Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Omvattende huldiging van Albert Nolan kyk terug, maar open ook vrae vir SA van vandag

Prof Fanie Snyman, een van die beoordelaars van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir teologiese publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika behalwe Afrikaans, skryf oor die wenner van dié prys: Reluctant prophet: Tributes to Albert Nolan, onder redaksie van Mike Deeb, Philippe Denis en Mark James.

 

Hierdie boek het ’n interessante aanpak. Dit is enersyds ’n huldigingsbundel aan Albert Nolan (1934-2022), ’n prominente Dominikaanse Rooms-Katolieke teoloog en politieke aktivis. Tegelykertyd word daar ook breedweg ’n kronologiese tydlyn gevolg met die volgorde van die verskillende artikels in die boek. So word daar byvoorbeeld aandag gegee aan Nolan se beginjare, sy studie in die Teologie, sy tyd as studenteleraar (student chaplain) en later sy bediening in Mayfair. Die boek word ook versier met ’n verskeidenheid van foto’s van die jubilaris.

Reluctant prophet word gekenmerk deur ’n ryke diversiteit. Daar is nie minder nie as 70 hoofstukke in die boek, geskryf deur 71 outeurs. Die bydraes wissel van hoofstukke met ’n akademiese styl wat die resultaat van navorsing is, tot meer persoonlike ervarings van en belewenisse met die jubilaris. Die outeurs wat bydraes gelewer het, vertoon ook ’n ryke diversiteit: daar is Katolieke, Anglikaanse en nie-Katolieke teoloë, swart en wit teoloë, vroulike en manlike teoloë, teoloë uit ’n verskeidenheid van taalgroepe en les bes ook nie-teoloë, waaronder regsgeleerdes, joernaliste, maatskaplike werkers en sielkundiges.

Die boek bied ’n insig op die turbulente politieke jare van Apartheid, vanuit ’n teologiese hoek gesien. Dit is waarskynlik die samebindende lyn: ’n teologiese nadenke gekombineer met ’n diep spiritualiteit wat tegelykertyd ingebed is in ’n konkrete geskiedenis van wat met mense gebeur het.

Mike Deeb

Vir baie Afrikaanssprekende predikante en lidmate sal die naam van Albert Nolan óf volledig onbekend óf dalk net vaagweg bekend wees. Met hierdie boek word daar ’n kaleidoskoop van perspektiewe op hierdie miskien ondergewaardeerde teoloog en die geskiedenis van sy tyd gebied. Die lees van die boek verdiep en verbreed ’n mens se begrip van ’n tyd in die geskiedenis van Suid-Afrika waarmee ons miskien nog nie vrede gemaak het nie. Die boek open ook vrae vir die konteks van die huidige Suid-Afrika. Hoe en op watter maniere sou teologie en spiritualiteit in kritiese gesprek kon tree met die vraagstukke van die Suid-Afrika van vandag?

Beskikbaar aanlyn.

Deeb, M. Denis, P & James M (reds). 2023. Reluctant prophet: Tributes to Albert Nolan OP. Johannesburg: UJ Press. 462 bladsye.

Prof Fanie Snyman is navorsingsgenoot in die Departement Ou- en Nuwe-Testamentiese Studies aan die Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top