Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Cas Wepener: Geen lewe sonder rituele


Ten spyte van die waarde wat ons plaas op wetenskaplike vooruitgang en rasionele denke, raak rites en mites ons op ’n diep vlak, skryf Cas Wepener. 

 

Mites en rites word in alle sfere van die lewe gevind. Op sekere plekke soos kerke word hulle verwag, op ander plekke, soos die akademie weer nie. ’n Mens sou dink rasionele denke het lankal alle rites en mites by universiteite uitgeroei. Universiteite is tog die tempels waar tegniese taal, rasionele denke en funksionele handelinge nie ruimte laat vir rites en mites nie. Miskien kan studente in koshuise wat nog nie volledig die lig van die waarheid van die wetenskap gesien het nie nog rituele uitvoer, maar in die ander ruimtes van die akademie verwag ’n mens dit nie.

Helaas is die mens ’n maker van mites en ’n rituele dier en wil dit voorkom asof selfs ’n tegnologies gevorderde lewe nie sonder rituele moontlik is nie. Hiervan was ek onlangs opnuut bewus toe my jarelange kollega en vriend sy “afscheidsrede” in Amsterdam gelewer het waar ek ’n toespraak moes lewer. Op die vliegtuig kry ek uiteindelik tyd om die e-poskommunikasie meer noukeurig te lees: “als je staat, loopt of spreekt altijd de baret op” en ook: “’Mijnheer de rector, dames en heren’ ligt enigszins gevoelig en is te binair gedacht”. En so het dit ook gebeur – getooi in ’n leentoga van die Vrije Universiteit Amsterdam, met die baret op het ek die “gewaardeerde toehoorders” aangespreek.

Tydens die verrigtinge het ek opnuut besef dat die mens nie sonder rites en mites kan leef nie. Selfs die akademie raam ons met jool, met Intervarsity, met prosessies, togas, kleure en liedere tydens gradeplegtighede, en met intree- en -afskeidsredes. En ’n afskeidsrede, soos dié van my vriend, is natuurlik ’n klassieke oorgangsritueel of rite de passage soos benoem deur die antropoloog Arnold van Gennep. Dit is ’n rite wat korreleer met die lewensloop van die mens en die mite van een spesifieke individu se lewe. ’n Afskeidsrede is daarom vergelykbaar met ’n begrafnis aangesien die klem op afskeid as ’n oorgang val, ’n einde dus – jy word uitgeskop, oftewel gegroet. En daar is ’n rolverdeling waarin elke deelnemer sy plek moet ken. Daar is eerstens die pedel, ’n besoldigde amptenaar van die universiteit wat verantwoordelik is vir rituele en seremonies en wat moet toesien dat ongeveer veertig sogenaamde hoogleraars reg geklee is deur die kollega in die garderobe en daarna noukeurig in ’n prosessie opgestel word. Daarna marsjeer die pedel, vooraan en septer in die hand, kompleet soos een van Avbob se lykbesorgers, ons in gelid na die Aula.

 

Nóg akademie nóg die wêreld van tegnologie kan sonder rites en mites 

Die titel van my vriend se praatjie, soos sy nuutste boek se titel, lui God in bits and bytes. Hy verwys na dosyne filosowe en teoloë om sy argument stelselmatig te bou en ’n akademiese oeuvre en loopbaan so af te sluit. My oog vang ’n voetnota wat verwys na die iReligion van die Apple-maatskappy. Die appel wat soos die kruis funksioneer as kernsimbool van Apple as ’n gosdiens of kultus met vele getroue volgelinge; die mitiese verlede wat gekoppel word aan die tot standkoming van Apple as maatskappy en natuurlik die stigter Steve Jobs se lewensverhaal; iStores wat soos moderne tempels funksioneer en deur aanhangers besoek word om hulde te bring aan die (heilige) voorwerpe; pelgrimstogte wat na die opening van nuwe Apple-winkels en die vrystelling van nuwe produkte onderneem word; en natuurlik die private rituele tuis wat geassosieer word met die sogenaamde “unboxing” van Apple-produkte.

