Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Badisa se 16 dae-veldtog : Raak betrokke – fokus op kinders wat geweld sien en ervaar


Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadstatistieke vir die derde kwartaal van 2023/2024 skets ’n ontstellende prentjie: 171 kinders is in 2024 vermoor, 313 het pogings tot moord oorleef, en meer as 13 700 vroue is reeds in die eerste kwartaal van die jaar aangerand.

Volgens ds Melanie Thirion, koördineerder van die vroeë intervensiedienste by Little Seeds – ’n Vroeë Kinderontwikkeling (VKO)-eenheid wat programme en dienste van Diaconia en Badisa integreer – beklemtoon hierdie statistieke die direkte en sigbare impak van geslagsgebaseerde geweld (GGG). Sy sê, “Minder sigbare vorme van geweld, soos emosionele, finansiële en seksuele mishandeling laat egter blywende letsels, veral by jong kinders wat sulke geweld binne hul gesinne aanskou. Hierdie impak strek veel verder, aangesien dit hul emosionele, kognitiewe en sosiale ontwikkeling beïnvloed en hulle dikwels vir die res van hul lewens nadelig raak.”

Thirion verduidelik hoe GGG jong kinders se leer en opvoedkundige groei kan beïnvloed:

1 Kognitiewe ontwikkeling

Stres en trauma wat met GGG verband hou kan kognitiewe funksies benadeel. Langdurige stres beïnvloed dele van die brein wat noodsaaklik is vir leer en uitvoerende funksies, wat probleme met konsentrasie en die behoud van inligting veroorsaak.

2 Emosionele regulering

Gesonde emosionele regulering is noodsaaklik vir suksesvolle leer. Kinders wat gereeld angstig of ontsteld is as gevolg van blootstelling aan geweld, sukkel dikwels om aan klas aktiwiteite deel te neem, instruksies te volg en by leer betrokke te raak.

3 Gedragsprobleme

Kinders wat geweld aanskou of ervaar, toon dikwels gedragsprobleme soos aggressie, of teruggetrokkenheid. Hierdie gedrag ontwrig nie net hul eie leerproses nie, maar ook die leeromgewing en hul verhoudings met onderwysers en maats.

4 Sosiale vaardighede

Sosiale ontwikkeling speel ook ’n belangrike rol in leer. Kinders wat deur GGG geraak word, sukkel dikwels om vertroue, samewerking en kommunikasievaardighede te ontwikkel, wat  noodsaaklike elemente vir groepswerk en klaskamer dinamika is.

5 Skoolbywoning en betrokkenheid

’n Chaotiese en onveilige tuisomgewing, wat dikwels met GGG gepaard gaan, kan lei tot onreëlmatige skoolbywoning. Daarbenewens raak ouers dikwels minder betrokke by hul kinders se skoolwerk, wat verdere negatiewe gevolge vir die kind se ontwikkeling inhou.

6 Selfvertroue en motivering

Die trauma wat met GGG gepaard gaan kan ’n kind se selfvertroue en motivering ernstig skaad. Kinders mag aan hul eie vermoëns twyfel en minder geneig wees om aan leer aktiwiteite deel te neem. Geweld in die huishouding ontwrig ook die ondersteuningsisteem wat kinders nodig het om suksesvol te kan leer.

7 Langtermyn opvoedkundige impak

Die kumulatiewe effekte van GGG kan kinders se opvoedkundige toekoms ernstig beïnvloed. Hulle sukkel dikwels om akademiese sukses te behaal en is meer geneig om skool te verlaat voordat hulle Graad 12 voltooi.

Om die siklus van geslagsgebaseerde geweld te breek, moet ons saamwerk, bewusmaking bevorder en mekaar ondersteun om vir kinders ’n veiliger en helderder toekoms te skep.

Badisa, in samewerking met die geslagstaakspan van die NG Kerk, VG Kerk, CABSA, CLF en die Thursdays in Black-inisiatief, doen ’n beroep op gemeenskappe om deel te neem aan hul veldtog “Tree op en staan op teen geslagsgebaseerde geweld” gedurende die wêreldwye 16 Dae van Aktivisme, wat vanaf 25 November tot 10 Desember plaasvind. Vir meer inligting oor GGG, of as jy of iemand wat jy ken hulp nodig het, besoek www.badisa.org.za of stuur ’n e-pos na info@badisa.org.za 

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.