Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Roetemerkers vir die jeug kan groot waarde hê mits dit reg verstaan word. Ongelukkig flikker daar rooi ligte oor die Algemene Sinode (AS) se teologie van roetemerkers. In watter mate is hierdie roetemerkers besig om teenproduktief die ganse NG Kerk op ’n verkeerde roete te plaas?
Die AS het al in 1998 asook 2002 duidelike besluite geneem soos:
- “dat dooplidmate én belydende lidmate op grond van die verbond volledig lidmate van die kerk is …”
- “Die Algemene Sinode handhaaf die praktiese onderskeiding van dooplidmate en belydende lidmate …”
- “Die onderskeid tussen doop- en belydende lidmaatskap dui nie op dubbele lidmaatskap nie.”
- “Die Algemene Sinode besluit dat die formele aflegging van geloofsbelydenis ingeklee word as ’n getuienis van persoonlike geloof in Jesus Christus, onderskrywing van die Gereformeerde leer soos vervat in die Ou en Nuwe Testament en die artikels van die Christelike geloof en gereedheid om leiding te neem in die gemeente”.
Niemand word met hierdie belydenis gebore nie. Die Here werk dit deur sy Gees in my hart. Geen roetemerker kan dit vervang nie. Talle gedooptes het dit nog nie bely nie en sal of wil dit nooit bely nie.
Voorheen het my lidmaatbewys wel van my doop getuig, maar ook: DAT EK GLO én WAT EK GLO: Ek ken en aanvaar die suiwer belydenis as my eie geloofsoortuiging.
Deur openbare geloofsbelydenis te vervang met blote “roetemerkers” het die AS die NG Kerk stil-stil op ’n verkeerde roete geplaas. Tot onlangs kon hulle lidmate flous met beloftes soos “Roetemerkers: Dit vervang nie die geloofsbelydenis nie” (Kerkbode 29/10/23). Maar nou het die waarheid hulle ingehaal, want dit hét reeds gebeur!
- In 2023 het die AS besluit om alle verwysings na doop- en belydende lidmate in die Kerkorde te verander na slegs “lidmate”.
- “Die tegniese term Belydenis van Geloof val nou weg ten gunste van die belydenis van geloof regdeur die lewe” (ASM 2021).
Rampspoedige implikasies:
- My lidmaatbewys kan nou slegs getuig dat ek gedoop is.
- Dit getuig nie meer DAT EK GLO NIE, en ook nie WAT EK GLO nie.
- Ander gereformeerde kerke sal baie versigtig wees om so ’n lidmaatbewys te erken.
- Gedooptes wat nooit gekatkiseer of belydenis van geloof afgelê het nie kan nou op die kerkraad dien.
- Ek kan kinders doop sonder enige lidmaatbewys van my eie geloofsoortuigings.
- Leertug verdwyn want suiwer leer is nie meer voorwaarde vir belydende lidmaatskap nie.
- Wat van gedooptes wat geen roetemerkers ontvang het nie?
In Oktober 2024 gee die ASM advies oor die bevoegdheid van sulke kerkrade.
RAAI WAT? Die ASM maak toe ’n akrobatiese sprong in stryd met hulle eie besluite, terug na 1998 “dat slegs belydende lidmate tot die ampte (diens, leierskap) gekies word”. Tong in die kies wonder ek toe: Waar kry ons dan belydende lidmate vir die kerkraad as hulle volgens die AS nie meer bestaan nie? Dit lyk my ons gereformeerde vaders was toe nie so dom soos wat sommige dink nie.
Dankie Theo. Geloofbewys word almeer afgebreek en tot niet gemaak. Geloof word nou iets wat met jou eie gevoel en kultuur van die tyd te doen het.
Ouderdom (18) en nie meer belydenis van geloof is nou die maatstaf om “handelsbevoeg” te wees. Ek aanvaar daarmee word bedoel om alle lidmaats voorregte te hê.
NGB artikel 34 wat sê dat jy deur die doop ‘n lidmaat word, staan nie alleen nie.
Art 29 voeg onder meer by dat lidmate Jesus Christus as enigste Hoof moet erken en dat hulle Hom in in geloof moet aanneem. Dit is nie opsioneel soos roetemerkers nie maar dis wesens kenmerke van lidmaat wees, en dit is deur openbare belydenis kom.
As ons slegs die doop begin siens as “vereiste” tot lidmaatskap, neig ons nie na ander demoninasionele benaderings nie? Is die doop en nagmaal nie veronderstel om “uiterlike tekens” te wees wat wys na genade bediening na binne nie?
As ons dus die doop as enigste vereiste vir lidmaatskap eis, watter doop? Klein doop, grootdoop, bekeringsdoop, verbondsdoop, apostoliese doop, vuurdoop, besprinkeling, onderdompeling of simboliese doop? Die tipe doop wat jy ontvang sê tog ook iets van jou belydenis, maar jou belydenis kan iewers tydens jou geloofsreis verander. Jy kan klein gedoop wees of later in jou lewe, maar iewers kies om agnosties of selfs ateïsties te wees. Is jy dan nogsteeds lidmaat? En, as ’n lidmaat wat nie glo nie, wat maak dit jou?
Roetemerkers kan ’n aanwins wees om saam as geloofsgemeenskappe God se genade en liefde te vier, maar dit wil voorkom asof daar met hierdie beweging – soos met soveel ander in die kerk (nie net die NG kerk nie) deesdae – al meer gefokus word op menslike ervaring. Is ons nie besig om Jesus se eerste gebod te vergeet nie? Ek dink aan sy woorde in Openbaring 2:4: “Maar Ek hou dit teen jou dat jy jou eerste liefde versaak het.” (AFR20) of: “Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.”
Dit is nodig dat ’n openbare belydenis van geloof of ’n “aanneming en voorstelling” – gebaseer op die gereformeerde leer – deel van die (NG) kerk bly. Dit maak ons verantwoordbaar vir onsself en vir mekaar. Daarsonder gaan die tendens van self-verontskuldiging en selfgesentreerdheid aanhou.
NGB artikel 34 wat sê dat jy deur die doop ‘n lidmaat word, staan nie alleen nie.
Art 29 voeg onder meer by dat lidmate Jesus Christus as enigste Hoof moet erken en dat hulle Hom in in geloof moet aanneem. Dit is nie opsioneel soos roetemerkers nie maar dis wesens kenmerke van lidmaat wees, en dit is deur openbare belydenis kom.
Ouderdom (18) en nie meer belydenis van geloof is nou die maatstaf om “handelsbevoeg”, (om alle lidmaats voorregte te hê.) te wees.