Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ope brief spel op vooraand van Algemene Sinode beswaar uit oor ‘foute’

’n Formulier – nie net riglyne vir burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag nie …

Met 533 woorde en ’n regsopinie wys die skrywers van ’n “Ope Brief aan die Algemene Sinode van 2023” NG kerkleiers se verduideliking van die hand vir die wyse waarop dié ’n opdrag hanteer het.

“Die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het gefouteer deur nie uitvoering te gee aan die opdrag van die Algemene Sinode 2019 dat ’n formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse ontwikkel moet word nie,” luidens die brief. (Sien die brief hieronder, soos op 7 Oktober 2023 aan Kerkbode gestuur. – Red). 

“… en deur net liturgiese riglyne vir sodanige verbintenisse beskikbaar te wil stel, nagelaat om voldoende leiding aan kerkrade en bevestigers van sulke verbintenisse te gee.”

LEES OOK: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober

Die skrywe kom ’n week voor die sinode in Boksburg en is neergepen deur 11 van dieselfde 12 rolspelers wat die NG Kerk suksesvol hof toe gevat het om die 2016-besluit oor gay-verbintenisse tersyde te stel.

Waar die Algemene Sinode sedert 2019 deur ’n netwerk van sy gemeentes wat energiek kommunikeer, gekritiseer word dat die “huis” te ruim is, stel dié skrywers dit duidelik dat die huis nie ruim genoeg is nie. 

LEES OOK: Fokus op Algemene Sinode | Oor verslae, afgevaardigdes, misverstande en vreugde

“Die ASM huiwer steeds om onomwonde te erken dat die AS 2019 selfdegeslagverbintenisse prinsipieel aanvaar het deur predikante toe te laat om sulke verbintenisse te bevestig,” verduidelik die skrywers met verwysing na die kerkleiers se beklemtoning van die prosesmatigheid wat ingebak is by die einste besluit van Oktober 2019 wat onder meer lui: “Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.”

Verder word ’n onderskeid tussen ’n prosesbesluit en ’n prinsipiële besluit rondom die hantering van selfdegeslagverbintenisse in die NG Kerk ook deur die skrywers “foutief”genoem. “The purported distinction between ‘principled’ and ‘process’ decisions is contrived,” voeg Jeremy Gauntlett SC QC by in ’n regsmening wat die afgelope naweek ook as aanhegsel deur die ondertekenaars na Kerkbode gestuur is.

LEES OOK: Onderskeid tussen ‘prinsipiële’ en ‘proses’-besluit nie geldig – Frits Gaum

Waar is die formulier dan?

Die ASM sit, volgens die kerkorde, die werk voor van die Algemene Sinode, wat elke vier jaar vergader. In die terugvoerverslag oor hulle werksaamhede sedert die Algemene Sinode van 2019 verduidelik dié leierspan, onder voorsitterskap van ds Nelis Janse van Rensburg, as volg wat van die betrokke opdrag geword het: “Algemene Taakspan Leer- en Aktuele Sake (ATLAS) het aan die ASM terugvoer gegee na hulle besinning oor die uitvoerbaarheid van die opdrag van die Algemene Sinode. Hulle het eers advies ingewin by die Algemene Taakspan Regte (ATR) oor die betekenis van Artikel 48.2. Die artikel bepaal: ‘Die inrigting van die eredienste word deur die kerkraad vasgestel met gebruikmaking van die liturgiese grondlyne soos deur die Algemene Sinode vasgelê.’ Dit strook met die benadering van die huidige handleiding vir die erediens wat nie meer formuliere voorskryf vir liturgiese handelinge nie. ATLAS het in die lig van Artikel 48.2 van die Kerkorde tot die slotsom gekom dat dit korrek sou wees om in plaas van ’n formulier eerder riglyne of etiese merkers vir ’n formulier aan kerkrade beskikbaar te stel. Die ASM het, met inagneming van die ATR se advies, ATLAS se versoek ondersteun om nie ’n formulier te skryf nie, maar te volstaan met riglyne,” luidens die teruvoerverslag. 

LEES OOK: BY DIE ASM: Versoeningsvoorstel vir 16 Desember, klarigheid oor formulier, belangrike datums vir 2023 en konteks vir die 33% afname van voltydse predikantsposte

ATLAS het wel die afgelope vier jaar grondlyne of “etiese merkers” aangebied vir ’n formulier vir burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag. “Hierdie onderliggende beginsels kan denke rig by die opstel van ’n formulier, sonder om noodwendig net so in die formulier opgeneem te word,” luidens die ATLAS-verslag wat ook in die agenda van die Algemene Sinode 2023 vervat is. “Die taakspan het ook voorbeelde van formuliere versamel, wat op aanvraag beskikbaar is.”

Die brief bevat ook ’n pleidooi vir ’n “konkrete program van versoening en herstellende geregtigheid.” Dr Chris Jones, ’n teoloog aan die hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap aan Universiteit Stellenbosch, het by navraag meer hieroor gesê: “Die versoening wat ons in gedagte het, gaan veral daaroor dat mense in ’n versoenende gees hulle verskille oor hierdie saak moet hanteer. Ons werk met mense / medegelowiges. Ons moet almal ewe waardig hanteer. Hoe praat ons oor hulle? Hoe verwys ons na hulle … Wat herstellende geregtigheid betref, gaan dit oor gay persone / proponente wat in die verlede te na gekom is oor die kerk se besluite en hantering van sulke mense. Dit gaan dus nie net daaroor om verskoning te vra / jammer te sê nie, maar om daadwerklik iets vir sekere mense te doen,” aldus Jones.

