Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Marietjie Buys is ’n Badisa-vrywilliger wat op Stilbaai ’n verskil maak deur die gee van rekenaarvaardigheidsklasse. Hierdie artikel is deel van 'n inhoudsvennootskap tussen Kerkbode en Badisa. Foto's: Verskaf

Badisa | Marietjie Buys – ’n verskilmaker wat jongmense se drome help waar word


Marietjie Buys is ’n finansiële bestuurder wat na aftrede by ’n nasorgprojek op Stilbaai rekenaarvaardigheidsklasse begin aanbied het. Sy glo as jy oor die vermoë beskik om ’n verskil te maak, moet jy dit sonder huiwering doen, daarom lig hulle haar uit as ’n verskilmaker skryf Leroy Jooste van die Christelike maatskaplike hulporganisasie Badisa.

So is Hanri October se droom om onderwyseres te word vandag waar danksy hierdie Badisa-vrywilliger wat besluit het sy wil na aftrede ’n verskil maak in die lewe van jongmense op hierdie Overbergse kusdorp.

Hanri het vertel toe sy in 2015 gematrikuleer het, was daar nie geld om met haar onderwysstudies te begin nie. Sy het toe Marietjie se rekenaarvaardigheidsklasse begin bywoon by Ouma Lena se Huis, ’n nasorgprojek van Badisa op Stilbaai.

Hanri October se droom om onderwyseres te word het waar geword by die Melkhoutfontein Primêre Skool op Stilbaai.

Marietjie sê sy het by hierdie Badisa-projek betrokke geraak omdat sy gevoel het dat sy graag haar rekenaarvaardighede ten gunste van die gemeenskap wou aanwend. Sy en haar man dr. Johan Buys, het hier kom aftree na sy uit haar pos as finansiële bestuurder by die Universiteit Stellenbosch Sentrum vir Pedagogiek (Sunsep) getree het. 

Marietjie was deel van die SciMathUs-program by die Universiteit van Stellenbosch wat leerlinge help om hulle matriekprestasie in veral Wiskunde en Fisiese Wetenskappe te verbeter. Sy vertel sy het tydens haar betrokkenheid hier gesien hoe studente se selfvertroue met die nodige ondersteuning en mentorskap kan verbeter en sy het dieselfde droom gehad vir haar klasse by Ouma Lena se Huis. 

Ouma Lena se Huis, ’n nasorgprojek van Badisa op Stilbaai, bied rekenaarvaardigheidsklasse aan.

Toe Marietjie dus van Hanri se uitdagings te wete kom het sy tesame met haar man besluit om Hanri volkome te ondersteun. Hulle het Hanri met die aansoekfooie van drie universiteite bygestaan, daarna saam met Hanri na George gereis om die Nasionale Normtoetse (NNT’s) af te lê en was bly toe Hanri by die Universiteit van Wes-Kaapland aanvaar is. Dit is die goeie nuus waarvoor die twee vroue gewag het. Vandag het Hanri ’n B Ed-graad en onderrig sy elke dag die jonger generasie by die Melkhoutfontein Primêre Skool, Stilbaai.

Marietjie glo dat die sukses van die klasse daarin lê dat sy individuele aandag aan die leerlinge kan gee. By Ouma Lena se Huis stap sy ’n pad met elke leerling en het sy as’t ware ’n vertroueling vir menige (dikwels onsekere) jongmense geword. Ná afloop van die klasse skryf die leerlinge ’n toets en indien suksesvol ontvang hulle ’n “Sertikaat van Rekenaarvaardigheid”. Hierdie sertifikaat dien as ’n bewys van hulle toegewydheid aan selfontwikkeling en word vir moontlike werksgeleenthede gebruik.

Marietjie is voorsitter van die kerkraad van die NG Gemeente Stilbaai en ‘n trustee van Ouma Lena se Huis. Marietjie sê dat alle mense êrens wil behoort. Sy glo as jy oor die vermoë beskik om ’n verskil te maak, moet jy dit sonder huiwering doen. Sy doen daarom ’n beroep op afgetredes om hul wysheid, vaardighede en ’n luisterende oor te deel met die mees kwesbare in ons gemeenskappe. 

  • Badisa se vrywilligers maak op verskillende maniere ’n positiewe verskil in die lewens van mense in hulle gemeenskappe. Besoek Badisa se webblad om meer uit te vind. Leroy Jooste is ’n fondswerwer by Badisa. Die artikel is ’n verwerking van die oorspronklike storie wat in die Mei-uitgawe van Badisa se nuusbrief verskyn het.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.