Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Sorg vir die aarde: Herwinning is soveel meer as bewaring van primêre hulpbronne


Ons moet eenvoudig aan herwonne materiaal as ’n noodsaaklike hulpbron begin dink, berig Fay van Eeden en deel wenke met die oog op sowel Internasionale Herwinningsdag (18 Maart) as Internasionale Waterdag (22 Maart).

 

Wanneer ons aan die aarde se natuurlike hulpbronne dink, dink ons aan ses – water, lug, olie, aardgas, steenkool en minerale. Hierdie hulpbronne verteenwoordig die grondslag van ons bestaan. Sonder hierdie ses elemente kan ons nie oorleef nie, tog is ons besig om argeloos met hulle om te gaan. En terwyl ons natuurlike hulpbronne krimp, word ons stortingsterreine al groter.

Volgens die State of Waste Report (SoWR), wat deur die Departement van Omgewingsake uitgereik is, het Suid-Afrikaners in 2017 ongeveer 54,2 miljoen ton afval in ’n jaar gegenereer waarvan 90% op stortingsterreine en elders beland het. Met stortingsterreine wat teen ’n snelle pas vol word en baie min nuwe terreine wat beskikbaar gestel word, gaan ons binnekort in ons eie vullis begin verdrink. Oplossings vir hierdie uitdagings is nie eenvoudig nie, maar ’n ‘sewende hulpbron’, dié van herwinning, kan dalk ’n bietjie help.

Die wêreld dink in hierdie dae oor twee van hierdie sewe hulpbronne met die viering van Internasionale Herwinningsdag (18 Maart) en Internasionale Waterdag (22 Maart).

Geborg

Kerkbode het gedink om ’n paar wenke te gee oor hierdie twee hulpbronne.

Herwinning

Herwinning help nie net met die bewaring van kosbare primêre hulpbronne nie, dit bekamp ook klimaatsverandering deur jaarliks meer as 700 miljoen ton se CO2-vrystellings te bespaar. Dit verskaf ook aan 1,6 miljoen mense wêreldwyd werk. En volgens die Internasionale Herwinningsdag se webblad is die verwagting dat die herwinningsbedryf se bydrae tot die globale BBP $400 miljard in die volgende 10 jaar sal oorskry. As ’n mens in ag neem dat ons die afgelope 50 jaar meer hulpbronne verbruik het as ooit tevore in die geskiedenis van die planeet en dat die sewende hulpbron (herwonne materiaal) 40% van die wêreld se grondstofbehoeftes voorsien, dan is dit nie moeilik om te sien waarom herwinning belangrik is nie.

’n Paar herwinningswenke:

Herwinning begin by jou aankope. Produkte sonder verpakking is eerste prys, maar ongelukkig is verpakkingsvrye aankope selde moontlik. Probeer dus eerder produkte koop wat in herwinbare verpakking is.

Vermy “wensherwinning”. Wensherwinning is wanneer jy iets in die herwinningshouer plaas met die hoop dat dit herwin sal word. Ongelukkig kan baie materiale nie herwin word nie. Maak asseblief seker dat dit wat jy in herwinningshouers plaas wel herwinbaar is.

Foto: Verskaf

Spoel jou herwinbare produkte uit. Spoel jou leë blikkies en bottels uit. Vuil bottels en blikkies is moeilik of onmoontlik om te herwin en kan ander items wat wag om herwin te word, besoedel.

Geborg

Weet wat herwin kan word en hoe.

Plastiek: As daar ’n nommer 1 tot 6 in die herwinningsdriehoekie is, kan dit waarskynlik herwin word. Nommers 1 tot 3 word wyd in Suid-Afrika herwin. Nommer 7 plastiek word nie tans in Suid-Afrika herwin nie.

Polistireen is nie herwinbaar nie.

 

Glas: Net glasbottels word herwin. Verwyder die deksels en herwin apart.

 

Alle skoon en droë karton, papier en koerantpapier kan herwin word. Onthou dat enige papier met ’n plastieklagie, soos die meeste toedraaipapier, nie herwin kan word nie.

Water

Internasionale Waterdag nooi ons om anders te begin dink oor hoe en hoeveel water ons gebruik. Daar is baie maniere om water in en om jou huis te bespaar. Die oes van reënwater in tenks is ’n goeie opsie, sowel as die hergebruik van grys water, maar beide verg beplanning en het koste-implikasies. Hier is ’n klomp eenvoudige maniere om vandag nog water in jou huis te bespaar.

Geborg

Draai die kraan toe terwyl jy jou tande borsel

Hierdie is een van die maklikste maniere om water in jou huis te bespaar. Wanneer jy jou tande borsel, maak jou borsel nat, vul ’n glas met water om jou mond uit te spoel en draai die kraan toe.

 

Neem korter storte of neem ’n vlak bad

’n Tipiese stort gebruik 18 tot 37 liter water per minuut. Deur vyf in plaas van tien minute te stort, kan jy baie water bespaar. Oorweeg dit om in die somermaande die kraan toe te draai terwyl jy jouself seep. Of oorweeg dit om daardie lang stort met ’n vlak bad te vervang, want ’n vlak bad gebruik minder water as die kortste stort.

 

Versamel afloopwater in jou stort

’n Emmer langs jou in die stort kan tot 60 liter water per stort opvang. Daardie water kan gebruik word om plante nat te lei of toilette te spoel.

Sit ’n plastiekbottel in jou toilettenk

Geborg

Nog ’n manier om water in jou badkamer te bespaar, is om ’n liter bottel met ’n paar klippies en water te vul en dit in jou toilettenk te plaas, natuurlik weg van die meganisme af. In ’n gemiddelde huis kan hierdie bottel tot 20 liter water per dag spaar sonder om die doeltreffendheid van die toilet te beïnvloed.

 

Kyk vir lekkasies

Lekkende toilette, krane en pype mors baie water. ’n Toilet wat lek, kan tot 350 liter water per dag mors. Om te kyk of jou toilet ’n lek het, gooi ’n bietjie voedselkleursel in jou toilettenk. As daar, sonder om te spoel, gekleurde water in die toiletbak is, lek jou toilet.

Gebruik jou outomatiese skottelgoedwasser en wasmasjien slegs wanneer vol

Die gemiddelde skottelgoedwasser gebruik ongeveer 95 liter en wasmasjien 115 liter water per vrag – maak dus seker dat hulle vol is voordat jy hulle aanskakel.

 

Dink anders oor tuinmaak

Kies plante en bome wat nie baie water nodig het nie. ’n Deklaag om bome en plante sal ook verdamping vertraag. Maak jou tuin nat gedurende die koeler dele van die dag. As ’n reël is die beste tyd om jou tuin nat te lei voor 10:00 en na 16:00.

Eet ’n bietjie minder vleis

Volgens die blog Tiny tips that shake the world spaar jy 130 liter water deur vleis vir ’n week uit jou dieet te sny. Ek bepleit nie ’n plantgebaseerde dieet nie, maar dit blyk dat minder vleis eet op meer as een manier ’n verskil kan maak.

  • Ds Fay van Eeden is leraar by die NG Kerk Stellastraat en ekoblogger. Volg haar op Facebook en instagram by @enroutefoodie vir meer ekowenke.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.