Die ondertekenaars van die ope brief is Judith Kotzé, Pieter Oberholzer, Laurie Gaum, Lulani Vermeulen, Hennie Pienaar, Murray Coetzee, Hendrik Bosman, Nadia Marais, Leon Wessels, Frits Gaum en Chris Jones.

Reaksie op die brief

Ds Nelis Janse van Rensburg (middel), moderator van die Algemene Sinode, het by navraag vandeesweek as volg gereageer oor die ondertekenaars se stelling dat die Algemene Sinode Moderamen (ASM) “huiwer om onomwonde te erken dat die AS 2019 selfdegeslagverbintenisse prinsipieel aanvaar het deur predikante toe te laat om sulke verbintenisse te bevestig.” “Die ASM kan nie ’n ander besluit neem as die Algemene Sinode (AS) nie,” het Janse van Rensburg op 10 Oktober aan Kerkbode gesê. “Net die AS kan sy eie besluit verander”. Oor die AS se besluit (in 2019) het Janse van Rensburg gesê die vergadering het gesê hy “is vasgeloop”. “Hy (die AS) het nie ’n besluit ten gunste of teen selfdegeslagverbintenisse (SGV) geneem nie. Maar hy het ’n ander beginselbesluit geneem, naamlik dat gemeentes en ander kerkvergaderings wel hieroor kan besluit. As hulle die lig het om te besluit, laat hulle besluit. En dit het die keuse ingesluit om ook ten gunste te besluit van SGV.” Oor die stelling dat die ASM gefouteer het deur nie uitvoering te gee aan die opdrag van die AS 2019 dat ’n formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse ontwikkel moet word nie, het Janse van Rensburg gesê: “Ek kry die indruk dat hulle die verduideliking (deur die betrokke Taakspan en die ASM in sy verslag oor werksaamhede) nie aanvaarbaar vind nie”. Hy voeg by dat die ASM die kerkorde gevolg het. “Die doel van die riglyne is, omdat ons soveel diversiteit het, wil ons nie een enkelvoudige formulier skryf nie, want in verskillende situasies gaan dit verskillend benodig word,” volgens Janse van Rensburg, “en daarom is dié besluit in die kerkorde verwoord dat ons eerder riglyne gee.” Op die vraag of Janse van Rensburg gespanne is dat die NG Kerk weer in die hof mag beland en of die brief as ’n soort dreigement beleef kan word, het hy gesê: “Daar is altyd ’n moontlikheid dat ons kan terugbeland in die hof, dit is so. Wat jammer sal wees … Ek weet nie of die bedoeling (van die korrespondensie van die 11) was om ’n dreigement te wees nie, ek kan nie die bedoelinge van die briefskrywers bepaal nie. Dat dit die effek kan hê dat mense voel, ons word ’n bietjie onder druk geplaas daardeur … dit is so. En dit sal jammer wees (as die skrywe die) effek het dat mense versigtig is om hulle mening hieroor te gee … ’n mens wil graag ’n vrye ruimte skep, sonder dwang,” het Janse van Rensburg gesê. Oor sy breër verwagting van die vergadering sê Janse van Rensburg: “Ek sien geweldig uit na die sinode. ’n Sinode se sukses hang af van die werk wat hy vooraf gedoen het deur sy taakspanne. Daar is betekenisvolle verslae,” meen Janse van Rensburg. Hy sonder verslae oor teologiese opleiding, diakonaat en missionale roeping uit. “Die verslag oor Leer en Aktuele Sake (maak) ruimte vir baie goeie bespreking oor belangrike kwessies, so ek dink dit gaan ’n baie goeie vergadering wees waarin daar belangrike besluite geneem gaan woord met die oog op die funksionering van die kerk.”
Die brief beskryf die onderskeid tussen “proses-” en “prinsipiële” besluite as foutief en sluit ’n regsopinie in wat dit “contrived” noem. Kerkbode wou by dr Gustav Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, weet of dit ’n gesprek is wat by die AS voortgesit sal word? “Daar moet geen twyfel wees dat die besluite wat in 2019 geneem is op die korrekte kerkordelike wyse op die agenda sal kom en deeglik bespreek word,” het Claassen op 10 Oktober per e-pos aan Kerkbode gesê. “Uit van die verslae, beskrywingspunte en gravamina word daar ruim tyd afgestaan aan die bespreking hiervan. Uit die aard van die saak sal dit wat die ASM as ‘proses-’ en ‘prinsipiële’ besluite verstaan, ook ter sprake kom in die bespreking daarvan. Daar kan van kennis geneem word dat vanuit die gravamina daar bepaalde versoek(e) / aanbevelings gemaak word aangaande die 2019-besluit wat bespreek sal word.” Claassen het oor die rol van kerkrade bygevoeg: “In sy besluit van 2019 is dit duidelik dat die AS kerkrade en kuratoria aanmoedig om lidmate (en studente) in die ampte te bevestig ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en identiteit. Verder het die AS erkenning gegee aan die plaaslike gemeente se eie selfstandigheid en respekteer die AS kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem. Sedert 2019 word die AS vergadering so ingerig om maksimale deelname en interaksie van afgevaardigdes te verseker en om binne die modus van geloofsonderskeiding te soek na konsensus. Dit het meegebring dat die regmatige plek van kerkrade altyd in ag geneem word.”

OPE BRIEF AAN DIE AGEMENE SINODE VAN 2023 (AS2023)

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top