dan, nadat ds Maartje van der Westhuizen ’n geskenk aan hom oorhandig het, sluit die deel van die aand se kuier af op die mees gepaste manier moontlik.

Dr Nioma Venter volg dr Claassen op.

Dr Nioma Venter, Claassen se opvolger, tree na vore. Die hoogte van die staan-mikrofoon moet verstel word: van Gus na Nioma … ’n Oomblik wat baie mooi was tussen hulle twee. En sy bid, ons bid, vir hierdie kosbare mense wat ons moet groet. Saam as kerk bid ons die seën van die Here oor hulle uit. Saam weet ons dat die Here ook voor hulle sal uitgaan, en ook saam met hulle op reis sal bly.

Ek het die voorreg gehad om vinnig ook met hom te kon gesels, en vir hom so twee vrae te vra.

Geborg

Op die vraag van wat hy altyd sal onthou van sy tyd in die Algemene Sinode se kantoor antwoord hy: “As ek iets moet sê oor hoogtepunte is daar baie. Dit was ’n ongelooflike voorreg om my kerk in die hoedanigheid van algemene sekretaris te kon dien. Alhoewel daar baie uitdagings was, was die hoogtepunte by verre meer. Dit was wonderlik om met lidmate te kon werk om hulle hart te hoor klop oor dit wat in die kerk aan die gang was, of dit nou bekommernisse of opgewondenheid was. Dit was ’n wonderlike voorreg om met die leierskap van die kerk te kon werk, die jong opkomende leiers in die kerk maak my geweldig opgewonde. Dit was ’n hoogtepunt om te kon beleef oor hoe waardering internasionaal vir die NG Kerk groei en hoe ons met leiersposisies vertrou word. Dit was ’n hoogtepunt om te beleef hoe die NG Kerk ’n al hoe groter rol, wat sy publieke getuienis betref, in die land speel. Kommentaar deur die NG Kerk op konsepwetgewing word ernstig geneem. Dit was besonders om die kerke op verskeie forums en werkwinkels te kon verteenwoordig.”

Die tweede vraag, iets oor die toekoms van die kerk, beantwoord hy so:

“My droom vir die NG Kerk is om steeds te leef vanuit die verwagting dat God hierdie kerk roep om sy toekoms waar te maak, waar sy ookal is. Ek droom verder dat die kerk haarself steeds met groot passie sal uitspreek teen uitbuiting, vergrype en ongeregtigheid oor die wye spektrum. Ek droom vir die NG Kerk dat sy steeds die inklusiewe kerk sal wees waar almal sonder onderskeid van ouderdom, geslag en ras ’n welkome tuiste sal wees. Ek droom dat die kerk nog meer, saam met ander kerklike tradisies ,op reis sal wees om hulle eenheid in Christus te vier en uit te leef.”

Dr Claassen, ons dank die Here vir die tyd wat ons jou kundigheid kon benut. Lekker rus!


Ds Estian Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie. Hy skryf ook graag stories oor die mense van die Noord-Kaap. Sy e-posadres is: estian@ngkharmonie.co.za


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.