’n Formulier – nie net riglyne vir burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag nie …
Met 533 woorde en ’n regsopinie wys die skrywers van ’n “Ope Brief aan die Algemene Sinode van 2023” NG kerkleiers se verduideliking van die hand vir die wyse waarop dié ’n opdrag hanteer het.
“Die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het gefouteer deur nie uitvoering te gee aan die opdrag van die Algemene Sinode 2019 dat ’n formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse ontwikkel moet word nie,” luidens die brief. (Sien die brief hieronder, soos op 7 Oktober 2023 aan Kerkbode gestuur. – Red).
“… en deur net liturgiese riglyne vir sodanige verbintenisse beskikbaar te wil stel, nagelaat om voldoende leiding aan kerkrade en bevestigers van sulke verbintenisse te gee.”
LEES OOK: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober
Die skrywe kom ’n week voor die sinode in Boksburg en is neergepen deur 11 van dieselfde 12 rolspelers wat die NG Kerk suksesvol hof toe gevat het om die 2016-besluit oor gay-verbintenisse tersyde te stel.
Waar die Algemene Sinode sedert 2019 deur ’n netwerk van sy gemeentes wat energiek kommunikeer, gekritiseer word dat die “huis” te ruim is, stel dié skrywers dit duidelik dat die huis nie ruim genoeg is nie.
LEES OOK: Fokus op Algemene Sinode | Oor verslae, afgevaardigdes, misverstande en vreugde
“Die ASM huiwer steeds om onomwonde te erken dat die AS 2019 selfdegeslagverbintenisse prinsipieel aanvaar het deur predikante toe te laat om sulke verbintenisse te bevestig,” verduidelik die skrywers met verwysing na die kerkleiers se beklemtoning van die prosesmatigheid wat ingebak is by die einste besluit van Oktober 2019 wat onder meer lui: “Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.”
Verder word ’n onderskeid tussen ’n prosesbesluit en ’n prinsipiële besluit rondom die hantering van selfdegeslagverbintenisse in die NG Kerk ook deur die skrywers “foutief”genoem. “The purported distinction between ‘principled’ and ‘process’ decisions is contrived,” voeg Jeremy Gauntlett SC QC by in ’n regsmening wat die afgelope naweek ook as aanhegsel deur die ondertekenaars na Kerkbode gestuur is.
LEES OOK: Onderskeid tussen ‘prinsipiële’ en ‘proses’-besluit nie geldig – Frits Gaum
Waar is die formulier dan?
Die ASM sit, volgens die kerkorde, die werk voor van die Algemene Sinode, wat elke vier jaar vergader. In die terugvoerverslag oor hulle werksaamhede sedert die Algemene Sinode van 2019 verduidelik dié leierspan, onder voorsitterskap van ds Nelis Janse van Rensburg, as volg wat van die betrokke opdrag geword het: “Algemene Taakspan Leer- en Aktuele Sake (ATLAS) het aan die ASM terugvoer gegee na hulle besinning oor die uitvoerbaarheid van die opdrag van die Algemene Sinode. Hulle het eers advies ingewin by die Algemene Taakspan Regte (ATR) oor die betekenis van Artikel 48.2. Die artikel bepaal: ‘Die inrigting van die eredienste word deur die kerkraad vasgestel met gebruikmaking van die liturgiese grondlyne soos deur die Algemene Sinode vasgelê.’ Dit strook met die benadering van die huidige handleiding vir die erediens wat nie meer formuliere voorskryf vir liturgiese handelinge nie. ATLAS het in die lig van Artikel 48.2 van die Kerkorde tot die slotsom gekom dat dit korrek sou wees om in plaas van ’n formulier eerder riglyne of etiese merkers vir ’n formulier aan kerkrade beskikbaar te stel. Die ASM het, met inagneming van die ATR se advies, ATLAS se versoek ondersteun om nie ’n formulier te skryf nie, maar te volstaan met riglyne,” luidens die teruvoerverslag.
ATLAS het wel die afgelope vier jaar grondlyne of “etiese merkers” aangebied vir ’n formulier vir burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag. “Hierdie onderliggende beginsels kan denke rig by die opstel van ’n formulier, sonder om noodwendig net so in die formulier opgeneem te word,” luidens die ATLAS-verslag wat ook in die agenda van die Algemene Sinode 2023 vervat is. “Die taakspan het ook voorbeelde van formuliere versamel, wat op aanvraag beskikbaar is.”
Die brief bevat ook ’n pleidooi vir ’n “konkrete program van versoening en herstellende geregtigheid.” Dr Chris Jones, ’n teoloog aan die hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap aan Universiteit Stellenbosch, het by navraag meer hieroor gesê: “Die versoening wat ons in gedagte het, gaan veral daaroor dat mense in ’n versoenende gees hulle verskille oor hierdie saak moet hanteer. Ons werk met mense / medegelowiges. Ons moet almal ewe waardig hanteer. Hoe praat ons oor hulle? Hoe verwys ons na hulle … Wat herstellende geregtigheid betref, gaan dit oor gay persone / proponente wat in die verlede te na gekom is oor die kerk se besluite en hantering van sulke mense. Dit gaan dus nie net daaroor om verskoning te vra / jammer te sê nie, maar om daadwerklik iets vir sekere mense te doen,” aldus Jones.
Die ondertekenaars van die ope brief is Judith Kotzé, Pieter Oberholzer, Laurie Gaum, Lulani Vermeulen, Hennie Pienaar, Murray Coetzee, Hendrik Bosman, Nadia Marais, Leon Wessels, Frits Gaum en Chris Jones.
Reaksie op die brief


OPE BRIEF AAN DIE AGEMENE SINODE VAN 2023 (AS2023)