Die akademie kan nie sonder rites en mites nie en blykbaar die wêreld van tegnologie ook nie. Kyk ’n mens net ’n raps verder, sien jy dat daar min lewensterreine sonder mites en rites is. Stetoskope hang oor die skouers van wit gejaste mediese dokters soos kruise om die nekke van Ortodokse priesters. Daardie instrumente funksioneer as simbole wat onder meer wys dat dokters, soos priesters wat soek na die stem van die Onsienlike, ook onsigbare ritmes en kloppings kan waarneem. En al weet ek goed dat my dokter net ’n mens is, soek ek daardie simboliek van die wit jas en stetoskoop wat my verseker dat sy oor magiese wetenskaplike kennis beskik. Wanneer advokate, aanklaers en regters ’n hofsaal betree, is hulle geklee in swart toga’s en word hulle optredes noukeurig gereguleer deur juridiese rituele. Dit skep ’n atmosfeer wat daarop dui dat diegene wat hieraan deelneem ontgetwyfeld binne die sfeer van die soeke na waarheid beweeg. Wanneer ek myself binne in of naby aan ’n protesoptog bevind, dan sien ek duidelik dat laastes eerste kan wees en die werklikheid wat ek bewoon vir seker ook anders kan lyk. En tuis maak rekwisiete soos kersies op ’n koek en presente my ’n dag lank die hoofkarakter in die drama van my private lewe. Soos die titel van ’n boek van die teoloog Gerard Lukken tereg lui – Geen leven zonder rituelen.

Die historikus Willem Frijhoff wys weer in sy boek Heiligen, idolen, iconen hoe Leonardo DiCaprio se lewensverhaal vroeg reeds geskoei is op die Middeleeuse vita, oftewel lewensverhaal van ’n heilige.

Saam met die rites boetseer ons voortdurend ons mites. Elke mens is konstant besig om sy eie lewensverhaal aan te pas vir die lewensfase waarin hy hom bevind. Soos die jare aanstap sien ek terugskouend al duideliker hoe ’n enorme groot martelaar ek was en onderteken ek my eie heilige verklaring. Dit doen ek deur my lewensverhaal te redigeer met die proses van “re-membering” – waarvan ek hou mag bly, maar die res word onderwerp aan selektiewe amnesia. Die mite-makery kan egter makliker in die media en in die lewe van glanspersone ge-eien word as in jou eie lewensverhaal. Prinses Diana is uiteraard die ikoniese sekulêre martelaar en heilige wie se lewe en vroeë dood haar lewe ooreenkomste laat toon met dié van Jesus. Die historikus Willem Frijhoff wys weer in sy boek Heiligen, idolen, iconen hoe Leonardo DiCaprio se lewensverhaal vroeg reeds geskoei is op die Middeleeuse vita, oftewel lewensverhaal van ’n heilige. Sy ouers steek die oseaan oor vanaf die ou wêreld na die onbekende van die nuwe wêreld; hulle ontmoet mekaar in die tyd van Flower Power; die seuntjie kry sy naam in Venesië toe sy ma in ’n kunsmuseum na ’n skildery van Leonardo Da Vinci kyk en die ongebore vrug in haar baarmoeder beweeg (soos die vrug in Elisabeth se moederskoot volgens die Evangelie van Lukas van vreugde gespring het); die huwelik wat gou op die rotse was; die armoede en stryd van ’n enkelma; die seun se lewenslus, wilskrag en vroeë oortuiging oor wat hy met sy lewe wil doen (lees roeping); die aanvegting wat hy beleef van die diaboliese media; en in beriggewing oor hom is sy aura en besondere uitstraling ’n deurlopende tema. Wat hom nog meer ikonies kon gemaak het, soos dit met onderskeidelik James Dean en River Phoenix op eiesoortige wyse gebeur het, is natuurlik ’n vroeë dood, want volgens die vita as genre is jou sterfdag jou dies natalis, oftewel geboortedag en word jy so verewig.

’n Mens sou verwag dat, soos wat die Vierde Industriële Revolusie vorder, kunsmatige intelligensie deel word van ons alledaagse lewe, en ons bestaan al meer geraam word deur wetenskap en tegniek, rites en mites in die vergetelheid sal verdwyn en beskou sal word as dinge waarvoor daar nie plek is in die lewe van redelike mense nie. Ten spyte van die waarde wat ons plaas op wetenskaplike vooruitgang en rasionele denke, raak rites en mites ons op ’n diep vlak. Hulle is deel van hoe ons betekenis soek en vind in die lewe en gee aan die gewone lewe ’n nodige skeut misterie, veral by die dreigende driwwe van die lewe wat ons moet oor en waar die taal van tegniek en wetenskap te kort skiet. Daar by die drif wag die dokter met die stetoskoop, die ge-togade regter, die pedel wat jou weglei na die onbekende, ’n geliefde met ’n punthoedjie van karton wat ’n streamer oor jou gooi. Ja, selfs op WhatsApp, Facebook en Instagram, en op verskeie platforms op die internet soos kuberbegraafplase, bly die mens ’n rituele dier en maker van mites.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.