Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

'n Onlangse terugblik na hoe kerkleiers en lidmate oor die jare besin het oor ’n formulier vir burgerlike verbintenisse, het gespruit uit Februariemaand se vorderingsverslag van die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake (Atlas). Foto's: Le Roux Schoeman.

Geen formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse: Afgevaardigdes kam saam deur ‘fokusmomente’ in besluitneming sedert 2019


Eers was daar ’n opdrag, toe nie, en nou … steeds nie.

Die mees onlangse voorstel dat werk gemaak word van ’n formulier vir selfdegeslagverbintenisse (SGV), het einde Februarie in Gauteng gelei tot toeligting deur die Algemene Taakspan Regte (ATR) oor die pad wat die NG Kerk sedert 2019 met die moontlikheid van só ’n teks loop.

Afgevaardigdes van al die NG Kerk se streeksinodes kon by die vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) saam kam deur ’n tydlyn van die afgelope sowat vyf jaar om oor die pad vorentoe te besluit.

Dr Dewyk Ungerer

LEES OOK | Ope brief spel op vooraand van Algemene Sinode beswaar uit oor ‘foute’ (Kerkbode-berig: 2023)

Die terugblik na hoe kerkleiers en lidmate oor die jare besin het oor ’n SGV-formulier, het gespruit uit Februariemaand se vorderingsverslag van die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake (Atlas). Twee ordemosies is ingedien in reaksie op die versoek in die verslag dat “die ASM dit oorweeg om (die opdrag oor ʼn SGV-formulier) te verwys na ʼn werkgroep vir die erediens vir die ontwikkeling van ʼn formulier.”

Die voorsitter, ds Jan Lubbe, het gereël dat bespreking gestaak word en op die laaste dag van die driedaagse vergadering hervat sal word. Dr Dewyk Ungerer het tydens die tweede rondte van gesprek namens die ATR ’n oorsig gebied van drie momente sedert afgevaardigdes by die Algemene Sinode in Oktober 2019 dit aan lede van Atlas opgedra het “om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag,” luidens die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings.

Ds Jan Lubbe

LEES OOK | ‘Klarigheid oor formulier’ (Kerkbode-berig: 2022)

By die sitting van die Algemene Sinode in 2019 is “bepaalde besluite geneem oor die ontwikkeling van ’n formulier,” het Ungerer verduidelik.

Hy het bygevoeg: “U ken daai besluit, ons het hom ook in ons kerkorde opgeneem.

“Die volgende fokusmoment was hier by die ASM in Mei 2022, toe Atlas saam met die ASM die saak bedink het rondom die ontwikkeling van so ’n formulier en op die ou end gesê het ons gaan bly by wáárdes (in teenstelling met ’n formulier – Red),” het Ungerer verduidelik.

Afgevaardigdes by die mees onlangse vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het tussen kapel, vergaderplek en selfs braaikamer roteer tydens ’n saamtrek wat oor drie dae heen in gemoedelike atmosfeer plaasgevind het.
Dié aanbeveling rondom die ontwikkeling van ’n SGV-formulier is by die jongste vergadering van die ASM goedgekeur.

“Die derde moment was 2023 se Algemene Sinode, waar die saak weer op die tafel was. En die Atlas-verslag, wat verslag gedoen het aan die Algemene Sinode dat ons nie verder ’n formulier gaan ontwikkel nie. Die verslag is hanteer by die sinode en toe was daar ’n voorstel dat ons tog maar teruggaan na die vorige opdrag dat daar ’n formulier ontwikkel moet word, maar dit is nie hanteer nie. So in die lig daarvan is daar nie ’n opdrag gegee nie,” het Ungerer verduidelik.

Beide ordemosies is met die tweede bespreking teruggetrek. Die aanbeveling deur die ATR is daarna deur afgevaardigdes aanvaar dat daar “nie tydens die Algemene Sinode 2023 ’n opdrag gegee is ten opsigte van die ontwikkeling van ’n formulier vir burgerlike verbintenisse (nie).” 

Atlas word saamgestel uit afgevaardigdes uit die 10 sinodes. Die voorsitter is dr Christo Benadé.


LEES OOK: NG Kerk in Namibië kyk na opsie om verband met Algemene Sinode ‘te herdefinieer’ wanneer sinode einde Maart plaasvind

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Geen formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse: Afgevaardigdes kam saam deur ‘fokusmomente’ in besluitneming sedert 2019”

  1. Johannes Smit

    Die lekker ding van opdrag gee, verslag opstel wat aandui daar moet nie ‘n formulier opgestel word nie, teruggaan na vorige opdrag vir ‘n formulier, besluit daars nie regtig opdrag gegee nie, en so voorts is dat mens dan vir ewig kan aanhou om die kwessie uit te stel sonder om regtig enigiets te doen. Dit hou die verantwoordelikheid vir moeilike besluite weg van die AS. Die enigste nadeel is dat lidmate sien wat aangaan en sal aanhou om die NG Kerk te verlaat totdat daar ware leierskap intree.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Ons kommentaarbeleid

Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.