Op die orrelkas van die NG Gemeente Paulpietersburg staan die woorde van Psalm 33:3: “Sing vir Hom ’n nuwe lied.” Vir 91 jaar het eers San Wessels en toe haar kleinkind Beth Labuschagne gesorg dat dit met oorgawe in hierdie gemeente op Paulpietersburg gebeur, skryf Arnau van Wyngaard.
Daar waar die Pongolarivier die R33 tussen Piet Retief en Paulpietersburg kruis, kry jy ook die grens tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Op hierdie pad kry jy ’n swetterjoel Lutherse gemeentes met eg-Duitse name: Wittenberg, Luneburg, Augsburg en Braunschweig.
Vanweë hulle liefde vir musiek, spog elkeen van hierdie kerkgeboue ook met ’n pragtige pyporrel waar die musiek van Bach, Handel en Mendelssohn gereeld gehoor word.
En dan, ’n klompie kilometer verder, kry jy Paulpietersburg se NG gemeente, wat perfek inpas by hierdie kultuur van goeie kerkmusiek, met sy eie pragtige pyporrel.
Tant San Wessels was die gemeente se eerste orrelis, en sy het hierdie taak vir bykans 42 jaar verrig. In haar laaste jare voor die orrel het haar kleindogter, Beth Wessels, haar by geleentheid afgelos en uiteindelik die voltydse orrelis geword – ’n pos wat sy 49 jaar lank beklee het.

Waar soveel ander gemeentes hulle pyporrels verkoop of tot niet laat gaan het, het Paulpietersburg die besluit geneem om hulle orrel nie net te behou nie, maar ook in stand te hou. Die huidige pyporrel is die vierde orrel wat in die 114 jaar van die gemeente se bestaan in gebruik is.
Beth Wessels het intussen mev Beth Labuschagne geword. Saam het sy en haar ouma vir 91 jaar die gemeente op die orrel begelei. As ’n mens die jare bytel wat Beth ook afgelos het as orrelis, het sy en haar ouma vir 102 jaar lank gesorg vir die musiek in die gemeente.
Op Sondag, 19 Januarie 2025, het Beth afgetree. Op 79-jarige ouderdom het sy gevoel dat sy en haar man, Flip, meer tyd in die wildtuin en by hulle kinders wil spandeer.
Daar is letterlik op ’n hoë noot van haar afskeid geneem. Richard Prinsloo, ’n gemeenteseun, en Beth se eertydse leerling, is al die pad van Pretoria ingevoer waar hy die orrelis is in Monumentpark se gemeente. Sy solostukke het telkens spontane applous by die gemeente ontlok. Saam met hom het twee van die Duitse inwoners van die omgewing opgetree: Erhardt Niebuhr op die trompet, wat saam met Richard ’n meesterlike uitvoering van Marc-Antoine Charpentier se Prelude (Te Deum) gelewer het, en Siegrid Dedekind op die fluit.
- Dr Arnau van Wyngaard is predikant van die NG Gemeente Paulpietersburg. Stories oor kerkmense en gebeure is welkom – vir oorweging, e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.