Carike Noeth het namens Kerkbode gesels met Daniël J Louw, wenner van vanjaar se Andrew Murrayprys vir Christelike publikasies in Afrikaans vir sy werk Daar is méér: Mymeringe oor die spiritualiteit van skoonheid, sin, siel en sterflikheid.
Ek ontmoet die amper 80-jarige prof Daniël Louw in die kapel van die Teologiese Fakulteit by Universiteit Stellenbosch, voor die gebrandskilderde vensters (wat hy self geskep het), waar hy my spontaan meer vertel oor sy outobiografie, Daar is méér. Hy vertel dat die kern van die boek ontstaan het vanuit die jarelange soeke na egtheid in die Christelike geloof, iets wat telkens vir hom ontbreek het. In sy soeke vind hy dat die menigte vorme van Christelike geloof geformuleer is op die ou Griekse en Romeins-kultiese denkwyses oor God. Dit noop hom toe om terug te gaan na die Semitiese hart van die verhale van die Bybel.
Tydens sy nuwe soeke na die egtheid van die Christelike geloof, vind hy op ’n dag ’n stowwerige boek op ’n boekrak by die Kweekskool, getiteld Das Wesen des Christentums deur Ludwig Feuerbach. In hierdie boek lees hy ’n eenvoudige sinnetjie wat hom sprakeloos laat: ’n God sonder ’n hart is ’n afgod. In daardie oomblik besef hy dat daar weggedoen moet word met die soeke na wie God is in ruil vir die soeke na hoe God is – die sleutel van die geloof lê vir hom dáárin vasgevang. Dit is hier waar hy op reis gaan op soek na ’n nuwe spiritualiteit wat wegdoen met oorsaak-gevolg-denke en eerder ’n diakroniese paradigma as lens vir sy teologie inspan. Hiermee verander sy eie jarelange hermeneutiek.
Hy vind gevolglik ’n nuwe sin in die deernisvolle God se wese as ’n God wat barmhartig en selfs weerloos en broos is; ’n God wat nie skroom om betrokke te raak by die lyding van mense nie. Hy verduidelik dat daar ’n nuwe narratief oopbreek wanneer ’n mens spiritualiteit vanuit die realiteit van jou eie menswees en broosheid begin leef. Dit is binne hierdie raamwerk dat Louw se spiritualiteit dan vreesloos die skoonheid, broosheid, siel, en selfs die sterflikheid van die lewe omhels. Hy deel hoe daar te midde van die broosheid van sy lewe tans ook skoonheid gevind kan word en hoe God deurgaans teenwoordig is.
Oor die toekoms vertel hy dat hy enkele ure gelede sy volgende boek afgehandel het – ’n boek wat selfs dieper gaan kyk na verskeie temas, onder meer die Metaversum. Sy reis deur Amper-Stamperland is dalk reeds propvol ryk herinneringe, broosheid, kuns en avonture wat deur jare versamel is, maar een ding is seker: die reis is nog nie klaar nie. Daar is méér …
Dr Carike Noeth is ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch en die eienaar van Full Circle Ethics, ’n besigheid wat opleiding, samewerking en konsultasie in etiek bied.