Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Wat my uit ontmoetings van die afgelope tyd opval – met amptelike verteenwoordigers van die NG Kerk in Afrika, die Gereformeerde Kerke, Hervormde Kerk en die AGS – is hoe in elke susterskerk daar met uitdagings van ons nuwe konteks geworstel word, skryf Jan Lubbe in dié aflewering van sy gereelde Kerkbode-rubriek.

Uit my Kerkdagboek: ‘Ek is’ en wie óns in Pinkstertyd word …


Op dieselfde Vrydagoggend – die Vrydag net ná Hemelvaart – verskyn daar in twee Afrikaanse koerante ’n artikel en soveelste brief oor “die NG Kerk”. Om spesifiek te wees, oor “die moeder van ons almal”, die Groote Kerk in Kaapstad.

In sy artikel in Vrye Weekblad vra ’n bekende skrywer (ná sy bywoning van die troosdiens vir Peter Veldsman daar): “Het die Groote Kerk sy geskiedenis van onverdraagsaamheid afgeskud?” Dit is die kerk, vertel hy, waar hy as buite-egtelike kind nie gedoop kon word nie, maar as koshuiskind verplig was om Sondae eredienste by te woon. Met in die kerkbanke rondom, die eerste minister en kabinetslede uit die destydse Apartheidsparlement. Herinner hy dat die NG Kerk daardie politieke beleid teologies regverdig het, “die gevolge daarvan (steeds) verpletterend”.

In Die Burger weer, dieselfde Vrydag, roep ’n vurige briefskrywer wat nie lidmaat van die NG Kerk is nie, van die ánder kant van die spektrum af uit: “Is Groote Kerk (nou) die nuwe ‘struggle’ hoofsentrum?” Dít, na aanleiding van ’n onlangse byeenkoms daar met Palestynse Christene oor die oorlog van Israel in Gasa; ’n byeenkoms van – aldus die briefskrywer – “anti-semitiese, anti-Amerikaanse”, “ver-linkse, postmoderne teoloë (met) hul ‘ruim huis’-liberale teologie”.

By die deurblaai van my kerkdagboek van die sewe weke sedert Paasfees 2024, besef ek dat soos daardie kerktoring uit 1704 van weerskante ingedruk staan in die ou middestad, só bevind ons as NG Kerke ons oral in Suider-Afrika “te midde van” #JeSuisGrooteKerk, by wyse van spreke (soos met die Charlie Hebdo-aanval in 2015): “Ek (ons) is Groote Kerk”. Te midde van nuus oor ’n dogtertjie uit Saldanha weggesleep en ’n seuntjie in Soshanguve doodgeskiet; ’n verskriklike moord op ’n bejaarde egpaar op hulle Vrystaatse plaas. Dagboeknotas oor die wolkbreuk in Kroonstad en ’n te warm Mei. Nóg ’n dag omgeblaai vandat die gebou in George daardie Maandagmiddag om 14:09 op tagtig werkers ineengestort het. Ons probeer die Woord bedien tussen WhatsApps oor ’n Wes-Transvaalse kollega wat in sy fleur so siek geword het dat hy sy bediening moet neerlê; ’n kollega in Natal wat ’n groot gesondheidsuitdaging in die oë kyk; ’n geliefde Vrystaatse dominee op huisbesoek deur ’n beroerte neergevel; nog een se vrou het gesterf. Ons gee brood en water aan tussen Donderdagaand se Stil Nagmaalstafel en Paassondag se doopvont.

In Namibië raak ’n jong dominee verloof. By die troue van ’n gemeentekind stel hy bewoë-dankbaar ’n heildronk in op sy ouers; hulle is oorlede toe hy sewe jaar oud was. Twee jong kollegas begrawe hulle eersgebore baba. ’n Dominee emeriteer in sy grootwordgemeente Trompsburg. ’n “Akte van Opskorting” en “Afrikaner Verklaring” val byna gelyk in my e-posbus. Die skriba het bedank. Tussen dagboekaantekeninge oor ’n kermis of sopkombuis of tema vir die Pinksterreeks. Só staan dit in honderde dominees van die NG Kerk se dagboeke opgeskryf – dís wie ons is, ons kan nie anders nie: gewone geroepenes, feilbaar, moedig, te midde van alles.

Die Algemene Kuratorium wat in April by eMseni vergader het, het indringend oor die toekoms van Woordbediening in ons NG Kerke besin, en oor hoe goeie opleiding daarvoor moet lyk. Watter kundigheid en vaardighede is nodig? Waarvandaan sal daar vir ons studente kom, jonger én ouer studente? Hoe lyk finansiële volhoubaarheid daarvoor? Intussen gaan gesprekke oor ons kerkverband in ringe voort, die uitreik na gemeentes wat in een of ander sin hulle “verband opskort”, broers en susters beswaard oor sinodebesluite. In gesprek met die Wes-Kaapse Moderamen is gesê: ’n “Welwillende weg” is een waarop ons respekvol met mekaar praat, al verskil ons; waarop ons onsself hou by waarheid oor werklike besluite of standpunte; waarop ons streef na wedersydse begrip en deernis; waarlangs ons soek na billikheid teenoor elkeen. Ons Kerkorde moet juis daardie welwillendheid beskerm. Ons het mos sáám tot hier gekom, sáám kerke gebou, deur soveel krisistye sáám bedien?

Wat my uit ontmoetings van die afgelope tyd opval – met amptelike verteenwoordigers van die NG Kerk in Afrika, die Gereformeerde Kerke, Hervormde Kerk en die AGS – is hoe in elke susterskerk daar met uitdagings van ons nuwe konteks geworstel word. Covid het ons álmal raakgeslaan; ons water raak saam op; ons soek in die Skrifte; ons is nader aan mekaar as wat ons dink. Die eerste amptelike “herontmoeting” met die VGKSA post-Covid – by hulle 30 jaar herdenking van 1994, in Durban – was besónder intens. Dit was dáár dat ek moes sê: Je Suis. “I am the first accused.” Ons kán nie in die NG Kerk weghardloop van ons verlede òf van ons roeping in die hede nie. Ons bevind ons midde in die werklikhede van hierdie konteks. Dit is beslis iets anders as “in die middel”! In die volheid van ons diverse, dinamiese Suider-Afrikaanse samelewing is óns allermins teologies òf sosio-polities “in die middel” en nóg minder, ’n “Groot Kerk”. Wees eerlik.

Wat ons weet, is dít: ons naam en wie ons regtig is, het ons van Hóm ontvang wat eerste gesê het Je Suis. “Ek is”. Van daardie berghang af met die brandende bos, tot op die tempelplein in Jerusalem, Je Suis. Lig, brood, veilige skaapkraal en goeie herder, opstanding en lewe, weg en waarheid, en wingerdstok wat sy lote voed en laat vrugdra. Vrugte van die Gees. Waaronder geduld oor wie ons kán wees. Naas liefde, vrede en blydskap, volgende in die ry. Hý maak ons nuut. Kom ons bid dít in die Pinksterweke.

Gegroet, en tot vorentoe weer, Deo Volente.


Ds Jan Lubbe is voorsitter van die Algemene Sinode van die NG Kerk


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.