Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

BRIEF: Onderskeid tussen ‘prinsipiële’ en ‘proses’-besluit nie geldig

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Frits Gaum van Durbanville skryf: Dit was met ’n gevoel van absolute verslaenheid – eintlik verbystering – dat ek in Kerkbode (Sien berig) gelees het dat die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) besluit het dat nié uitvoering gegee gaan word aan die Algemene Sinode 2019 se besluit dat die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake opdrag kry om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag nie.

Lees ook: Kerk se versoeningsboodskap in die gedrang?

Nee, het die ASM besluit, dit was nie ’n “prinsipiële” besluit ten gunste van selfdegeslagverbintenisse nie, maar ’n “proses-besluit” en proses-besluite hoef blykbaar nie uitgevoer te word nie. ’n Wonderlike nuwe onderskeiding wat die ASM na drie jaar uitgedink het (terwyl intussen blykbaar niks gedoen is om so ’n formulier te skryf nie)! So word van ’n – vir sommige – lastige besluit van die Algemene Sinode ontslae geraak. Amper nes ná die positiewe besluit oor selfdegeslagverbintenisse van 2015 wat deur die ASM op ys geplaas is. Dit het op die ou end ’n hofsaak gekos om dié besluit uit die yskas te kry.

Lees ook | Besluit: Selfdegeslag-verhoudings (2019)

Ek glo nie die onderskeid tussen “prinsipiële” en “proses”-besluite is geldig nie. Dit was tog ’n prinsipiële besluit van die sinode om in hierdie stadium oor dié saak “ruimte vir amal te skep om volgens hulle oortuiging op te tree”, om vir predikante wat hulle weg oopsien, toestemming te gee om gay-pare in burgerlike (of liefs trou-) verbintenisse te bevestig, en om ’n formulier te ontwikkel om sulke verbintenisse kerklik en dus in die naam van die Here te laat gebeur. Die ASM loop myns insiens op baie dun ys met hulle onderskeiding tussen soorte besluite en die nie-uitvoering van duidelike opdragte. En hulle help op dié manier om die gesag van die beleërde Algemene Sinode verder te ondermyn.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “BRIEF: Onderskeid tussen ‘prinsipiële’ en ‘proses’-besluit nie geldig”

  1. Gaum is ongelukkig reg. Algemene Sinode 2019 het wel bepaalde beginselbesluite geneem. Maar die 2019 besluit is ‘n brousel van prinsipiële en prosesmatige sake. Dit gebeur as daar besluite geneem word sonder dat behoorlike prosesse dit vooraf gaan, waarin Gaum self ‘n aandeel gehad het en nou die vrugte daarvan moet pluk. Wat Gaum egter nie noem, is dat die hofsaak ‘n nuliteit was omdat 2015 se besluit wat hy so aanprys op dieselfde gronde as die 2016 besluit tot niet gemaak is, maar sonder om daarvoor na die hof te hardloop. Dit kos nie groot moeite om te sê dat die 2019 besluit op dieselfde en ander gronde ‘n onwettige en onuitvoerbare besluit daargestel het. Dit is gevolglik ‘n mors van tyd om te kibbel oor die aard en toepassing van die 2019 besluit.

  2. Henrietta Klaasing

    Beskik die Algemene Sinodale Moderamen oor die mag om ‘n Algemene Sinode-besluit ter syde te stel?

  3. Die 2019 Algemene Sinode se besluit lees duidelik dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou gereken kan word as ‘n huwelik. Die verbintenis tussen mense van dieselfde geslag word duidelik ‘n burgerlike verbintenis genoem wat volgens my verstaan daarvan neerkom op ‘n kontrak tussen die twee persone waarvolgens hulle hulle lewe met mekaar wil deel. Aangesien die kerk dit nie as ‘n huwelik beskou nie, verstaan ek dat daar wel ‘n kontrak kan wees, maar tog nie ‘n formulier kan wees vir sodanige verbintenis nie. Dit staan seker enige leraar, wat bevoegdheid by Binnelandse Sake gekry het om so ‘n verbintenis te bekragtig, vry om sy eie form van “formulier” op te stel en voor te lees in samewerking met die twee wat hulle lewens met mekaar wil deel. Per slot van rekening bly die verbintenis in die eerste plek ‘n Binnelandse Sake aangeleentheid wat net deur die kerk hanteer word.

Comments are closed.

Scroll to Top